‘Uitbarsting van rassisme’ tydens wêreldbekersokker ná Neymar-besering

Nadat ‘n swart speler van Colombië die jong Brasiliese sokkerster, Neymar (volle name Neymar da Silva Santos Júnior) beseer het, het ‘n “uitbarsting van rassisme” gevolg en het die Colombiaan etlike doodsdreigemente ontvang.

Brasiliërs op Twitter vaar uit teen die swart Colombiër, Juan Camilo Zuniga, wat Neymar se rugwerwel gekraak het en huiwer nie om na sy ras te verwys nie. In die sokkerwêreld – ook in Europa – bestaan daar ‘n algemene opvatting by ondersteuners dat swart spelers makliker as blankes die reëls oortree en daarmee die spel bederf, asook beserings veroorsaak.

Daarom is die wêreldbekertoernooi in Brasilië tot “die toernooi teen rassisme” verklaar en word daar by elke wedstryd ‘n eed deur die spelers teen rassisme afgelê en word baniere teen rassisme op die veld vertoon.

Zuniga se vuilspel teen Neymar, wat nou in 'n rassevoorval ontwikkel het
Zuniga se vuilspel teen Neymar, wat nou in ‘n rassevoorval ontwikkel het

Dit lyk egter asof dit geen uitwerking gehad het nie, want die Brasiliërs is woedend vir Zuniga, dermate dat ‘n Franciskaanse monnik van Sao Paulo, David Santos, dit nodig geag het om sy landgenote te betig. “Dit mag verrassend wees vir buitestaanders, maar die wyse waarop ons Colombiese broer behandel word, toon weereens dat Brasilië een van die mees rassistiese lande ter wêreld is.” Santos is hoof van ‘n liggaam genaamd Educafro, wat swart en voorheen benadeeldes vir universiteitstoelatingseksamens voorberei.

Die swart Colombiër is deur FIFA kwytgeskeld, wat aangekondig het dat daar geen tugstappe teen hom gedoen sal word nie.

Die New York Times, die wêreld se mees invloedryke liberale koerant, het insgelyks die voorval aangegryp om Brasilië daarvan te beskuldig dat hy nog nie die “erfenis van slawerny verwerk het nie”. Die koerant kritiseer ook die feit dat blankes steeds die topvlakke van die regering en die privaatsektor “oorheers”.

Brasilië het in 1888 slawerny afgeskaf en daarmee gelykheid aan sy swart inwoners verskaf. Meer as die helfte van die land se inwoners is egter swart of van gemengde ras, wat die land die grootste swart bevolking van enige land buite Afrika gee.

In navolging van die VSA, Brittanje, Suid-Afrika en ander Engelse lande, het Brasilië onlangs ook regstellende aksie ingestel om die aantal swart studente aan openbare universiteite te verhoog en kwotas vir swartes in die staatsdiens in te stel. Die land beskik ook oor wetgewing wat rasse- en etniese diskriminasie verbied.

Vroeër vanjaar was daar egter ‘n rassevoorval in die land wat volgens linkses tot slegs ‘n “ligte straf” gelei het. Tydens die voorval het ondersteuners van die suidelike klub Esportivo op ‘n swart skeidsregter, Marcio Chagas da Silva, geskree dat hy moet “teruggaan oerwoud toe” en het piesangs op sy motor gesmeer. ‘n Sokkerhof het die klub beveel om ‘n kleinerige boete te betaal en om vyf wedstryde weg van hul tuisveld te speel. In Sao Paulo het ondersteuners vroeër vanjaar blykbaar “rassistiese beledigings” aan die middelveldspeler Marcos Arouca da Silva geskree.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.