Boerehaat is ‘n kunsmatige konstruk

Deel op

Deur Jan Viljoen.

Ek sit baie keer en wonder hoekom dinge is soos wat dit is. Ek praat nie hier van hoe ons in die situasie gekom het waarin ons nou is nie, dit is redelik goed gedokumenteer en bepraat. Ek praat van hoe ons in die situasie gekom het dat die blote sing van Die Stem vir party van ons so baie beteken dat dit trane in ons oë bring terwyl ander in dieselfde groep, van dieselfde agtergrond, Afrikaners almal van hulle, ‘n breinaneurisme wil kry. Hoekom is daar so ‘n groot verskil tussen een Afrikaner en ‘n ander? Ek wil nie eintlik die ander as Afrikaners erken nie, maar sal dit noodgedwonge moet doen want hulle was saam met ons op skool, miskien in die kerk, of in die weermag, praat dieselfde taal en kom uit Afrikaanse families uit. Afrikaners dus. Maar hoekom haat hierdie miniskule groepie pseudo-swartes die Afrikaanse kultuur met so ‘n passie en hoekom steur ons onsself aan hulle? Sommige wil nie meer Afrikaners wees nie, hulle sê self so, of hulle uiter gewoonlik dan die ge-ykte “…jy praat nie namens my nie..” retoriek. Asof almal namens almal wil praat. Tipiese papegaaiwoorde en internasionale gonswoorde. Hoekom dink ons almal nie dieselfde nie want is is dan tog almal Afrikaners? En anders as baie mense dink ek nie dit het iets te doen met die feit dat sommige van ons Duitse bloed, of Hollandse bloed of Franse bloed of selfs Engelse bloed het nie. Ek dink die oorsaak is baie meer kunsmatig as wat dit in ons gene is.

Maar ek gaan nie sê dat ek die antwoord het nie, en ek is ook nie ‘n sielkundige nie. En glo asseblief dat hierdie nie ‘n eureka oomblik is nie, dit is ‘n stadige gewaarwording wat al lankal terug begin het. Dit was ‘n stadige gewaarwording omdat die realiteit wat teen ons ontvou, ook ‘n stadige en stelselmatige proses is. Hierdie mymeringe van my is ook nie ‘n wetenskaplik nagevorsde studie nie, dis bloot die worstelinge van ‘n gewone en gemiddelde Afrikaanse man wat graag die enigma van wat die Afrikaner geword het, beter wil probeer verstaan.

