Oranje boven! en ander Hollandse gedagtes

Deel op

Tans is die sokkerwêreldbeker aan die gang en hoewel ek geen sokkergeesdriftige is nie, is dit tog interessant om die vordering van die spanne dop te hou.

Gisteraand het Oranje, soos die span van Nederland bekendstaan, tot die kwarteindronde deurgedring. Ook België het goed gevaar en was waarskynlik ongelukkig om insgelyks gister deur Argentinië uitgeskakel te word.

Dan RoodtOor die Belgiese span kan ‘n mens minder gaande raak. Soos Frankryk, beskik hulle oor ‘n multikulturele span wat net sowel uit Afrika kon gekom het en kwalik die land verteenwoordig. Boonop is België so ‘n kunsmatige politieke entiteit wat twee volkere federaal verbind dat ‘n mens jou moeilik kan voorstel dat enigiemand patrioties oor België kan raak. Vlaandere is ‘n ander saak en dit spreek vanself dat ons ‘n ewe noue band met die Vlaminge behoort te koester as met die Nederlanders.

Sonder die Lae Lande sou daar nooit ‘n Suid-Afrika gewees het, geen Afrikaans en geen Afrikaners nie. Vlaandere was ons Afrikaners nog altyd baie goedgesind, selfs in die dae van die kulturele en ander boikotte, dus moet my huidige opmerkings oor Nederland geensins afbreuk doen aan die warm gevoelens wat Afrikaners oor die algemeen vir Vlaminge koester nie. Die meeste Vlaminge is amper meer gaande oor Afrikaans en Afrikanerskap as Afrikaners self en ons kan by hulle heelwat leer oor hoe ‘n taalstryd gestry moet word!

Ons verhouding tot Nederland is egter meer gekompliseerd; dis amper ‘n liefde-haat-verhouding, iets soos die verhouding tussen die VSA en Brittanje, tussen die vrygeworde republiek en die koloniale moederland. Tussen koningin Wilhelmina se versigtige steun vir Paul Kruger tydens die tweede vryheidsoorlog en die Nederlandse anti-apartheidsbeweging wat aktief aan terreur teen ons deelgeneem het, loop daar ‘n wye kloof.

Nederland is letterlik familie van ons, want die meeste van ons beskik iewers oor Nederlandse voorouers. In weerwil van Afrikaners se vele Franse en Duitse vanne, stam die meeste van ons tog iewers verlangs van Nederlanders af.

In 1950 nog het die Nederlandse koningin ‘n toekenning aan ons grootste digter, NP van Wyk Louw, gemaak en hom in haar paleis onthaal. Tuis in Suid-Afrika was daar steeds ‘n lewendige belangstelling in Nederlandse kultuur en letterkunde wat aan al ons universiteite gedoseer is. In my matriekjaar het ons nog ‘n Nederlandstalige voorgeskewe boek deur die Vlaamse skrywer Stijn Streuvels bestudeer.

Sedert Afrikaners se verlies aan politieke mag word Afrikaans grotendeels onderdruk en gemarginaliseer. Daar word selfs gepoog om ons taalkundig te ondergrawe deur vergesogte teorieë dat Afrikaans eintlik ‘n vorm van Khoisan is of ‘n kreool wat deur die Hottentotte tot stand gebring is. Ek wil op ‘n later stadium meer breedvoerig op dié belaglike teorieë reageer wat om politieke en polities korrekte redes opgedis word. Ongelukkig is daar ook Nederlanders wat hulle daarmee besig hou, asof hulle ons noudat ons lê, wil skop. Die taalkundige Hans Den Besten het sulke twak in akademiese artikels kwytgeraak, maar dis nie iets wat onmoontlik is om in een of twee artikels met gemak te weerlê nie.

Dit sou ‘n fout wees om te dink dat alle Nederlanders ons goedgesind is. Weliswaar bestaan daar in Nederland ‘n taamlike sterk regse beweging, onder aanvoering van Geert Wilders, met Martin Bosma wat Suid-Afrika, asook Afrikaans, deel van die party se beleid gemaak het. Bosma het blykbaar ‘n nuwe boek oor Afrikaners in Nederlands geskryf wat eersdaags gaan verskyn. Dit gaan baie interessant wees.

Tydens die 2010-sokkerwêreldbeker in Suid-Afrika, het ek gesê dat ons eerder die Nederlandse span moet ondersteun as ons eie swart Bafana-spelers. Intussen het selfs die minister van sport, Filike Mblalula, my gelyk gegee dat die Bafana die mees hopelose sokkerspan ter wêreld is. As vorige gasheer van die wêreldbeker kon ons nie eens kwalifiseer om in Brasilië deel te neem nie. In vele opsigte is die “Suid-Afrikaanse” sokkerspan emblematies van Suid-Afrika: dit word met subsidies en privaatborgskappe gemamperlang, dog sonder enige prestasie. Ons betaal astronomiese bankfooie sodat die banke die korrupsie en maklike geld rondom sokker in ons land aan die gang kan hou.

