Onbillike regstellende aksie is gelyk aan rassediskriminasie, bevind hof

Deel op

Kader-ontplooiing in Suid-Afrika is wydverspreid en het gelei tot “die aanstelling van ‘n groot aantal onbekwame mense waarvoor hulle nóg die ervaring nóg die kwalifikasies beskik’.

Dit het tot baie ernstige probleme gelei, veral op die vlak van plaaslike regering, waar dienslewering gebrekkig is, met gepaardgaande politieke betogings en onrus waarvan sommige gewelddadig geraak het.

In ‘n ontleding van onlangse regspraak in die Natalse koerant The Mercury, erken die grondwetlike regskenner professor George Devenish dat die vul van ‘n beperkte aantal staatsdiensposte deur die regerende party – soos in ander demokrasieë gebeur – geregverdig is. Devenish bring dit egter onder die aandag dat die Hooggeregshof in die saak Vuyo Mlokoti v Amathole District Municipality bevind het dat kaderontplooiing inderdaad onwettig is.

Die hof het bevind dat die aanstelling van kaders “‘n ongemagtigde en ongeregverdigde ingryping in die sake van die distriksraad verteenwoordig. Dit is duidelik dat die raadslede van die ANC hul verantwoordelikheid om die pos van munisipale bestuurder met die beste en mees geskikte kandidaat te vul, gruwelik versaak het.”

Devenish skryf dat, in weerwil van artikels 9 (2), 195 en 217 van die Grondwet wat regstreeks vir regstellende aksie voorsiening maak, dit nie op so wyse toegepas moet word dat dit op onbillike diskriminasie neerkom nie. “Boonop moet irrasionele en onbillike regstellende aksie noodwendig tot ondoeltreffendheid lei en bydra tot negatiewe houdings teenoor lede van benadeelde groepe. Regstellende aksie behoort op ‘n sensitiewe en konstruktiewe wyse toegepas te word en nie neer te kom op blatante, verdoeselde rassediskriminasie nie.”

Vuyo Mlokoti v Amathole District Municipality and another (1428/2008)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.