Terug na Europa?

Deel op

Kan Afrikaners hul eie hoëtegnologie-ekonomie skep en in geprivatiseerde enklawes oorleef?

Deel op

Miskien is dit net die gevolg van gisteraand se sokkerwedstryd toe Duitsland vir Brasilië afgeransel het, maar ek dink al geruime tyd dat ons Afrikaners veel kan baat by ‘n nouer verhouding met Europa.

In my vorige rubriek het ek van ons kulturele verhouding tot die Lae Lande, veral Nederland, gepraat.

Dan RoodtWeens die kommunikasierevolusie en globalisering, bestaan daar nie meer grense nie, ten minste wat handel en kultuur betref. Die enigste grense wat oorbly, is eintlik taalgrense, want ons moet mekaar nog kan verstaan.

Ek is toenemend pessimisties oor die Suid-Afrikaanse ekonomie wat weens hebsug, korrupsie, gebrekkige infrastruktuur, swak onderhoud en bestuur gaandeweg sal agteruitgaan.

Daarom moet ons so vinnig as moontlik ons herposisioneer sodat ons aan die Europese dienste-ekonomie, maar ook landbou, kan deelneem. Ons vrugteboere in die Wes-Kaap en elders doen dit reeds! Ons land voorsien onder andere 70% van die sitrusvrugte van die Europese Unie.

Is dit nie eenvoudig ongelooflik nie? Dat ‘n paar duisend Afrikanerboere 70% van die lemoene, pomelo’s, nartjies en wat nog van die Europese Unie kan produseer nie? Trouens, sover ek verstaan, is ons die grootste produsent van pomelo’s ter wêreld.

Maar ons kan nog baie beter doen. Ons is goed opgelei en sodra ons ons nie meer blindstaar teen die VSA, VK en Australië nie, kan ons met veral Noord-Europa begin handeldryf, nismarkte ontgin en sodoende ‘n inkomste in euro begin verdien. Oor die afgelope paar jaar het internetverbindings in Suid-Afrika drasties verbeter en sodoende kan ons nou al amper op gelyke voet met die eerste wêreld begin meeding, wat kommunikasie, inligting en bemarking betref.

Die lughawe hier in Johannesburg vergelyk met enige lughawe in Wes-Europa en danksy ‘n klompie Afrikaner-ingenieurs wat die Gautrein laat bou het, is die lughawe verbind met die groot Afrikanerenklawe in Centurion, Pretoria en omliggende gebiede, om nie van die gewraakte tolpaaie te praat nie. Eintlik beskik ons oor alles om ‘n ekonomiese ontploffing te kan veroorsaak!

Duitsland en Nederland se gesamentlike ekonomie is iets soos $4,3 triljoen werd. Dit is omtrent elf keer so groot soos die Suid-Afrikaanse ekonomie. Daar bestaan geen regstellende aksie nie en elkeen is vry om daaraan deel te neem, mits ons ons by Europese standaarde hou soos die vrugte- en ander boere reeds doen.

Iewers het ek gelees dat Duitsland oor ‘n behoefte aan een miljoen programmeerders beskik. Al hierdie jong Afrikanerseuns wat so graag rekenaarspeletjies speel en met rekenaars grootword, kan mos opgelei word om vir Duitse maatskappye aanlyn programmering te doen, nie waar nie?

Programmering is egter nie grappies nie en die gemiddelde punt wat by Tukkies in een eerstejaarskursus vanjaar tydens die eerste semester aangeteken is, is 38%, hoofsaaklik deur blanke studente. Ons skole berei ons kinders eenvoudig nie genoegsaam voor op ‘n loopbaan in programmering en tegnologie nie. Die huidige rekenaarkursusse van die onderwysdepartement is uitgedien. Afrikaanse skole sal onderling iets hieraan moet begin doen. Al is dit hoe moordend aan die begin, sal ons kinders aan ontsettende druk onderwerp moet word wat hul kennis van rekenaars en programmering betref. Dis maklik om met swartes van Soweto mee te ding, maar as ons saam met die Duitsers en die Hollanders wil speel, sal ons ons spelpeil moet lig, om steeds by sportmetafore te bly.

Watter wonderlike uitdaging is dit egter nie! Om ons eie Afrikaner-ekonomie te skep wat sal “inprop” by die EU- en wêreldekonomie en ons toenemend onafhanklik van die SA ekonomie sal maak. Laat die ANC sy rassekwotas na hartelus toepas.

Sodra ons oor die inkomste beskik, sal ons vir ons geprivatiseerde enklawes oral in die land kan oprig waar ons in ons heerlike klimaat en met ons eie skole, universiteite, hospitale en ander inrigtings as ‘n satelliet van Europa kan funksioneer. Soos ons eintlik nog altyd was?

As Afrikaners oor ‘n eie etniese ekonomie soos byvoorbeeld die Baske met hul Mondragon beskik, sal die politiek vanself regkom. ‘n Verarmde Suid-Afrika, die “groot bantoestan” waarvan RW Johnson al gepraat het, sal ons nooit kan oorheers nie. Ons sal uiteindelik vir ons groot stukke grondgebied kan koop of terugkoop waar ons al ons aktiwiteite kan vestig. Selfs die buitelandse motormaatskappye mag uiteindelik verkies om gerobotiseerde motorfabrieke onder Afrikanerbestuur te bedryf as om langer met stakende massas geradikaliseerde en verpolitiseerde werkers te sukkel. In München werk heelwat blonde meisies in BMW se motorfabrieke en beman bloot die gerekenariseerde beheerterminale, terwyl die fisieke werk deur robotte behartig word. Só lyk dit:

Ek stel dit hier as ‘n debatspunt en sal graag mense se menings wil hoor.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.