Dinge wat swartes by my gesteel het

Sedert Ruth First in die veertigerjare in die destydse kommunistiese weekblad, The Guardian, begin skryf het dat blankes in ons land die swartes se grond “gesteel het”, het die mite toenemend veld gewen. Vandag is dit so te sê evangelie in Suid-Afrika se hoofstroommedia.

roodt_fbfotoFirst se lesing van die geskiedenis verteenwoordig egter haar interpretasie, gegrond op die teorieë van Marx en Engels. ‘n Meer letterlike vorm van diefstal vind elke dag in Suid-Afrika plaas. ‘n Week of twee gelede het my suster, wat ‘n rekenmeester is, se Malawiese tuinier al drie haar skootrekenaars gesteel. Hiermee is haar lewe in ‘n krisis gedompel. Op haar rekenaars was honderdduisende rande se werk wat sy oor maande voltooi het, asook programmatuur met kodes en wagwoorde wat groot onkoste en moeite verg om te vervang.

Sy was so kwaad dat sy in haar bakkie geklim en na die tuinier se huis in Diepsloot gery en gedreig het om hom met ‘n stuk hout dood te slaan. Nodeloos om te sê, het die polisie, hoewel behulpsaam, niks verder kon doen om haar vir die verlies te vergoed of om die rekenaars terug te kry nie.

Intussen moes sy tienduisende rande op verdere veiligheidsmaatreëls by haar huis uitgee, kameras, elektriese heinings en dergelike meer. Reeds woon die meeste van ons in privaattronke want daarbuite loop die skelms rond wat by die geringste geleentheid ons van ons besittings of van ons lewens kan ontneem.

Ons ingewikkelde, delikate, blanke lewens waarin die meeste van ons sukkel om balans te vind, tussen vriende, kliënte, kollegas, familie, werkgewers, werknemers, rekenaars, selfone en die stryd om ekonomies te oorleef, kan eensklaps deur ‘n swart misdadiger omvergewerp word. Sy onbesonne daad ontketen ‘n kettingreaksie wat maande en jare lank nog gevoel kan word.

Geweldsmisdaad is op almal se lippe. Maar daar is ook iets aan die konstante diefstal van ons goed, dikwels persoonlike of onvervangbare items, wat die verhouding tussen wit en swart in dié land vir altyd bederf. Vandaar die opskrif hier bo: “Dinge wat swartes by my gesteel het.”

Ek dink elkeen het ‘n verhaal om te vertel. Graag verneem ek daarvan, hoe gering of onbenullig ook al. Dit mag ‘n foto-album wees, ‘n mansjetknoop wat jy by jou oupa geërf het, jou ouma se goue armband, ‘n antieke kamera wat vandag waardeloos is maar wat sentimentele waarde het, ‘n paar gunstelingskoene, ‘n ou motor wat jy so goed opgepas het en nou skoonveld is.

Terwyl Ruth First se mitiese “gesteelde grond” oral druk bespreek word en al die polities korrekte kommentators in die media hulle met die idee vereenselwig dat blankes hul plase aan swartes moet oordra, weet ek van nêrens waar daar na die miljarde, nee triljoene rande se goedere verwys word wat swartes oor die afgelope meer as drie eeue by ons gesteel het nie. Dink net as ons op ‘n dag daarvoor vergoed kan word!

Omdat ons vir ‘n paar jaar hier in Johannesburg naby die swart woonbuurt Alexandra gewoon het, het ons gesin besonder swaar onder diefstal deurgeloop. Ons huis is byna elke jaar van waardevolle en persoonlike besittings gestroop. Die inbrekers het, ongeag die diefwering en alarmstelsel deur die vensters ingekom, deur die glas langs die voordeur, selfs deur die dak en plafon. Hul vindingrykheid het geen perke geken nie. Eers toe ek in Frankryk gaan woon het, kon ek ‘n persoonlike klerekas opbou, want voorheen is al my klere jaarliks gesteel.

