Ope brief aan Helen Zille oor Eugene de Kock

Deel op

Geagte mev. Zille,

Die verklaring deur mnr. James Selfe, die skaduminister van Justisie en Korrektiewe dienste van die DA, gister oor die weiering van parool aan Eugene de Kock, het die DA nie slegs in ‘n swak lig gestel nie, maar verlaag die DA tot op die vlak van die ANC waar besluite geneem en verklarings uitgereik word aan die hand van propaganda, persepsies en waninligting.

Dit is nie duidelik of die verklaring deur mnr. Selfe letterlik op u webtuiste aangehaal word nie, maar die volgende stelling is so skeef en verwronge dat dit moeilik is om dit te glo:

“The DA takes note of the decision by the Minister of Justice and Correctional Services, Mike Masutha, to deny parole to Eugene de Kock who was tried and convicted on 89 charges and sentenced to two life sentences and 212 years in prison after disclosing the full scope of his crimes while testifying before the Truth and Reconciliation Commission (TRC).”

Mnr. Selfe se verdere verklaring dat Eugene de Kock in die gevangenis sit terwyl die persone wat die bevele gegee het op vrye voet verkeer, getuig van skokkende onkunde en is duidelik op propaganda en persepsies gebaseer. Daar is geen enkele geval waar Eugene de Kock tot gevangenisstraf gevonnis is waar daar enige feite bestaan dat hy in opdrag van ‘n meerdere gehandel het nie. Indien u of mnr. Selfe van so ‘n geval bewus is sal ek graag daarvan verneem. Die enigste geval waar daar twyfel ontstaan het, was die Maponyageval, waar amnestie juis op grond daarvan aan Eugene de Kock geweier is.

Dit wil voorkom asof mnr. Selfe die gewone klakkeloos standpunt oor Eugene de Kock kwytgeraak het sonder om hom enigsins van die feite te vergewis of te bepaal wat al die regsaspekte behels. Hy het byvoorbeeld geen melding gemaak van die feit dat die regering sedert November 2013 kennis dra van die aanbeveling van die Nasionale Raad van Korrektiewe dienste onder leiding van regter Siraj Desai, die voorsitter van die Parool Appélraad, dat parool aan Eugene de Kock toegestaan moet word nie. Na verloop van 8 maande kondig minister Tshililo Machael Masutha doodluiters aan dat die Paroolraad ‘n fout begaan het om nie al die slagoffers in die geval van Eugene de Kock te raadpleeg nie. Daar sal nou gepoog word om dit binne ‘n jaar te doen. Dit getuig van skokkende nalatigheid en ‘n roekelose verontagsaming van die beginsels van reg en geregtigheid. Mnr. Selfe rep geen woord daaroor nie. Wetgewing dat die families van slagoffers geraadpleeg moet word alvorens parool aan ‘n veroordeelde moordenaar toegestaan mag word het eers gedurende 2003 van krag geword. Daar bestaan in regskringe ernstige bedenkinge of hierdie bepalings op die geval van Eugene de Kock toegepas kan word, maar mnr. Selfe swyg daaroor.

In ‘n era waar korrupsie en wanbestuur aan die orde van die dag is en daar in regskringe ernstige bedenkinge bestaan oor die gehalte van ons regspleging, kan ‘n mens nie anders as om ‘n beklemming om jou hart te kry as die amptelike opposisie met so ‘n skaduminister van Justisie en Korrektiewe dienste sit nie.

Ek heg graag hierby ‘n memorandum aan om meer agtergrond oor al die wesenlike aspekte te gee.

Met agting

Johan van der Merwe, Montana, Pretoria

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.