So agt maande terug, onder die Daspoort-draad het ek iets oor die term “learned helplessness” gesê, en ek wou nog altyd graag daarop uitbrei. Die term, wat wel ‘n aanvaarde en wetenskaplik nagevorsde term is, beteken bloot dat as iets onaangenaams lank genoeg met iemand gebeur en al die pogings wat hy of sy probeer aanwend het om die situasie te verander dan nie gewerk het nie, mense hulle dan maar by die situasie berus. Maar die probleem gaan dieper, en dit is dat hoe langer mense hulle by die situasie berus, hoe moeiliker raak dit om die mense weer tot besef te bring dat daar iets is wat gedoen kan word om die situasie te verander. Hulle het hulpeloosheid aangeleer, ‘n gevoel dat watookal hulle probeer doen het, nie gehelp het nie, en dat niks dus kan gebeur om die situasie te verander nie. En dit strek selfs dieper. Wanneer hulle dieselfde hulpeloosheid by die een langs hom en die een oorkant hom opmerk, versterk dit die gevoel dat die situasie onredbaar geword het en dat dit beter sal wees om te berus en om maar net vorentoe te probeer spartel. In die weermag sou dit tipies “moraal” genoem gewees het, maar in die privaatlewe hou dit vir langer aan, die aanloop daarnatoe is stadiger en minder opsigtelik en die uitwerking daarvan manifesteer in ‘n soort angsdepressie. Elke ou veg vir sy eie oorlewing teen ‘n oormag en omstandighede wat hy nie werklik kan definieer nie. Hulle hou egter nie op om te hoop dat die situasie dalk mag verander nie, maar niemand het die moed van hulle oortuiging om die een te wees wat eerste iets wil probeer nie. Almal begin rondkyk vir ‘n leier wat maar net nie wil opdaag nie en enige iets wat dan naastenby soos ‘n leier lyk of optree word in verskillende rigtings in gevolg. Dit het weer tot gevolg dat my leier beter as jou leier is en dat my beweging meer waarde as jou beweging het, want mense is in wese tropdiere en wil aan groepe behoort. Dit het ook tot gevolg dat dit eintlik baie maklik is vir hierdie sogenaamde leiers om enigeiets aan hulle volgelinge te belowe of wys te maak, en dat hulle hom goedsmoeds sal glo en volg en selfs sal verdedig, al weet die ander van ons dat hulle op ‘n dwaalspoor gelei word. Hierdie sogenaamde leiers is later nie meer leiers nie, maar verleiers, sonder dat die skape in sy trop dit agterkom. En hulle sal hom nog steeds verdedig, want dit is hulle s’n. Dit raak later so ‘n deurmekaarspul dat dit lagwekkend maklik is om goeie leiers verdag te maak, om vals leiers te skep en legitimiteit en vertrouenswaardigheid rondom so leier te weef, om volgelinge teen mekaar af te speel, om ideologieë uit te dink, om groepe en teengroepe te stig of om mekaar op openbare platforms sleg te sê en te beledig. Kortliks, die illusie word geskep dat ‘n groep nie meer kohesie het nie en nie kan saamstaan nie. Die leuen is dan volmaak, dat ‘n volk uit verskillende groeperinge bestaan wat nie met mekaar oor die weg kan kom nie, oor hierdie of daardie opgemaakte rede. En wanneer daardie illusie eers geskep is en posgevat het, is ‘n groep vinnig besig om te wankel. Ons dink dat dit ‘n Amerikaanse President is wat hierdie waar woorde ge-uiter het, maar dit is eintlik wat in Markus 3 vers 24 staan: “En as ‘n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie.” Die vyand poog elke dag, deur massabreinspoeling, om hierdie illusie van ‘n volk wat teen homself gedraai het, verder in ons psige vas te sement, en erger nog, sommige van ons glo dit al tot so ‘n mate dat ons dit self sê. Ons het ons nie net berus by die hulpelose stand van sake nie, ons is so gekondisioneer dat ons die leuens self verkondig, omdat almal anders so dink.

Verder is daar nog ‘n interessante verskynsel wat bydraend tot hierdie hele situasie is en dit is die feit dat mense hulle nie net berus nie, maar die vyand begin verafgod. Hulle kan nie meer die vyand sien vir wat hy werklik is nie. Dit is ook ‘n erkende en gedokumenteerde wetenskaplike term en word die Stockholmsindroom genoem. Dit beteken gewoonweg dat wanneer die staat van berusting so erg geraak het en wanneer die graad van wreedheid en genadeloosheid teen die slagoffer so fel geraak het, dat wanneer daar afwesigheid van geweld is, dit deur daardie slagoffer as ‘n daad van genade en welwillendheid gesien word. Die slagoffer word so getraumatiseer deur wat rondom hom aangaan dat wanneer die vyand hom enige aandag gee, hoe gering ook al, soos om hom die minste of basieste erkenning te gee, die vyand dus as genadig en welwillend gesien word en gevolglik uit dankbaarheid verafgod word. Hy sal selfs sy medeslagoffers tot verantwoording roep en teregwys, as hy voel dat sy medeslagoffers besig is om die vyand kwaad te maak. Het ons nie al hoeveel keer gehoor hoe dankbaar ons teenoor die Naspers-god, “Madiba” moet wees omdat hy nie toegelaat het dat sy volgelinge ons op die wreedaardigste wyses uitgemoor het nie. So asof ons totaal weerloos teen hierdie vloedgolf staan. ‘n ander Voorbeeld is die voorval waarin ‘n taxibestuurder die ritfooi van ‘n arm student weggewys het, en selfs vir hom R10.00 gegee het omdat hy vir sy eerste werksonderhoud oppad was en hy nie genoeg geld gehad het nie. Dit het die hele internet aan die gons. Ons sien nie die absurde agter die situasie in nie. Omdat ons so gewoond is aan die gedurige barbaarse optrede van taxibestuurders, neem dit slegs een redelike gemiddelde goeie daad om daardie taxibestuurder op te hemel en hom te prys vir sy “barmhartigheid”. Dis die Stockholm sindroom en ons is al so gekondisioneer dat die geringste daad van menslikheid word as ‘n wonderwerk beskou en die persoon wat die daad van menslikheid gepleeg het word as ‘n held opgehemel. Menslikheid, behulpsaamheid en respek is veronderstel om die norm te wees, maar ons beleef dit as die uitsondering wat besing moet word.

