Numsa gaan geweld, intimidasie uitbrei

Deel op

Berigte van intimidasie en geweld wat deur lede van die metaalwerkersvakbond Numsa gepleeg word, neem toe.

Numsa sal na verwagting Dinsdag vergader om planne te bespreek om die tweewekelange staking in die staal-en ingenieursbedrywe verder uit te brei.

Intussen het honderde metaalbedrywe oral in die land gesê hulle word deurentyd deur Numsa-lede afgedreig met geweld, vandalisme, klipgooiery en aanvalle op personeel en klante.

In Wadeville, Germiston is ‘n brandbom binne in ‘n kantoor geslinger, voertuie onder klippe gesteek en ‘n bakkie aan die brand gesteek.

Stakers spioeneer op fabriekspersele in Wadeville en laat weet mekaar per selfoon as hulle werkers, selfs nie-lede van Numsa opmerk wat opdaag vir werk.

By ‘n ander fabriek in Gauteng is 7 voertuie beskadig deur stakers wat nie deel van die personeel is nie en by ‘n ander is hekke afgebreek toe ‘n groot groep stakers met pangas voor die perseel opgedaag het.

In ‘n ander geval is ‘n opsigter by ‘n plastiekfabriek na buite gesleep en bewusteloos geslaan nadat stakers die hekke afgebreek het en die eiendom geplunder het.

Oproepe na die polisie het onbeantwoord gebly.

Dit volg nadat Seifsa die vakbond se eis vir ‘n skikking verwerp het. Seifsa sê Numsa se voorstel vir ‘n tien persent verhoging oor drie jaar, of alternatiewelik 10 persent vir elke jaar, is nie bekostigbaar nie.

Seifsa sê die huidige aanbod op die tafel wat tien persent in die eerste jaar behels, nege-komma-vyf persent in die tweede en nege persent in die derde jaar, is al wat hulle kan bekostig.

Sommige klein sakeondernemings sê die staking gaan hulle knak. Werkers wat nie lede van die vakbond is nie, eis ook van hulle vergoeding omdat hulle verhoed word om te werk.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.