Deesdae woon ek in ‘n veiligheidsbuurt, maar selfs hier het ‘n bediende ‘n paar skoene van my gesteel waaraan ek besonder geheg was en wat ek eers later agtergekom het. Dit was ‘n paar skoene wat ek op ‘n uitverkoping in Londen gekoop het en wat my volmaak gepas het. Die model word nie meer gemaak nie en daarom is hulle onvervangbaar. Ek het hulle soos goud opgepas en elke keer as ek hulle gedra het, was dit vir my ‘n spesiale geleentheid.

Sy het ‘n seun gehad vir wie sy waarskynlik die skoene vasgelê het. Hy of sy sou nooit kon weet watter waarde daardie paar skoene vir my gehad het nie, waarvan die geldwaarde maar ‘n geringe aspek was. Dit was ook ‘n soewenier van ‘n besoek aan Londen, van ‘n middag in die National Gallery waar ek na Turner se skilderye gaan kyk het, van daardie ragfyn weefsel van ons verfynde Europese kultuur waarvan ons net ‘n deeltjie in ons lewens kan opdoen of bemeester. Ná haar bedanking het ons nog ‘n ander bediende gehad, maar teen die derde selfoon wat sy in ons huis gesteel het, het ons haar in die pad gesteek en nog nooit weer ‘n bediende gehad nie.

Gelukkig steel swartes nie boeke nie, dus het ek nog al my pa en my oupa se boeke wat ek van hulle geërf het. Tydens my verblyf in Europa het ek my egter verstom oor die ou antieke voorwerpe en objets d’art waaroor Europeërs beskik, want natuurlik het hulle meesal nie bediendes of tuiniers nie. Ons sou ook sulke dinge gehad het, maar ons word so gereeld besteel dat ons eenvoudig nie ‘n persoonlike versameling van enigiets kan opbou nie.

Toe my kinders onlangs nog op skool was, het die onderwyseres eenkeer aan die klas gevra wie se huise die afgelope jaar of twee beroof is. Meer as die helfte van die kinders het hul hande opgesteek. Ons kinders word groot in ‘n kleptomaniese samelewing waar diefstal die norm is. Geen wonder die staatskas of die munisipaliteite word ook geplunder nie, want dit is feitlik die norm.

Iewers in Nelson Mandela se biografie, wat deur die Amerikaner Richard Stengel geskryf is, Long walk to freedom, loof hy veediefstal as ‘n soort kuns. Hoeveel vee het swartes nie oor die jare by ons gesteel nie? Veediefstal op die berugte Lesotho-grens is blykbaar so erg dat grensplase aan die SA kant blykbaar so te sê waardeloos is.

In die eerste boek van die Nobelpryswenner, J.M. Coetzee, Dusklands, beskryf hy hoe sy voorouer, Jacobus Coetzee, op ‘n ossewa die binneland intrek en hoe sy wa uiteindelik deur ‘n klomp Hottentotte gestroop word omdat hulle blykbaar nie die begrip “privaatbesit” verstaan nie:

“All was not well. A ring of strangers had collected at the tailgate where Klawer seemed to be scuffling with someone. My other four men were standing helplessly to one side. ‘What is going on here?’ I asked. I looked at Plaatje. He drew his shoulders up miserably. ‘I leave you for half an hour and I come back to chaos!’ ‘They are stealing, master.'” (bl. 78)

Elke fiets wat ek as kind gehad het, is gesteel. Enkele jare gelede het ek op ‘n fiets na ons plaaslike supermark gery en daar aangedoen omdat ek dors geraak het. Ek het geweet dat die fiets ‘n aanloklike teiken vir enige jagterversamelaars in die omtrek sou wees. Terwyl ek na die yskas  met koeldranke, water en glukosedrankies gestap het, het ek kort-kort omgedraai om te kyk of ek die agterwiel nog by die ingang kon gewaar waar ek dit gelaat het. Toe ek die glukosedrankie uit die yskas neem en omdraai, was die wiel skielik weg. Ek het net daar by die winkel uitgehardloop en, ja, so wrintiewaar, daar was ‘n swarte op my fiets besig om teen die opdraande uit te trap. As hy in die teenoorgestelde rigting gery het, teen die afdraande af, sou ek hom nooit kon inhardloop nie. Dus kon ek my fiets weer by hom afneem. Ek was maar te bly om dit terug te kry en het nie eens ‘n klag probeer lê of hom ‘n paar taai klappe probeer gee nie.

