Oupahippie se sildenafil-juweeltjie

Die psigologiese oorlog teen Afrikaners word steeds met oorgawe in Beeld gevoer deur die “empatiese” ANC-pandoer.

Die kopdoekdraer (‘n mode wat reeds etlike dekades gelede oorgewaai het ten spyte van ‘n uitkoms wat dit vir bles oupahippies gebied het) Piet Croucamp probeer Steve Hofmeyr se gewilde gebaar om Die Stem te sing as agterlik en ongesofistikeerd af te maak.

Tewens, Afrikaners word sommer effens te onvleiend met “rotte” gelykgestel as hulle deelneem aan ‘n “primitiewe ritueel”.

Daardie miljard mense wat sokker kyk het kennelik ook ‘n opvoeding nodig as hulle so lekker uit volle bors volksliede voor elke wedstryd sing. Dink net, een miljard wat nog nooit van “empaties” gehoor het nie. Daar’s werk!

Die swart kopdoek het vir die geleentheid op die prettige foto in Beeld plek gemaak vir kode-blou nadat daar blykbaar in die binnekamers oorleg gepleeg is dat swart ou Piet se diep plooie beklemtoon.

By implikasie is daar dus onder die Viagrabloulap genoeg haarlose grysstof om die “slim” oplossing vir Afrikaneroorlewing te bied in sy jongste aflewering. Net jammer dis weer soos een van daardie klassieke Broeder-vermanings waar daar karige besonderhede oor die “slim” plan beskikbaar is.

T’ja. Ons het daardie fliek al gesien en ons weet ook hoe hy eindig: In Tamatiestraat, komplimente van Roelfie se Volg-my-vervoerdiens. Laasgenoemde se sin vir verantwoordelikheid is, ligweg gestel… onderontwikkel, amper soos Piet s’n.

Piet kan soos sy geesgenote glo ‘n Rand op ‘n afstand van hier tot in Namibië ruik.

Die hele lang doekbelediging is daarop gemik om ‘n “oplossing” voor te hou, maar by die pynlike gebrek aan besonderhede waarskynlik een wat nie bestaan as dit by ‘n lewensbelangrike kwessie soos Afrikaneroorlewing kom nie.

Afrikaners is ‘n knaagdierplaag volgens die vermaarde sweetlap-Kombuis-kloon, en daarom is hy niemand ‘n verduideliking verskuldig nie. Vatso! As dit nie arrogant is nie, moet daai een nog uitgevind word.

Ek het ‘n voëltjie hoor fluit uit Rwanda dat ons in Pietie se volgende aflewering as “kokke-rotte” sal figureer. En sy voorkop sal dan glo nog minder sigbaar wees soos Darwin se ketting vereis, njannies. Dat hulle sy twee moewiese ore gaan afsit is blote hoorsê.

Doekman se honderste dapper poging is om die singery aan ons ondergang deur skuld te verbind. Waar het ons al daardie refrein gehoor? Dalk in Beeld se beriggewing oor Potch se Nazi-verlede, Sannie.

‘n Mens moet al wye draaie om daardie ge-inkte hoop vermorsing van papier in die winkel loop soos dit “rot” en “rassis” gil, verkwalik en verneder. Masochiste kan dit geniet. Opregte Calviniste ril daarvan.

Die Nuwe Wêreldorde is daarop uit om volke te vernietig. Alleen deur ons volkskap sal Afrikaners kan bly oorleef. Dis nie ingewikkeld nie, dis die kaalkopwaarheid.

Is dit nou nie ‘n vreeslike toevalligheid dat ons so knaend van die teendeel oortuig moet word nie? En dit sonder inhoud. Want ons is te dom om te verstaan wat ons sien as ons rondkyk om ons.

Die drie lande wat poog om die orde op die hele wêreld af te dwing, jaag ‘n verskroeide aarde beleid na waarvan die chaos in die Midde-Ooste daagliks kan getuig. ‘n Lekker vooruitsig. Of nie. Slimpiet se base het hom seker nog nie ingelig oor dié lastigheid nie.

Soos een bydraer hier op Praag dit so goed uiteengesit het, is die skep van spanning een van die gekose instrumente om daardie “Strategy of Tension” te bereik wat sal lei tot volskaalse konflik. Malema wat plase gaan vat is natuurlik so ‘n instrument.

Pieta is min gepla deur sulke detail. Hy het ‘n baie groter probleem: Sy gevoel van minderwaardigheid moet besweer word en Beeld maak graag plek vir noodgevalle wanneer wit mans soos Steve blyke van ‘n stywe rug openbaar.

Terloops, let ook op hoe Steve se gehoor skielik met 10 000 gekrimp het in onderstaande, presies soos die ou handboek van ‘n intelligensie-teenstrategie vereis. Net ‘n bietjie te deursigtig om geloofwaardig te wees. Ou Pieta moes daardie kursus sleg gepluk het.

