Steve oorval deur boodskappe van ondersteuning na Stem

Deel op

Steve Hofmeyr het Maandag op Facebook gesê hy het gebars van trots toe hy Saterdag spontaan “Die Stem” by Innibos saam met 45 000 Afrikaners gesing het.

Praag het met feesgangers gepraat wat gesê het dit was heerlik om weer deel van ‘n eie groep te voel. Talle het erken hulle moes ‘n traan wegvee daarna.

“Steve se konsert was die hoogtepunt van Innibos. Almal het net gekom om na hom kom te luister,” het Berdine Viljoen aan Praag gesê. Sy sê daar was ‘n ongelooflike atmosfeer.

Feesgangers het Steve sonder uitsondering geloof vir sy moed en getrouheid en hy is behoorlik oorval deur boodskappe van gelukwensing en ondersteuning van oral oor die land.

Hofmeyr is intussen skerp aangeval deur Adriaan Basson – Beeld se redakteur – omdat hy glo ‘n lied gesing het wat nie die “meeste landsburgers” se goedkeuring wegdra nie. Die ou volkslied herinner glo aan “wit onderdrukking”.

Die Stem is lank voor Apartheid, die Nasionale Party en Angelsaksiese wit oorheersing na die Tweede Wêreldoorlog gekomponeer en gesing, maar dié lastige feit het nie in Basson se pad gestaan nie.

Basson beywer hom met ‘n buitengewone fanatisme om ‘n Afrikaner-hergoepering en patriotisme verdag te maak en met alle mag te bestry. Hy wy daagliks sy hele koerant daaraan, op openlike en minder openlike maniere.

Basson sit ook persoonlik agter die veldtog om Potchefstroom te verengels deur die laaste Afrikaanse kampus te verswart.

Hofmeyr het die stilte oor misdrywe onder die huidige volkslied veroordeel asook die voortdurende gedreunsing van aanhitsende haatliedere deur die president voor opruibare swart skares.

Hofmeyr het Afrikaners ook daaraan herinner dat nóg hy nóg hulle iets onwettigs gedoen het.

“Ek sal dit meer sing en ek vra dat die banvloek op ons heiligste tradisionele lied gelig word en dat almal vry mag wees om te sing wat hulle wil, solank dit nie haatspraak is of geweld verkondig nie,” sê Hofmeyr.

Die feesbestuur het in ’n dweperige verklaring vol liederlike spelfoute en anglisismes gesê dit was nie deel van die beplande program nie.

Praag het verneem dat die feesbestuur erg bekommerd is dat Naspers nie meer gratis publisiteit aan die Innibos-fees sal gee nie en benoude e-posse tussen Media24 en die Innibos-bestuur is glo uitgeruil.

Die geradbraakte verklaring lui: “Ons is nie ’n Afrikaner-fees of politieke platform (sic) nie. Ons is trots deel van die Nuwe Suid Afrika (sic).

“Ons sou nie noodwendig die sing van die stem (sic) as deel van die program goedgekeur het as ons vooraf daarvan geweet het nie, want ons besef dat daar sensitiwiteit is rondom die sing daarvan.”

Hofmeyr het aan RSG gesê nasiebou is ’n projek wat misluk het en dat sy ja-stem ‘n dolk in sy kultuur se rug verteenwoordig.

Hier is ‘n aanhaling uit Steve se Facebook-kommentaar:

By Innibos 2014 het ek gedurende my akoestiese kitaarmedley weggetrek met ‘n paar FAK liedjies. Suikerbos, Oukraallied, Al lê die berge nog so blou, Jan Pierrewiet. Toe ook die eerste vers van DIE STEM.
Sonder aansporing het 45000 op aandag gaan staan en saam gesing, so hard dat die hoendervleis nou nog op my uitslaan. Ek kry altyd ‘n knop in my keel by “ons sal lewe, ons sal sterwe…”. Jy sal in die opname hoor hoe ek in daardie reëls my asem vang.
Ek het gebars van trots. Ek sal dit meer sing en ek vra dat die banvloek op ons heiligste tradisionele lied gelig word en dat almal vry mag wees om te sing wat hulle wil, waar hulle wil, solank dit nie haatspraak is of geweld verkondig nie. Dankie vir RSG en Radio Pretoria wat my kans gegee het om ons saak te stel.
Ek is nie verbaas oor die enkele negatiewe reaksies nie omdat die dwepers nie die volgende ironie daarin wil lees nie:
a. Mense wat aanstoot neem vergeet dat Die Stem, soos ons praat, nog deel is van die offisiële volkslied.
b. Hierdie mense neem klaarblyklik nie aanstoot in die dinge wat gebeur onder die nuwe vlag en volkslied nie, alles vanaf wanprestasie tot moord, verkragting, Gupta, Nkandla, gronddiefstal, aggressiewe Marxisme, ekonomiese rassebeleid en lae lewensverwagting. Daar is eintlik meer as genoeg rede om aanstoot te neem in die nuwe volkslied en vlag, tog doen ons nie.
c. Die wat DIE STEM kritiseer is tjoepstil oor die president se haatspraak liedere soos KILL THE BOER en UMSHINI WAMI, terwyl DIE STEM nie een haatsprekende lettergreep bevat nie.
d. “Nkosi Sikelel’ iAfrika” is ‘n Afrikagebed, wat gewild is oor die hele kontinent, ‘n mooi gebed, maar nie ons s’n nie. DIE STEM is ook ʼn gebed, geskryf deur ʼn Suid Afrikaner vir Suid Afrikaners, twee dekades voor Apartheid.
e. Bygesê, ter versagting, ek kan Nkosi sing en die nuwe vlag salueer, veral as ons as Suid Afrikaners presteer, en ek doen steeds, maar moenie my voorskryf oor presies waaroor en wanneer ek trots moet voel nie.

Steve sing Die Stem by Innibos http://www.youtube.com/watch?v=F2wDNYVe7uo
Die Stem gesing deur 3 jarige Suid Afrikaner in New Zealand
https://www.youtube.com/watch?v=w5uXozZRtY8
Die Stem van Suid-Afrika (indien jy vergeet het): http://youtu.be/e9dq7VqV-Os
SA PRESIDENT Zuma sings his personal the hate speech anthem: Kill The Boer https://www.youtube.com/watch?v=Cb3MLHblnbQ

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.