Steve Hofmeyr, Dan Roodt en Sunette is die nuwe Voëlvry-beweging

Deel op

Die keer is dit nie op die strate van Hillbrow nie, maar die strate van Bothaville, Ventersdorp en Pretoria waar jy dit hoor

Deel op

‘n Paar dekades terug verkrag Dan Roodt die volkslied en lees gedigte voor met ‘n oshart teen sy bors, Koos Kombuis, met of sonder drugs, sing van AWB tiete en huisies by die see, Johannes Kerkorrel bedel harte vir Hillbrow en saam met Max krap die Vrye Weekblad almal se gat. Die een ding in gemeen is hulle rebellie teen die regering, teen ‘n stelsel wat nie werk nie, teen wat hulle glo verkeerd is. In coffee shops en rokerige bars groei die beweging. Dit is gewaagd, dit is protes en dit is hoogverraad. Party mense wil hulle doodskop, ander wil standbeelde bou, maar almal ken die soundtrack van die beweging. Dit is Voëlvry!

Die naweek sing Steve die stem en die skare, duisende van hulle, sing saam. Dan Roodt het ‘n webwerf en Naspers kry hom nogsteeds nie stil nie. Sunette skryf ‘n lied met Eugene se gebed in. Jong kunstenaars begin reguit en onbeskaamd sing van hulle mense, van dit wat verkeerd is, van ‘n stelsel wat nie werk nie en ‘n regering wat nie regeer nie. Die keer is dit nie op die strate van Hillbrow nie, maar die strate van Bothaville, Ventersdorp en Pretoria waar jy dit hoor. Dit is in die kroeg op die platteland en die kunstefees Innibos waar die stem gehoor word. In plaas van coffee shops en agterstraatjies is die beweging nou voor kooperasies en agter op plaasbakkies.

Dit is dalk nog net ‘n gefluister. Onafhanklike, ongekoppelde gebeure wat hier en daar sporadies kop uitsteek. Kunstenaars wat dalk nie tans om dieselfde vuur sit nie, maar wat mekaar nog gaan vind. Praag vervang die drukkoste van ‘n Vrye Weekblad. Sommige mense haat dit, ander wil standbeelde bou. Die regering wil dit smoor. Alles wat was, is, en sal weer wees.

Welkom by Voëlvry v2.0!

– Brief deur Vannermerwe

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.