Beeld-redakteur prys ATKV vir sy multikulturele Afrikaans

Deel op

Nadat Beeld vanjaar ‘n veldtog teen die laaste Afrikaanse kampus, dié van die Noordwes-universiteit te Potchefstroom, gevoer het, vind die redakteur, Adriaan Basson, dit Saterdag goed om die ATKV te loof vir sy bevordering van multikulturele Afrikaans.

Hier volg ‘n uittreksel uit Adriaan Basson se rubriek:

Die stille sukses van die ATKV

“Terwyl die taalvure opnuut brand, is daar ’n organisasie wat stil-stil waarskynlik meer vir Afrikaans doen as al die ander saam.

“Dit is nie ’n organisasie wat groot politieke uitsprake maak of mense bangpraat of valse propaganda links en regs versprei nie. Hulle bou eerder. Hulle vernietig grense en neem Afrikaans na nuwe plekke en monde.

“‘Trots Suid-Afrikaans in Afrikaans’ is nie verniet hul leuse nie.

“Ek het hierdie week weer aan die ATKV gedink toe ek met Marno Swart en Mericia Els van die Hoërskool Waterkloof gepraat het oor hul deelname aan vanjaar se ATKV-debats- kompetisie. Ek het met nostalgie teruggedink aan my eie deelname aan die einste kompetisie, asook die ATKV se redenaars- en tienertoneelkompetisies.

“Ek onthou die opwinding as die ATKV die jaar se onderwerpe vir redenaars bekend gemaak het. Die spoeg het gespat as ons klomp puisiegesigte losgetrek het oor “grense”, “die toekoms van Afrikaans” of “die rol van geloof”.

“En ek onthou die strawwe mededinging van die toneelkompetisie en hoe ongelooflik ernstig ons onsself en ons eie toneelstukke opgeneem het. Maar: Dit het ons verhoogervaring gegee en geleer hoe om voor mense te praat. Dit het ons selfbeelde gebou en ons blootstelling gegee aan mense wat nie soos ons lyk of klink nie.

“Ek kon hoor in Marno en Mericia se stemme hoe ernstig hulle die debat beskou en hoe goed voorbereid hulle was.

“En ek het gedink: wat ’n puik inisiatief! En gewonder: Sê mense ooit vir die ATKV dankie vir wat hulle vir ons mense en veral ons kinders doen?

“Daar is nie ’n ATKV in Zoeloe of Sotho of Xhosa nie. Dis jammer. Hierdie taalgroepe kan gerus by Japie Gouws en sy span leer hoe om ’n inklusiewe, dinamiese organisasie te bou wat hom veral toespits op die ontwikkeling van ons jongmense.

“Die ATKV maak Afrikaans cool en bevorder die taal, eerder as om alewig die taal te wil beskerm teen een of ander verbeelde gevaar.

“Luister ’n bietjie na hul lys van projekte: Applous, Korekompetisie, Liedjieslypskool, Filmfundi, Jeugberaad, Leierskapsontwikkeling, Muziq, Rieldans, Universiteitesêr, Tienertoneel, Debat, Leesprojek, Olimpiade, Redenaars, Meertaligheid, Onderwyskopskuif en Handevat. En dis maar net ’n paar.

“Onlangs is ek genooi na ’n geselligheid van die ATKV op die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Soweto-kampus. Ek kon ongelukkig nie gaan nie.

“Die volgende dag skryf my kollega Pauli van Wyk in Beeld: ‘Afrikaans sal volgende jaar die eerste keer op die UJ se Soweto-kampus gedoseer word.’ Ek val amper van my stoel af.

“Hier sit en wroeg ons alweer (sic) oor Afrikaans se voortbestaan en in Soweto groei die taal.”

* * *

Intussen het dit nóg moeiliker geraak om Beeld aanlyn te lees. Tot dusver kon ‘n mens die koerant lees deur die koekies van jou blaaier af te skakel, maar blykbaar is dié skuiwergat nou toegemaak want ‘n mens ontvang nou ‘n boodskap wat jou verplig om die koekies aan te skakel. Beeld weet ook nie wat die Afrikaanse woord vir ‘n “cookie” is nie en gebruik dit op Engels.

Naspers, die eienaars van Beeld, het volgens ‘n onlangse aankondiging R7,5 miljard se kontant aan nuwe e-handel-webblaaie bestee waaruit hy blykbaar nog geen sent wins gemaak het nie, maar kan nie sy Afrikaanse dagblaaie vir lesers dwarsoor die wêreld beskikbaar maak nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.