Dan kom die klem op verskille tussen Afrikaners-wat-nooit-saamstaan-nie asof ene Leon Wessels van die buitenissige ANC-laerskoolspan skielik deel van enige volwasse debat geword het.

Wessels het nog nie eers agtergekom iemand se menseregte word ontsê as hy opgevreet word nie. Hy gebruik nog steeds “empatiese” beskrywings soos “tradisionele geneser” sonder om ‘n lagspier te veroer.

Ewenwel, hier is ou Pieta se sildenafil-juweeltjie uit Beeld:

Gegewe die kripvreterstatus van Afrikanermans voor die uiteindelike val van apartheid is hulle as groep waarskynlik meer bevoordeel deur die oorwinning van swart nasionalisme oor wit nasionalisme as enige ander demografiese identiteit.

Afrikaners se vermoë om hul demografiese dividend uit te bou ten spyte van sosiale onbestendigheid, ekonomiese teenstrydighede, politieke vervreemding en interne onmin is eintlik legendaries.

Charles Darwin het die punt gemaak dat spesies wat die beste kan aanpas by veranderende omstandighede – eerder as die intelligentste of sterkste spesies – die beste kans op oorlewing het. Afrikaners het oor 300 jaar Darwin se teorie hul eie gemaak. Maar hulle was ook nog nooit ver van selfvernietiging af nie. Ironies genoeg is Afrikaners se demografiese dividend juis so groot omdat die risiko’s wat geloop is vir hul eie oorlewing net so groot was. Die demografiese dividend is ’n aanduiding van ’n bepaalde groep se skolastiese ervaring, toegang tot goeie gesondheidsorg, bates in private besit en kapitaal wat oor generasies heen versamel is. Etniese en rassemeerderwaardigheid kon Afrikanerskap uiteindelik uitgedoof het indien De Klerk nie pragmaties begin dink het in die 1990’s nie.

Swart nasionalisme het in die 1980’s die oorhand oor wit nasionalisme gekry, maar die verlies aan mag het, teenstrydig met logika, Afrikaners die kans gebied om meer universeel aanvaarbare, meer empatiese, konstruktiewer Suid-Afrikaners te word.

Hierdie ­eienskappe sou uiteindelik ons aanpasbaarheid toets, maar ook ons oorlewing in hierdie land verseker. Die drif vir selfvernietigting lê egter vlak; dikwels verdoesel as ’n strewe na oorlewing. Steve Hofmeyr speel om die warm vlam van populisme by die Innibos-fees en sing saam met 35 000 mense Die Stem; ’n duidelike versugting na die dae toe swart mense gebrutaliseer is.

Sy regverdiging: “Integrasie het ons die gewelddadigste land gemaak laaaaank voor ek Die Stem gesing het. Ek vereenselwig die nuwe vlag en volkslied dáármee.” Soos rotte skarrel Afrikaners in die bos al agter die fluitspeler aan.

Wanneer Suid-Afrikaanse universiteite geklassifiseer word wat uitnemendheid betref, val Potch se meetsnoere nie juis in lieflike plekke nie.

Suid-Afrika was nog altyd ’n gewelddadige land vir swart mense; en wit mense was in geen opsig minder gewelddadig as enige van Afrika se ander inwoners nie.

Afrikaners raak egter ook toenemend vervreemd van die nasionale projek; vervreemding ten dele gedryf deur die selfvoldane rassisme van Julius Malema, die nydigheid van korrupte staatsamptenare en die magsbeheptheid van politici.

Die Noordwes-Universiteit is ’n soort Afrikaner-bastion, ’n kulturele loopgraaf teen vervreemding. As die universiteit bekend was vir progressiewe denke, akademiese uitnemendheid en kulturele beskaafdheid, was die staat se strydbyl dalk stomp. Maar die romantisering van outoritêre verhoudings is die opvallende kenmerk van dié akademiese instelling. Wanneer Suid-Afrikaanse universiteite geklassifiseer word wat uitnemendheid betref, val Potch se meetsnoere nie juis in lieflike plekke nie.

Dit is nie vir Flip Buys genoeg om van Leon Wessels te verskil nie, hy wil hom boelie en verjaag. Afrikanerskap dra die DNS van wantroue en meerwaardigheid oor van die een geslag na die volgende, en daarmee saam word oorlewing metodies ondermyn. As Afrikaans as taal of kultuur gaan voortbestaan, sal ons die drang om alles reg te wil bliksem moet temper. Hardgebaktheid het ons oor die Drakensberge gekry, maar oorlewing vereis nou die sofistikasie van intelligente aanpasbaarheid. As jy trane in jou oë gekry het terwyl Hofmeyr sy primitiewe ritueel uitgevoer het, dra jy die saad van vernieting – van Afrikaans en Afrikanerskap – in jou hart. Jou nostalgie voed die weersin van ander Suid-Afrikaners, en uiteindelik, deur jou eie toedoen, sal dit jou taal en kultuur vernietig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.