Kultuur: Ons derdewêreldmeesters verarm ons geestelik

Deel op

deur Karel Combrinck

Daar is die afgelope tyd heelwat opmerkings gemaak en kommentaar gelewer op Praag oor kultuur en by name die Afrikaanse kultuur,  wat my noop om ook iets oor die onderwerp by te voeg.

Die voedingsbronne van die Afrikaanse kultuur is velerlei. Van Nederland, Duitsland, Frankryk en Engeland het ons letterkunde, musiek, ballet en die beeldende kunste. Ook ons regstelsel ( deel van ons kultuurerfenis) is van Europese oorsprong en in groot mate so  ook ons taal. In Suid-Afrika self het ons hierdie invloede oor die jare aangepas en so ons eie kenmerkende taal, letterkunde, argitektuur en skilderkuns gevestig. Ten slotte is daar ook die onmiskenbare bydrae van mense van Oosterse afkoms en hulle Kleurlingafstammelinge wat insgelyks ‘n  waardevolle inset tot ons kookkuns, ons taal en ons volksmusiek gelewer het.

Maar nou vireers, wat is kultuur presies? Kultuur is ‘n moelike begrip om te omskryf. Die rede is dat die woord alles omvattend is. Dis natuurlik, om mee te begin,  die dinge hierbo genoem.  Maar dis ook veel meer. Die Amerikaans/Engelse skrywer en digter T.S Eliot het dit so probeer omskryf: “Culture may be described simply as that which makes life worth while”. Toegegee, dis taamlik vaag, maar die basiese idee is daar: Kultuur maak die lewe die moeite werd. Kom ons draai dit om en sê, alles wat die lewe die moeite werd maak, is kultuur. Nog nie die volle waarheid nie, maar darem ‘n entjie op pad daarheen.

Baie samelewings van die sg “onluikende wêreld” (emerging world) verwerp die Westerse kultuur skynbaar voor die voet, omrede die verbintenis daarvan met werklike of vermeende onregte van die verlede. Ek gebruik die woord “skynbaar” want hulle verwerp tog nie die  Westerse kultuur in sy geheel  nie. Hulle verwerp net die aspekte daarvan wat hulle as minder “nuttig” beskou en “nuttig” dui op dié bates wat vir hulle finansiële voordele inhou. Die aspekte wat hulle verwerp, is egter juis die mees waardevolle elemente, dié wat die lewe die moeite werd maak. Om dié rede weerhou hulle dan ook finansies (ons belastings) van  operahuise, simfonie-orkeste en teaters. Terselfdertyd is hulle blind daarvoor dat Mercedes-Benze, private vliegtuie en sokker ook Westerse kultuurwaardes is, hoewel nie die hoogste nie. En dan is daar natuurlik die Engelse taal, ook ‘n Westerse kultuurbesit en een waarvoor hulle veral ‘n voorliefde het.

Die uiteindelike doel met dit alles is uiteraard om die siel van die witman ‘n dolksteek toe te dien wat van hom ‘n houtpop sal maak wat vir niks anders goed is nie as om belastings te betaal.

En nou wat van die kosbare demokrasie? Is die demokrasie nie ook ‘n kulturele waarde van Westerse oorsprong nie?  Maar dié aanbid hulle wel. En daarvoor is daar ook ‘n rede. Die Demokrasie berus op koppe tel en bied naamlik by uitstek die geleentheid aan die verteenwoordigers van die massas om mag te gryp en hulleself te verryk. Die wese van die demokrasie, soos dit in ontwikkelde lande beoefen word, is dat een regering maklik deur ‘n ander vervang kan word en in Westerse lande gebeur dit dan ook gereeld. Maar wat is die  kanse om bv ‘n ANC-regering in Suid-Afrika met ‘n ander te vervang? Net mooi  nul. Vandaar dan ook die ou gesegde: “Een mens een stem, een keer.” Vir derdewêreld-samelewings soos dié in Suid-Afrika is die Westerse beskawing ‘n soort supermark waar hulle kan uitsoek wat vir hulle van die grootse (materiële) nut is,  d.w.s van nut hoofsaaklik  vir die vetkat-elite. En hierin word hulle natuurlik kopskuddend beaam deur al wat links en liberaal is in Europa en Amerika.

Maar nou moet ons ook erken dat die Westerse beskawing nie sonder sy snert en rommel ook is nie. In  sy aanvaardingstoespraak van die Nobelprys in  1970 het Aleksandr Solsjitnitsin dit só betreur:

“But should someone ask me whether I would indicate the West, such as it is today, as a model to my country, I should have to answer  no. I could not recommend your society in its present state as an ideal for the transformation of ours. The Western system in its present state of spiritual exhaustion  does not attract us. After the suffering of decades of violence and oppresion, the human soul longs for things higher, warmer and purer than those offered by today’s Western mass habits, the revolting invasion of publicity, by television  and intolerable music.”

Die Westerse beskawing en kultuur is duidelik besig om te verval en die verval hou regstreeks verband met die opkoms van die massa-ideologieë van egalitarisme, sosialisme en die demokrasie.  Van die dermiljoene toeriste wat Europa jaarliks besoek (sestig miljoen in Frankryk alleen), hoeveel doen dit ten einde die meesterwerke van die demokrasie te bewonder? Want meesterstukke van die demokrasie is daar nie. Dat die demokrasie tog ook bepaalde voordele inhou,  is seker waar, maar kulturele en  artistieke prestasies is beslis nie deel daarvan nie.

Watter droewiger beeld van die leegheid en bankrotskap van die Westerse beskawing kan  daar wees as elke tweede model en filmster wat blakend van grimering op die voorblad van glanstydskrifte verskyn teen ‘n agtergrond van swart lywe, dikwels kinders, onder die goedkoop  voorwendsel van die een of ander filantropiese besorgdheid oor die minder bevoorregtes? Dít, terwyl die ware oogmerk  niks anders is nie as om hulle loopbane te bevorder, publisiteit te soek en geld te maak vir  hulle mode-ontwerpers en hulleself. ‘n Siniese choreografie van gierigheid en vulgariteit.

Tog bly die feit dat die Westerse beskawing Mozart opgelewer het en Bach en Beethoven en Da Vinci en Michelangelo en Rembrandt en Goethe en nog vele, vele, meer. Liewer dan maar goed en sleg produseer as absoluut niks. Want ‘n mens sou tog nie die toi-toi en die woewoezela as waardevolle kultuurbydraes wou reken nie. Om die groot prestasies van die Westerse kultuur in die afvaldrom te wil gooi, soos ons derdewêreld-meesters doen, is pynlik kortsigtig en bring geestelike verarming oor ons almal.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.