Dan is daar die Engelse woord “attrition”, wat eintlik nie ‘n regte Afrikaanse woord het nie. Die Engels-Afrikaanse woordeboek vertaal dit as “afskuring”, “berou” en “wrywing” maar in die konteks “war of attrition” beteken dit eintlik om jou vyand se moraal af te breek, om sy logistiek te ontwrig en om sy reserwes uit te put, en om die vyand een vir een uit te dun wanneer die geleentheid hom voordoen. Dit is ‘n stadige oorlog van getalle want die een wat die meeste het hou gewoonlik die langste uit. Soos hoedat ongeveer 5 miljoen blankes teen 45 miljoen swartes moet uithou terwyl die blankes se reserwes nie net uitgeput raak nie maar fisies teen hulle aangewend word, hoedat blankes moet veg om kop bo water te hou terwyl BEE die swartes bevoordeel, hoedat 15% van die belastingbetalers 85% van die res moet onderhou, hoedat die blankes elke dag van voor af boetedoening moet doen om hulle daaraan te herinner hoe sleg hulle is, hoedat die bietjie wat die blankes later nog gaan oorhê onder die swart elite verdeel moet word, hoedat hulle taal, kultuur en erfenis vermors, gesteel, misken en verkrag word, hoedat die swart put waarin alles verdwyn skynbaar net nie versadig kan word nie maar eerder om meer en meer skreeu en hoedat meelopers, verraaiers, rugstekers en jingoes, sy eie mense, teen homself gebruik word. Hoedat blankes in klein en relatiewe weerlose groepies een vir een uitgemoor word. Dit is “attrition”. Daar kan nog baie oor “attrition” gesê word, maar ons sal eers daarby volstaan.

Tussen hierdie drie kunsmatig geskepte omstandighede, en die uitvloeisels daarvan, moet die Afrikaner homself begin bewapen en soos altyd is die eerste stap dat ons moet weet wat besig is om met ons te gebeur. Ten eerste moet ons rondom ons kyk en besef dat ons in abnormale omstandighede verkeer. Dan moet ons onself begin oortuig dat ons iets aan hierdie omstandighede kan doen, en ons moet ‘n padkaart, van waar ons tans is tot waar ons wil wees, uitstippel. Die laaste stap is moue oprol en die eerste tree gee. Hierdie eerste tree gaan ‘n redelike sprong van geloof wees, maar as ons padkaart reg is gaan die eerste tree ons op die regte pad kry. Die meeste van ons wil net Sewende Laan kyk en probeer om elke dag op ‘n manier te oorleef wat die minste traumaties is. Sommige het ‘n vae idee wat aangaan, maar kan dit nie verwoord of verstaan nie, sommige kan dit sien en verwoord maar kan nie die vyand identifiseer nie. Sommige kan dit sien en ook die vyand uitken maar weet nie wat om te doen nie. Sommige van ons kan dit sien, die vyand herken en weet ook wat om te doen maar die volgelinge ontbreek want hulle kyk rugby. Intussen wag ons almal vir die man in bruin klere om ons uit hierdie situasie te kom red, maar as ons nie weet wie die man in bruin klere is nie, is enige man in bruin klere goed genoeg.

Wat ek hierbo gesê het is eintlik net ‘n vereenvoudigde opsomming van onderwerpe wat eintlik ‘n hele boek kan beslaan, maar daar is sekere punte hierbo waarby ons kan stilstaan.