By al die liefdadigheid wat blankes teenoor swartes via die kerke en ander organisasies beoefen het, om nie van ons belastings te praat wat al dekades lank op swart onderwys, welsyn en gesondheid bestee word nie, is daar die werklikheid van al ons besittings wat oor jare heen deur swartes gesteel is. In Bloemfontein het ek die grappie gehoor:

“Daar is slegte én goeie nuus. Die slegte nuus is ons moet nou almal in Botshabelo gaan woon. Die goeie nuus is: al ons goed is klaar daar.”

Hoe wáár is dit nie! Ons wat deur kranksinnige linkses soos Ruth First en haar eietydse volgelinge van ‘n abstrakte “eiendomsdiefstal” – terwyl swartes nooit enige vorm van titelakte beoefen het nie – beskuldig word, was oor jare, dekades en eeue heen die slagoffers van konstante diefstal. Hoe op aarde kan daar van ons verwag word om swartes te vergoed vir apartheid en ander onsigbare morele delikte, as swartes ons nog altyd sonder ophou van ons werklike besittings ontneem het?

Ek wil nie ‘n groot morele of politieke kwessie hiervan maak nie. Vir my gaan dit meer oor die persoonlike verliese wat ons gely het. Want elke ding wat ons verloor het, verteenwoordig ook ‘n trauma-in-die-kleine, ‘n verlies en skending van jou privaatheid. Al word dit nie met geweld van jou afgeneem nie en bloot in jou afwesigheid gesteel of vasgelê, maak dit tog inbreuk op jou eie klein wêreld. Ons stam af van Noord-Europeërs wat van die eerlikste mense ter wêreld is, waar ‘n mens spreekwoordelik nie eens jou voordeur hoef te sluit nie. Waar ‘n mens op jou medemens kan vertrou om nie jou goed te vat as jy jou rug draai nie. Daarom is dit soveel te meer traumaties om jou tussen mense te bevind vir wie diefstal blykbaar ‘n soort lewenswyse is.

As ek dink aan die dinge wat swartes by my gesteel het, dan dink ek aan my matriekafskeidpak, daardie paar Londense skoene, my ouma en my ma se juwele wat by my suster gesteel is, ‘n 8-mm-kamera en -films waarop my atletiekloopbaan op hoërskool deur my pa vasgelê is, asook ‘n groen Volkswagen wat tydens ons Durbanse jaar buite ons woonstel gesteel is en stukkend en gebreek in Zoeloeland teruggevind is. Ek onthou nog op hoërskool daardie gevoel as ons tuisgekom het en die gat in die glas langs die voordeur gesien het en geweet het dat daar weereens by ons ingebreek is.

Natuurlik gebeur daar veel erger met mense in dié gewelddadige, misdadige land. Selfs menselewens word gesteel, die asempies van kinders soos Willemientjie Potgieter of Danielle Esterhuizen, met dieselfde argeloosheid as wat die hangkaste in ons slaapkamers oopgeruk word.

Soos Jacobus Coetzee in J.M. Coetzee se verhaal, is ons verskriklik getraumatiseer deur die kultuurverskil in dié land.

Daarom sou ek vandag graag by my lesers wou verneem: Wat het swartes by jóú gesteel? ‘n Armband, of rok of baadjie? ‘n Horlosie? Jou selfoon met al jou nommers op? Hoe gering die item of hoe onbenullig die voorval ook al, sou ek graag daarvan wou hoor. Gebruik die kommentaarblad hier onder.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.