Numsa betoog voor Eskomhoofkantoor

Deel op

Kragtens ‘n hofbevel wat aan Eskom toegestaan is mag sy werkers wat lede van die metaalwerkersvakbond Numsa is, nie staak nie.

Meer as 200 000 werkers in die metaal- en ingenieursbedryf het Dinsdag begin staak.

Die Arbeidshof het beslis dat die werkers van Numsa nie by enige van Eskom se aanlegte aan ‘n staking mag deelneem nie, aangesien Eskom ‘n noodsaaklike diens verskaf.

Eskom, net soos hospitale, nooddienste en die polisie het die status van ‘n noodsaaklike diensverskaffer waar werkers nie mag staak nie.

Dit sal lede nie verhoed om aan betogings deel te neem nie, het Numsa egter gesê. Die vakbond sê sy lede sal nie deur Eskom geïntimideer word nie.

Numsa beoog om Woensdag te betoog voor Eskom se hoofkantoor in Megawatt-park Sunninghill, noord van Johannesburg.

Eskom het intussen gewaarsku dat dissiplinêre stappe teen Numsa-lede geneem sal word as hulle die hofbevel verontagsaam.

‘n Woordvoerder van Eskom, Andrew Etzinger, sê dit is in die belang van die land se ekonomie om te verseker dat daar nie kragonderbrekings is weens die staking nie.

Sowat 10 000 werkers by Eskom behoort tot die metaalwerkersvakbond wat vroeër aangedui het dat hulle ‘n onbeskermde staking oorweeg.

Die hoofsekretaris van die vakbond, Irvin Jim, sê lede sal by verskeie maatskappye betoog.

Jim is vol vertroue dat Numsa deur die staking genoeg druk op werkgewers sal plaas om hulle aanbod te verhoog na 12%.

Stakers in Gauteng eis egter vyftien persent.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.