Frankryk, Duitsland deur na kwarteindronde van wêreldbekersokker

‘n Groot aantal Amerikaanse TV-kykers word vanaand verwag as die VSA vir België pak

Sowel Frankryk as Duitsland het gisteraand geseëvier in hul uitspeelwedstryde, onderskeidelik oor Nigerië en Algerië, en sal mekaar in die kwarteindronde van die wêreldsokkerbeker in Brasilië ontmoet.

Beide Europese spanne het egter gesukkel om die mas teen hul swakker opponente op te kom. Nigerië se reusesokkerspelers het die baan op en af gehardloop en het by tye die Franse span, wat insgelyks uit ‘n meerderheid swart spelers bestaan, oorheers. Eers toe Frankryk ná rustyd met ‘n behoorlike wedstrydplan vorendag kom, het hulle begin om die doelhok van die Nigeriërs te bedreig. Ná verskeie mislukte pogings het Paul Pogba ‘n kopskoot met slegs 11 minute speeltyd oor, ingekry.

Joseph Yobo van Nigerië het sy span se lot verseël toe hy ‘n eie doel aangeteken het, om Frankryk met 2-0 te laat wen.

Franse sokkerspan vier fees ná die wedstryd teen Nigerië
Franse sokkerspan vier fees ná die wedstryd teen Nigerië

Die wedstryd tussen Duitsland en Algerië was volgens kenners een van die opwindendstes tot dusver en is eers gedurende ekstratyd beslis. Beide spanne het nie minder nie as 38 keer probeer punte aanteken – 28 keer deur Duitsland. Dit verteenwoordig ‘n rekord vir ‘n wedstryd tydens die huidige wêreldbeker.

Andre Schürrle het kort ná die aanvang van ekstratyd in die 92ste minuut ‘n doel vir Duitsland aangeteken en só verligting gebring. Hy het die bal van Thomas Müller vanaf ‘n kruisskop ontvang en dit toe met sy hak verby die Algerynse doelwagter Rais M’Bholhi in die net ingeskop.

In die 119de minuut slaag Mesut Ozil vir Duitsland met ‘n hoë skop na die dak van die doelhok en laat sy span sodoende met 2-0 voorloop.

‘n Minuut of twee later teken Abdelmoume Djabou ‘n doel vir Algerië aan sodat die Algeryne met eer uit die stryd tree, nadat hulle Duitsland vir twee ure goed besig gehou het.

Vanmiddag om 18:00 speel Switserland teen Argentinië om te bepaal wie na die kwarteind deurdring. Die wedstryd word regstreeks op SABC2 uitgesaai. Switserland, wat vanjaar ‘n baie goeie span het, het nog nooit vantevore teen Argentinië kon wen nie. Beroepswedders stel die kanse vir vanmiddag se wedstryd só:

Argentinië wen: 1/2

Switzerland wen: 13/2

Gelykop: 17/5

Lionel Messi in 2009
Lionel Messi in 2009

Die Argentynse span word aangevoer deur Lionel Messi, wat gewoonlik vir die Barcelona-klub speel en naas Cristiano Ronaldo van Portugal tans as die beste speler ter wêreld beskou word.

In vanaand se tweede wedstryd speel België uit teen die VSA, om 22:00 Suid-Afrikaanse tyd. ‘n Kykertal van tussen 13 en 16 miljoen word op die sportkanaal ESPN verwag en blykbaar raak die Amerikaners ook toenemend sokkermal, veral as hul span op die veld is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Rooikop

    Wie gee om? Nog ‘n sportgod wat gebruik word om die multikulti baal sirkus in die wêreld te bevorder.

  • Karel Combrinck

    Vere!