Ten eerste is die leierskwessie waarin die Afrikaner hom bevind. Ons is ‘n volk wat uitstekende leiers opgelewer het, wat altyd op die regte oomblik met die regte temperament op die toneel verskyn het om ‘n dwarstrekkerige groep in een gedugte volk kon mobiliseer. Keer op keer. Maar om een of ander manier wil die leier hierdie keer maar net nie te voorskyn kom nie, om die waarheid te sê, die leiers wat wel tot voorskyn gekom het, was juis die persone wat ons al verder en verder in die verdoemenis ingelei het, met opset. Hierdie was dus nie leiers nie maar verleiers wat spesifiek so geplaas is dat ons hulle moes volg. Dink daaraan. Die laaste groot Afrikanerleier wat die volk tot ongekende hoogtes gelei het was Verwoerd, en dit was in die begin toe ons nog ‘n relatiewe jong volk was en toe demokrasie nog ‘n relatiewe nuwe ding was. Demokrasie was op daardie stadium ‘n edel ding, ‘n eerlike proses wat daarin geslaag het om ware leiers te produseer. Leiers wat vir die mense gewerk het. Vandag se demokratiese proses is ‘n proses wat deur geldmagte en magshonger megalomaniakke bedryf word. Demokrasie word nie meer deur die mense bedryf en bestuur nie. Demokrasie word deur politici vir politici bedryf, en is ‘n illusie wat geskep is vir die uitsluitelike doel om ‘n groep marionette in beheer te kry wat met algaande meer en meer geweld oor die mense kan regeer terwyl die land en sy mense geplunder word. Die mense het ‘n skynrol daarin, en dit is om ‘n kruisie te gaan trek. Die kruisie is nie die papier werd waarop dit getrek word nie, en die persoon wat op die ende van die dag as die nuwe heerser aangestel word is nie die persoon wat die meeste kruisies gekry het nie, maar dit is die persoon vir wie die meeste kruisies getel is. Politiek gaan nie oor hoeveel kruisies getrek word nie, politiek gaan oor goeveel kruisies getel word. Demokrasie is deesdae ‘n proses om die nuwe heersersklas aan te wys, om ‘n nuwe groep trogvarke aan te stel wat die wil en giere van hulle base moet uitvoer. Hulle werk nie meer vir die mense nie, die mense is die stemvee, die onderdane wat bekamp en vreesagtig op hulle plek gehou moet word, met verskillende tipes staatsmasjinerie wat spesiaal in die lewe geroep is om die mense te beheer. Waarom moet politici hordes en hordes kneukelslepers om hulle vergader om hulle veilig te hou? Hoekom moet hulle beskerm word teen die mense vir wie hulle veronderstel is om te dien? Dit wys mos dat daar iets met die demokrasie verkeerd is wanner ‘n groep selfaangestelde egomaniakke wat meer bekommerd is oor die pag, statuur en geld wat met die posisie kom, as wat hulle bekommerd is om die land namens sy inwoners te wil bestuur. Ek het ‘n absolute wrewel met enige-iets wat hom of haarself ‘n politikus noem en ek het ook ‘n absolute wrewel met ‘n demokrasie wat so verander het dat dit nie meer tot voordeel van die mense is nie, maar slegs ten doel het om die mense onbewus en aan die slaap te hou sodat die heersersklas al meer en meer vir hulleself kan inpalm, en totaal nie-aanspreeklik teenoor enige wet, reël of sosiale norm, willens en wetens te kere kan gaan asof die land en sy mense hulle persoonlike eindom is en asof die rykdomme van die land hulle eie persoonlike beursie is. Ons sogenaamde leiers het ons lankal gefaal, en ons werk vir hulle, hulle werk nie vir ons nie. Die proses is nie meer die edel proses wat daarop gemik is om die beste leiers aan te stel nie, maar word in donker gange en agtervertrekke bekonkel en beheer.

Die Afrikaner het nog meer probleme wanneer dit by politiekery kom en ons situasie word deur verskillende faktore nog verder gekompliseer. Die oormag wat aan die skynproses van demokrasie in Suid Afrika deelneem, het nie die heil van die Afrikaner of selfs die blanke op die hart nie. Om die waarheid te sê hierdie selfde skyndemokrasie word juis gebruik om die Afrikaner tot ‘n derderangse slaafklas toe te reduseer, en dieselfde skyndemokrasie is juis dit wat gebruik word om die Afrikaner totaal van al sy bates te stroop. Om die situasie nog verder te kompliseeer wil die leiers maar net te voorskyn kom nie en dit is miskien waar die kruks van die probleem lê. Die omstandighede is met opset so geskep dat leiers nie te voorskyn kan kom nie, want daar is baie spesifieke masjinerie in plek wat dit onmoontlik maak vir die Afrikaner om ‘n leier te produseer. O, daar is leiers, en dit is waar die probleem is, daar is te veel verleiers wat opgestel en op die voorgrond geskuif word, en ander ware leiers wat afgebreek en verdag gemaak word, met die gevolg is dat groepe agter een leier aanstap en ander groepe volg weer ander leiers. Maar daar bestaan vandag, nou, in Suid Afrika een leier, een spesiale leier wat in die bestek van een dag al die Afrikaners in die land kan mobiliseer en van die Afrikaner so ‘n gedugte mag maak sodat alles wat verloor is, aansien, bates, kultuur, regte, skole, kerke, grond, banke, universiteite en alles maar alles wat al verloor is, weer binne ‘n kort tydjie teruggekry kan word. Maar hierdie is ‘n verleier en nie ‘n ware Afrikaner leier nie, en alhoewel baie Afrikaners al deur hierdie verleier se verraad gesien het, is daar nog baie Afrikaners wat agter hierdie verleier aanloop asof hy al die antwoorde het en asof hy die Afrikaner se heil op die hart dra.

