Pik Botha wil ook grondeis indien

Deel op

Nadat die Wysigingswet op die Herstel van Grondregte op 1 Julie in die Staatskoerant gepubliseer is, kan Suid-Afrikaners nog vir vyf jaar, tot 30 Junie 2019, grondeise indien.

Dit geld ook vir blanke boere wie se grond kragtens die tuislandkonsolidasieproses onteien is. Oudminister Pik Botha oorweeg dit sterk om insgelyks ‘n grondeis in te dien, want sy ma se plaas in Noordwes is destyds deur die Nasionale regering by Bophutatswana ingedeel sonder dat markverwante vergoeding betaal is.

Volgens ‘n gesprek wat Botha met Beeld gevoer het, het sy ouers “‘n appel en ‘n ei gekry vir die pragplaas in Noordwes wat deur die regering onteien is om in Boputhatswana te val”. Botha se moeder het die plaas van sy oupagrootjie, Thomas Frederik Dreyer, geërf. Dreyer het ‘n rol gespeel by die oprigting van die Gereformeerde Kerk in 1859 en was ook volksraadslid en ‘n vriend van pres. Paul Kruger. Die plaas was van 1840 af in die Botha-Dreyer-familie, waarna dit aan Bophutatswana oorgedra is.

Tydens die vorige tydperk vir grondeise, wat op 31 Desember 1998 verstryk het, wou die departement van grondsake nie eise deur blanke eienaars oorweeg nie omdat die departement glo gesê het dat hulle “aan ‘n bevoorregte rassegroep behoort”.

Dié keer is dit egter anders omdat boere hulle na die Grondwethof sou kon wend indien daar weereens teen hulle gediskrimineer sou word. Vanaf 1936, maar ook tydens die tuislandkonsolidasieproses, is miljoene hektaar grond van blanke boere aangekoop of onteien en aan swartes oorgedra. Ironies kan dieselfde wetgewing wat ingestel is om nóg grond aan swartes oor te dra nou gebruik word om van daardie grond wat in die verlede aan blankes behoort het, terug te kry.

Die grondeisehof in Randburg het reeds in die saak van ‘n blanke boer uit die Oos-Kaap, Ivor Leroy Phillips, beslis dat blankes nie van die reg op ‘n grondeis uitgesluit mag word nie. Die departement van grondeise het gepoog om teen dié beslissing na die Grondwethof te appelleer, maar die hof het in 2014 verlof tot appèl geweier, dus kan dié saak as ‘n presedent beskou word.

In getuienis voor die grondeisehof in Randburg het ‘n voormalige amptenaar van die NP-regering, Hendrick Schalk Pienaar, getuig dat daar van “boelietaktiek” gebruikgemaak is om blanke boere van hul plase te ontneem ten einde die TBVC-state te vergroot.

Die huidige ronde grondeise verteenwoordig die vierde keer in die geskiedenis dat blanke grond aan swartes uitgedeel word. Die vorige kere was 1936, die tuislandkonsolidasieproses en 1994-1998.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.