Woolworths-transaksie in Australië lyk verdag

Deel op

Die Australiese reguleerder is bekommerd oor die hoë prys wat Woolworths vir die kleinhandelbates van mnr. Solomon Lew betaal. Die Suid-Afrikaanse groep is besig om die kleinhandelgroepe Country Road en David Jones uit te koop teen pryse wat Lew uitermate gaan bevoordeel.

Woolworths bied $2 miljard (R21 miljard) vir die afdelingswinkel David Jones aan, ‘n bod wat gevolg is deur A$213m (R2,15 miljard) vir Solomon Lew se 11,88%-aandeel in die klerewinkelketting Country Road. Woolworths verkoop reeds Country Road-klere in Suid-Afrika.

Country Road se aandele verhandel teen omtrent 30 keer die verdienste van die afgelope 12 maande en David Jones teen 23 keer die jaarlikste verdienste. Hierteenoor verhandel hul Australiese mededinger, Myer Holdings, teen ‘n prysverdiensteverhouding van slegs 12. Waarom sou Woolworths so duur vir Solomon Lew se bates wou betaal?

Volgens die Australiese Sekuriteite- en Beleggingskommissie behoort daar ‘n “deskundige waardasie” van die David Jones-aandele by hul bod ingesluit te word sodat beleggers ‘n ingeligte besluit kan neem.

“Ondanks ‘n periode van 17 jaar wat hy gehad het om die aandele uit te koop, het Woolworths besluit om slegs die oornamebod vir Country Road te maak toe mnr. Lew ‘n materiële belang in David Jones verkry het,” sê die Australiese reguleerder in hofstukke rondom die saak.

“Dié aanbod bied ‘n bykomende voordeel (wat nie aan ander aandeelhouers van David Jones beskikbaar is nie) aan mnr. Lew en sou in analoë omstandighede van ‘n oorname nie toelaatbaar wees nie.”

Die kommissie se beswaar is egter deur die hof van die hand gewys en sal na verwagting nie Woolworths se aanbod van R20 miljard vir David Jones, Australië se naasgrootste kleinhandelaar, laat ontspoor nie.

Woolworths meen die Country Road-transaksie word om handelsredes gedoen en maak deel uit van sy langdurige begeerte om minderhede in die luuksekleinhandelaar uit te koop.

“Daar is geen ooreenkoms met Solomon Lew rakende die bod vir Country Road nie. Dit word om goeie handelsredes gedoen en Country Road sal hul eie deskundige mening oor die waardasie bekom,” sê die woordvoerder vir Woolworths, Nic Bennett.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.