Gestel daar verskyn more, groot, hoofopskrif op elke voorblad wat Naspers tot sy beskikking het, die woorde, “Afrikaners staan saam en verrys uit die omstandighede. Tot hiertoe en nie verder nie!” As ons dink dat die sing van die Stem soveel waarde het om Afrikaners byeen te bring, dink ‘n bietjie hoe ‘n nasionale oproep tot hereniging en volkstrots, die Afrikaner weer sal kan saamsnoer. Maar Naspers is nie ‘n Afrikanerbate nie. Naspers het dit juis ten doel om te keer dat daar leiers opstaan. Naspers se opdrag is om regte Afrikanerleiers verdag te maak, af te kraak en in die oë van die mense te verkarikatuur. Naspers se enigste doel is om Afrikaners se menings vir hulle te vorm, om namens hulle te dink, om hulle te breinspoel in ander woorde en Tim du Plessis het dit self gesê. Omdat daar dus nie meer Afrikanerleiers vorendag kan kom nie, is Naspers heel gemaklik nou die de facto Afrikanerleier. Hulle lei en die volk trek soos in Hamelin agter die fluitspeler aan, reguit na hulle einde toe. Naspers behoort nie meer aan die Afrikaner nie, dit behoort aan ‘n groep volksvreemdes en banke wat glad geen behae daarin het dat die Afrikaner ‘n sterk en patriotiese groep moet wees nie. Hulle uiteindelike doel is om die Afrikaner te laat verdwyn sodat daar nie meer teenkanting teen ‘n totale verval van alles wat beskaaf is, in die land moet wees nie. Slegs wanneer Suid Afrika tot ‘n mishoop van ellende verval het kan die geldmagte ingryp om Suid Afrika van homself te “red”, maar die Afrikaner klou halstarrig vas aan dit wat hy van sy voorgeslagte geërf het. Dit is hoekom die sing van die Stem vir hierdie verleier so ‘n groot onding is, want dit is alweer ‘n paar stappe terug. Die Naspers media in al sy vorme is getaak om die wig tussen die Afrikaners te wees, hulle grootste aanwending is om die Afrikaner snoesig warm en min of meer gelukkig te hou met ‘n verdraaiing van die ware feite terwyl hulle in dieselfde aksie die grafte in die agtergrond grawe. Dit is juis hoekom die klein groepie verraaiers, anti-Afrikaners, volksvreemdes, daggakoppe en alkoholiste, swakkes van gees en inbors, pseudo-intellektuele en agent provocateurs soveel aandag en spasie in die koerante geniet. Elke keer dieselfde name, amper sonder uitsondering. Die hele proses is al so voorspelbaar. Die oomblik wanneer daar ‘n tikkie van volkstrots, Afrikaner-ambisie of saamstaan getoon word, is dit ‘n dolk in die hart van Naspers want dit is grond wat weer van voor af teruggewen moet word. Die antwoord is eenvoudig. Naspers en al sy werfbobbejane moet van hulle weë afsien en die Afrikaanse media moet weer ‘n Afrikanerinstelling word. As dit nie kan gebeur nie, moet die Afrikaner vir homself alternatiewe media begin kry. Die geld is daar. Dink net hoeveel lisensies, belastings, toegewings, gelde en lidmaatskappe, kostes en ander finansiële uitgawes deur Afrikaners in die swart gat wat Suid Afrika geword het, ingestort word, sonder om die voordeel daarvan te kry. Ons betaal deur ons nek vir alles sonder dat daardie geld vir en namens ons aangewend word. Ons eie sweet, arbeid, bloed en bates word teen ons aangewend. Ons betaal vir ons eie ondergang omdat die sisteem so opgestel is. Praag begin nou om ‘n veldtog te loods om televisielisensies terug te hou en dis ‘n goeie ding want die televisie kan niks meer van waarde vir die Afrikaner bied nie. Alles is in elk geval op die internet verkrygbaar, sonder die SAUK-propaganda.