Eintlik is dit jammer dat Afrikaners nooit leer sokker speel het nie. Rugby en krieket is sportsoorte wat ons onherroepelik aan die Britse Ryk of die Britse Statebond verbind omdat dit slegs in daardie lande beoefen word. Hoeveel keer is ons nie al deur die Britte, die Australiërs of Nieu-Seelanders verneder omdat hulle in ons geesdrif vir sport ‘n manier gesien het om ons polities te manipuleer nie? Indien ons teen Europese spanne sokker gespeel het, sou ons nie soveel Engelse hovaardigheid en lis hoef te verduur het nie.

Dus, ons behoort vandeesweek almal verder die Nederlandse sokkerspan in hul skreeuend oranje hempies te ondersteun! Hopelik vind ons meer uit oor Nederlandse klubspanne soos PSV Eindhoven of Ajax Amsterdam of Feyenoord en begin hul vordering volg. Die feit dat ondersteuners van PSV Eindhoven hulself “boere” noem, is dalk ‘n goeie aanknopingspunt. In Nederland is daar sedert onlangs ook “vrouwenvoetbal”. Terloops, eintlik behoort ons ook na sokker op’t Nederlands as “voetbal” te verwys; dit klink soveel Afrikaanser.

Waarom nie ook vrouevoetbal onder Afrikaners nie? Een keer per jaar kan ons nasionale vrouevoetbalspan dalk in Nederland ‘n paar wedstryde teen die Nederlandse dames gaan speel? Blykbaar is dit iets wat ook in Skandinawië beoefen word.

Dit gaan egter om veel meer as voetbal en selfs vrouevoetbal. In die haglike omstandighede waarin ons ons bevind, hang ons oorlewing daarvan af om op een of ander manier by Europa aansluiting te vind. Die ramp wat as die “nuwe Suid-Afrika” bekendstaan, tesame met sy perverse, dekadente anti-wit kultuur, is byna volledig in die Engelssprekende lande uitgedink. Amerika en Engeland maak oorlog teen die Westerse en Europese beskawing en het in ons die eerste land gesien wat hulle volledig kon vernietig en in ‘n kwasi-kommunistiese utopie kon omtower waar alle klasse en rasse gelyk sou wees, met blankes wat permanente tweederangse status “vrywillig” sou aanvaar.

Die verengelste Afrikaners is vir my baie erger as Malema of enige radikale swarte. Hulle is tot die Amerikaanse leer van regstellende aksie en witskuld bekeer en sal hul eie mense na die brandstapel stuur as deel van hul popelende nuwe geloofsbelewenis. Hulle sal die universiteite, die skole, die sportspanne, die kerke en alles wat daar is “transformeer” en verengels en verswart totdat daar niks meer van ons oorbly nie. Dan is daar nog die hele uittog na Australië waar ons mense gaan verengels en ewe “vrywillig” instem tot Angel-Saksiese assimilasie.

Nou die dag het Gustav Venter hier by my kom koffie drink. Ons het saamgestem dat demokrasie in die land nie werk nie, veral nie vir Afrikaners nie. Om Afrikaners stemreg te gee, was een van die grootste foute wat ons ooit kon maak! As hulle die kans kry, stem hulle vir mev. Helen Zille of een of ander skynheilige swart Christen soos Kenneth Meshoe. As Mandela nog gelewe het, het hulle seker almal ANC gestem en hul eie leiers nogmaals verwerp. Die vinnigste manier om jou by Afrikaners ongewild te maak, is om iets vir hulle te probeer doen of ‘n standpunt ten gunste van Afrikaans of Afrikanerregte in te neem.

Vandag skryf die redakteur van Rapport in sy rubriek:

“… dat Afrikaans en Afrikaanse ruimtes gemaklik kan en moet bestaan in ’n Suid-Afrika wat asseblief tog nooit 100% Afrikaans en wit moet wees nie”.

Overgezet synde: ons kan saamleef met plaasmoorde, regstellende aksie, korrupsie, huisrowe en alles wat daarmee saamgaan, solank daar tog net nie ‘n wit, Afrikaanse skool of universiteit (of gesin?) iewers moet wees nie.

En: Wat is Rapport anders as ‘n 100% Afrikaanse koerant met hoofsaaklik wit lesers?

