Miljoene mense dwarsdeur Duitsland het gisteraand tot in die vroeë oggendure feesgevier ná hul span dié van Argentinië met 1-0 geklop het om die voetbalwêreldbeker in te palm.
Die jong speler Mario Götze, wat gisteraand vir die eerste keer sy buiging in die nasionale span gemaak het, het in die tweede helfte van ekstratyd met ‘n manjifieke doel die Argentynse ondersteuners letterlik in trane gehad. Hoewel Duitsland voortdurende meer balbesit gehad het, kon hulle tot op daardie stadium nie daarin slaag om punte aan te teken nie. Ook Argentinië het ‘n paar gulde geleenthede verbrou en hul voetbalster, Lionel Messi, die hoogs besoldigde speler ter wêreld, kon nie aan die hoë verwagtinge wat van hom gekoester is, voldoen nie.

‘n Kwartmiljoen mense het in die hoofstad, Berlyn, die wedstryd op ‘n groot skerm gevolg. Presies om 23:36 werp wildvreemde mense hul jubelend in mekaar in se arms op straat, in kroeë, stadions en biertuine.
Die kleure van die Duitse vlag, swart, geel en rooi is oral te siene. In die groot stede soos Berlyn, Hamburg, München en Frankfurt is klappers en vuurwerke afgevuur. Juigliedere soos “Oh, wie ist das schön”, “So ein Tag, so wunderschön wie heute” of die klassieke “Deutschlaaaand, Deutschlaaaand” het die nag oorheers.

In weerwil van die groot vreugde het ‘n woordvoerder van die polisie egter bevestig dat daar geen probleme was nie en dat, vanuit ‘n wetsoortredingsoogpunt, alles “rustig gebly” het.
Reeds voor die aanvang van die wedstryd is die Berlynse toeskouersplek voor die Brandenburgpoort heeltemal beset en moes tienduisende aankomelinge teleurgesteld omdraai om die wedstryd elders te gaan kyk.
Ook in Hamburg het 50 000 op die Heiligegeesplein saamgedrom om die wedstryd te volg. Sekere hoofstrate is vir verkeer gesluit om die skares te kan hanteer.In Keulen, Stuttgart, Nürnberg en Freiburg vier duisende geesdriftiges fees. In Darmstadt word die verkeerstonnel gesluit weens juigende voetbalondersteuners wat dele van die stad vir motorverkeer ongegaanbaar maak.
Plekke by die Frankfurtse Commerzbank-Arena en die Olympiastadion in München was dae voor die tyd reeds uitverkoop: 50 000 aan die Mainrivier aanskou die triomf van hul span en 33 000 in München.