Maar die Afrikaner is in wese ‘n wetsgehoorsame tipe en ek gaan egter nie my asem ophou om te sien hoeveel mense gehoor gaan gee aan die oproep nie, maar dit is nie die punt nie. Wat vandag ‘n wankelrige begin is, raak mettertyd ‘n rots wat teen ‘n berg afstorm. Ek lees soms kommentare van die swakkes van inbors oor hoe hulle skoolgaan gehaat het omdat die stelsel skynbaar te manlik, te wit, te Calvyns, te Christelik, te streng en sommer te alles was, wat daardie arme ellendeling se “vrye denke” en “kreatiwiteit” gesmoor het. En dit is skynbaar hoekom hulle vandag so ellendiglik minder vry kan dink of so min kreatiwiteit oor het. En dit is ook hoekom hulle vandag so erg anti alles is wat die Afrikaner skynbaar voorstaan, soos gehoorsaamheid, wet en orde, volkstrots, konserwatisme, inkennigheid, stemmigheid en al daai eienskappe wat van ‘n Afrikaner ‘n Afrikaner maak. Ek het nuus vir hierdie mense. Jy is nie vandag anti-Afrikaans as gevolg van jou skoolgaanjare nie, maar ten spyte daarvan. Jy kan nie vry dink of meer kreatief wees nie, want jy het nooit daardie eienskappe gehad nie, en as iemand dan die gevolg moet dra vir jou gebrek aan inbors of goeie eienskappe dan is die kerk en die skool waaraan jy onderwerp was, seker maar gemaklike swartskape. Daar is nie ‘n meer kreatiewe wese as ‘n regte Afrikaner nie, dink maar aan die gesegde van “’n Boer maak ‘n plan”. Daar is ook nie ‘n meer “buite die boks” denker as ‘n Afrikaner nie, dink maar net aan hoe Afrikaners al die boikotte teen hulle oorkom het deur alternatiewe planne te maak , soveel so dat hulle teen die wêreld in leiers op verskillende gebiede geraak het. Afrikaners is in wese iemand wat ‘n sterk leier moet hê om te kan volg, anders spartel elkeen op sy eie hardkoppige manier in elke denkbare rigting en hierdie is juis ‘n eienskap wat terdeë deur Naspers uitgebuit word. Dit is verspot maklik om Afrikaners te beheer as jy die ware sterk leiers kan verwyder en die illusie kan skep dat hulle verdeel is. Hoe meer die leuen herhaal word, hoe meer word dit herhaal en as dit in die media herhaal word moet dit mos in klip gekap wees. Ons sê al self so. Maar ons vergeet dat dit wat ons saamsnoer groter as dit is wat ons verdeel. Ons word juis saamgesnoer deur die eienskappe wat van ons Afrikaners maak en ons word net verdeel deur die mening van een persoon wat ‘n berig in die koerant kan skryf. Een persoon. Maar ongelukkig deur een persoon wat die rol van ‘n ware Afrikaner leier oorgeneem het; of gesteel het is eintlik ‘n meer waar woord. Die storie word vertel van die Here wat eenkeer aan ‘n stoere en geloofsvaste Boer verskyn het en aan hom gesê het dat hy ‘n groot gedeelte van die Boer se plaas gaan wegspoel deur ‘n vloed. Die Boer antwoord Hom toe en sê dat hy nie nou oneerbiedig of swak in die geloof wil voorkom nie, maar die Beeld het niks gesê van reën nie. Ongelukkig is daar mense wat nog te veel waarde heg aan wat een beriggewer in die koerant skryf, of die mening van ‘n gesiglose kommentaarlewer, of die een mening van iemand wat ‘n opinie, wat maar slegs ‘n hoogs persoonlik en bevooroodeelde mening is, in die koerant skryf. Veral vir die ouer garde wat met ‘n Beeld en Burger as Afrikanermondstukke grootgeword, is dit moeilik om die verraad te besef. Volgens hulle is hulle koerante nog dieselfde as wat dit dertig of veertig jaar terug was. Selfs die Huisgenoot wat jare lank deel van die Afrikaanse huisgesin was het ‘n drogbeeld van beinvloeding geword. Filmsterre, televisiesterre, vermaaklikheidspersoonlikhede en sporthelde word aan ons afgesmeer asof die mense oor een of ander insig beskik wat gewone mense skynbaar nie het nie. Hulle word “sterre” genoem omdat hulle skynbaar helderder as die res van ons skyn en hulle is klaarblyklik iets waarna net gesmag kan word en waarna opgekyk moet raak. Foto’s van glimlaggende politikuste, hand om die blaas met een of ander ster, en ‘n drankglas in die ander hand word geplaas, terwyl hulle baai in die glorie van die illusie wat hierdie dagblaaie rondom hulle weef. “Gala-aande”, “spoggeleenthede”, “sterbelaaide partytjies” word dit genoem en al die dekadensie en verval wat daarmee saamgaan word in die tydskrifte aan gewone mense voorgehou asof dit iets is wat buite bereik is en asof dit iets is waarna gewone mense net kan streef. Hierdie stergode word so spesiaal gemaak dat hulle later self voel dat hulle iets spesiaals het om by te dra. Meer spesiaal as die gewone mens. Dit is hoekom Zietsman voel dat sy in haar drankdeurdrenkte ellendigheid die spesiale voorreg het om derduisende Afrikaners in een fel oordeel, ‘n klomp dwase dose te kan noem. Of hoekom ‘n daggakop soos Koos Kombuis die spesiale vergunning gegee word om sy ongelooflike swak oordeel oor ‘n hele volk uit te spreek. Hierdie mense, sekerlik die mees onbelangrikste, mislikste en onprofessionele “have beens” met geen kreatiwiteit of oorspronklikheid nie, word voorgehou asof hulle van enige nut of bydrae kan wees. Hulle verkry die illusie dat hulle invloed het, die skyn van spesiale insig en wysheid word rondom hierdie dofkoppe geweef. Daar word spesiale vergunning gemaak en hulle kry ‘n spesiale platform waarvandaan hulle hulle onoorspronklike en idiotiese sieninge in die openbaar kan kwytraak. En waar kry hulle hierdie spesiale vergunning? By Naspers. Maar dan aan die ander kant, as dit die tipe van grofgeskut is wat Naspers kan vuur, dan is die skrif redelik aan die muur. Maar Naspers het maar altyd nog sy nuttige idiote gehad, wat hy kon gebruik om die Afrikaners mee te kasty. Die gewone groep pseudo-intelligente monduitspoelers wie se IK ondergeskik is aan hulle onversadigbare drang om te klink asof hulle iets intelligents het om te sê, en wie spesiaal vir hierdie tipe van agterlike gebruik van Naspers, om Afrikaners teen homself te gebruik, vir hierdie doel aangehou word. Afrikaners eintlik maar net by geboorte, want die meeste van hulle het die drang om hom- of haarself van die juk van Afrikanerwees te bevry. Vir daardie mense het ek net een antwoord en dit is dat ek hoop jy kry dit vinnig reg.