Dis genoeg om ‘n mens tot selfmoord te dryf. Gelukkig is daar geen wêreldberoemde katedrale in Suid-Afrika soos Notre Dame in Parys nie, anders het Afrikanerdenkers hulself ook in die kop gaan skiet soos die skrywerhistorikus Dominique Venner verlede jaar uit wanhoop gedoen het. So pas het daar twee boeke van hom postuum in Frans by die uitgewer Pierre-Guillaume de Roux verskyn. De Roux is iemand wat ook ‘n lewendige belangstelling in Suid-Afrika en Afrikaners koester. Dominique Venner het iewers gesê dat daar in Frankryk “erger vyande en van ‘n versteekte tipe is as op enige ander plek”.

Ons Afrikaners verstaan daardie gevoel van deur jou eie mense verraai te wees en versaak te word, maar té goed.

Ek dink ons moet aanvaar dat Suid-Afrika onder die impetus van Angel-Saksiese politieke korrektheid halfpad kranksinnig geraak het. Kollektiewe waansin. The madness of crowds. Daar was mos ‘n Skot, Charles Mackay, wat in die negentiende eeu so ‘n boek geskryf het. Dit volle titel is: Extraordinary Popular Delusions and the Madness of Crowds. Een van die bekende aanhalings daaruit lui:

“Men, it has been well said, think in herds; it will be seen that they go mad in herds, while they only recover their senses slowly, and one by one.”

Baie van ons ken daardie gevoel: om een vir een in ‘n malhuis wakker te word. Maar rondom jou duur dit voort.

Dis waarom ons ‘n soort uitweg of uitkoms nodig het, ‘n reddingsboei. Die Franse filosoof Gilles Deleuze, wat ook by tye ver heen was met politieke korretkheid en die uitwasse van die linkse sestigerjare in Frankryk, het gepraat van ‘n “buitekant” wat ‘n mens moet hê. Afrikaners het nie meer ‘n buitekant nie. Hulle leef volledig in ‘n lugdigte Anglo-Amerikaanse borrel waarin hulle elke dag meer en meer verdom en afgebreek word. Mense lees nie meer boeke nie; hulle lees dalk nie meer enigiets langer as ‘n paar paragrawe op die internet nie. Hulle kyk net hier en daar prentjies.

Maar ook in dié opsig voel ek Nederland kan ons red. Nederland het naamlik ‘n filmbedryf en Afrikaners kan met redelik min moeite volg wat op die skerm aangaan. Dis nie soos Frans of Italiaans waar jy sonder onderskrifte nie die verhaal sal begryp nie. Ons moet Nederlandse films onder Afrikaners bekendstel net soos Naspers en die Angel-Saksiese mediagroepe slegs Hollywood of hier en daar ‘n Britse produk bevorder.

Oor die afgelope tyd kyk ek heelwat “Kaasflieks”, soos ek hulle noem. Dis regtig ‘n vertroosting, veral ná ek my twee of drie keer aan die swak, polities korrekte Afrikaanse films wat deesdae gemaak word, blootgestel het. Sommige Kaasflieks het my ontroer of geamuseer. Ander het my weer geïrriteer en een of twee kon ek nie klaar kyk nie. In baie opsigte is Nederland ewe of nog meer dekadent as Suid-Afrika en ‘n mens moenie die land idealiseer nie. Maar ten minste is daar in Nederland verskeidenheid. Geen twee Kaasflieks is dieselfde nie! Die moderne Nederlandse argitektuur is asemrowend mooi en vele van die films is in huise of plekke geskiet waar mens doodgewoon die agtergrond kan geniet, ongeag waarheen die verhaal lei. Nederlanders is mooi mense, net soos Afrikaners. Wel, dit spreek eintlik vanself, want ons het gemeenskaplike voorouers.

Die mees onlangse Nederlandse fliek wat ek gekyk het, is Toscaanse bruiloft (2014). Dis ‘n lawwe soort romantiese komedie, maar word so oorspronklik, prettig en mooi aangebied dat die genre of die verhaal eintlik bysaak is. Alles speel in ‘n egte villa in Italië af waar Nederlanders heen gaan om te trou. Plek-plek word die Nederlandse dialoog ook onderbreek deur stukkies Italiaans en die kulturele anomalie van ‘n klomp Nederlanders wat skielik baie Italiaans en al fresco lewe, raak nooit kitsch nie. Dit word ‘n sorgvrye kyk op die “goeie Europeër” soos Nietzsche hom genoem het, iemand wat tuis in sy eie kultuur is, maar ook waardering het vir die lande, tale en tradisies rondom hom.

