PRAAG loods TV-lisensieboikot

Deel op

Dr. Dan Roodt van PRAAG, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, het vanoggend aangekondig dat sy beweging voortaan die betaling van TV-lisensies gaan boikot.

“Dit geskied nie soseer in reaksie op die aanstelling van ‘n nuwe bedryfshoof nie,” sê hy, “maar weens die volgehoue margninalisering van Afrikaanse programme, asook die naakte Boerehaatpropaganda wat soms uitgesaai word. Waarom moet ons betaal vir ‘n medium wat sowel Afrikaans- as Afrikanervyandig is?”

PRAAG ondersoek tans die verskillende metodes waarmee mense gehelp sal word wat moontlik deur die SAUK se skuldinvorderingsagentskappe geteiken sal word.

“Ons is oop vir voorstelle,” het Roodt gesê. “Dit kan enigiets wees van die soort anargistiese metodes wat destyds in Amsterdam gebruik is toe ‘n vereniging jou boetes vir jou betaal het as jy gevang is dat jy sonder ‘n kaartjie op die trems ry. As mense ‘n lasbrief vir beslaglegging ontvang, mag ons dalk hul lisensies vir hulle betaal. Of dit kan ‘n grondwetlike hofsaak behels waarin ons sal argumenteer dat ons van die SAUK se gehoor uitgesluit is en daarom nie hoef te betaal nie.”

Daar is op dié stap besluit nadat PRAAG oor ‘n tydperk klagtes ontvang het van lede van die publiek wat geen sin daarin sien om langer TV-lisensies te betaal nie.

“Daar is ook groot geesdrif vir die idee dat ons alternatiewe vorme van vermaak op die internet moet skep, met YouTube-besprekings in Afrikaans, Afrikaanse films en dergelike meer,” sê Roodt. “Dit kan ‘n hele avontuur word.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.