Die Afrikaner moet tot die besef kom dat hulle ‘n magtige en sterk groep is. Anders as wat baie keer deur Naspers se spesiale groepie beweer word, is die Afrikaner nie net een van die groepe waarmee gereken moet word nie, maar die eintlike groep waarmee rekening gehou moet word. Ons is vindingryk, goeie besigheidsmense, patrioties teenoor ons eiegoed en ‘n ongelooflik gedugte vyand. Dit het die geskiedenis al geleer. Maar die probleem is dat ons aan die slaap gesus word en in daardie toestand van daaglikse oorlewing van een tragedie na ‘n ander strompel, en ons word doelbewus aan die slaap gehou deur net nou en dan ‘n krummel na ons kant toe te gooi. Ons het hulpeloosheid aangeleer en wil net uitgelos word sodat ons onder hierdie toestand van skynbare hulpeloosheid vir ons families kan probeer sorg. Ons is gelukkig en bly as dit maar net nie te sleg gaan nie, of as ons een of ander oppervlakkige vergunning of erkenning kry. Ons het slagoffers van die Stockholmsindroom geword. Ons kan die onweerswolke duidelik om ons sien maar ons het skynbaar nie die vermoë om dit beveg nie, want ons eiegoed word teen onsself aangewend. Stadig maar seker is daar ‘n “war of attrition” wat teen ons baklei word en ons het nie die vermoë om die vyand te identifiseer of te beveg nie.

Die eerste stap is om te begin besef wat aan die gebeur is en dit is waar ons moet begin.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.