Die Alfa Romeo
Die Alfa Romeo

Een van die sterre in die film is ‘n rooi Alfa Romeo GTV van dertig, veertig jaar gelede wat nog hier en daar op Suid-Afrikaanse paaie te siene is. Die film spreek van bewondering vir alles wat Italiaans is: die kookkuns, ou motors, selfs ‘n verspotte ou plaasbakkie met ‘n snaakse vorm, die landskap, die argitektuur, die meubels. Alles word met ironie aangebied, dog sonder dat dit ooit soos in Suid-Afrika afbrekend en stereotiep raak. Dis amper die postmoderne liefdesverhaal waarvan die Italiaanse kritikus en skrywer Umberto Eco op ‘n keer gepraat het.

Met die graad van geweld en wanorde in Suid-Afrika, beleef ons ‘n onverklaarde, voortslepende burgeroorlog. Maar dis juis in sulke tye dat ‘n mens ook behoefte aan kultuur en ontspanning het. Jy kan nie net sit en wag vir die volgende skoot om te klap, die volgende inbraak of huisroof nie. Terwyl ons identiteit deur die staat, die media en die fanatiese Angel-Saksers aangeval word, het ons behoefte aan ‘n “buitekant”, aan ‘n wêreld wat buite die Sowjet-Engelse borrel val.

Nederland en Nederlands kan in dié donker tye vir ons so iets raak. Ons kort ‘n bietjie Nederlandse voetbal sonder kwotas of sulke mooi Kaasflieks. Noudat Afrikanerpolitiek ‘n stille dood gesterf het en ons aan die giere van die Zoeloes of liberale Engelse in ons land uitgelewer is, kan ons gerus op ‘n afstand ook die Nederlandse nuus en Europese politiek begin volg. Toegegee, ons het geen invloed daaroor nie, maar net so het ons geen invloed oor die politiek in ons eie land nie. Ten minste deel ons ‘n afkoms, ‘n taal en ‘n beskawing met Nederland, wat meer is as wat ons kan sê oor wat tans in Suid-Afrika aangaan. Malema en sy trawante is vir my net tot op ‘n punt interessant of snaaks. En of Naledi Pandor by Russel Botman se begrafnis was, kan my ewe min skeel as om te weet wat die temperatuur vandag in Sacramento, Kalifornië, is. Dit traak my regtig nie.

Ons het ook nie toestemming van Nederlanders of Nederlandse amptenare nodig om daardie dele van hul kultuur wat tot ons spreek, toe te eien of te geniet nie. Die verkeerdste manier om enige kulturele wisselwerking tussen ons en Nederland aan te pak, sou wees om met die ambassade in Pretoria ‘n afspraak te maak. Nie net het iets van die vorige Hollandse vyandigheid by die ambassade oorgebly, uit die dae toe Nederlanders geld aan Stasi- en KGB-agente geskenk het om motorbomme in ons stede te plaas nie, maar alle amptelike kontak moet mos altyd met swartes geskied. Die belangstelling in Nederlandse films, boeke of idees by ons regering is seker nóg laer as in Afrikaans, met ander woorde iewers benede nul, dus sou ons ons tyd met enigiets ampteliks verspil.

Die internettydvak is egter by uitstek geskik vir guerillabemarking en alternatiewe maniere van doen. Dus kan ons ons mense se belangstelling in Kaasflieks en vrouwenvoetbal en wat ook al begin prikkel.

Sodoende kan ons dalk minder soos zombies begin dink en optree en meer soos die beskaafde mense wat ons eens was.

Die hoop beskaam nie.

Wat Afrikaans betref, is ek baie trots op my taal. Ek is daarvan oortuig dat Afrikaans eintlik in sy huidige vorm reeds in die sewentiende eeu bestaan het en eeue gelede ‘n belangrike rol in Noord-Europa en in die handel ter see gespeel het. Daar is vele woorde in Afrikaans wat dit verklaar. Ons het Europa nodig, maar Europa het ons en ons oer-Europese dialek wat hier aan die Kaap kom uitspoel het en só lank in die skadu van Engels om oorlewing moes veg, ook nodig. Ons wedersydse voortbestaan mag daarvan afhang.

Ons moet ons oopstel vir die ander, sê die postmoderne filosowe. Laat ons meer ontvanklik en “oop” vir Nederland en Vlaandere raak.

Ns. Stuur ‘n epos aan inlig@praag.org en ons stuur vir jou ‘n aflaaiskakel vir Toscaanse bruiloft. (Hier is ‘n kort YouTube-voorprent van 55 sekondes.) Nooi jou vriende uit en hou bioskoop (die Nederlanders spel dit met ‘n “c”, “bioscoop”) sommer daar waar jy is, op jou rekenaar, tablet, foon of platskerm-TV, wat jy ook al het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.