Die nuwe minister van kommunikasie Faith Muthambi wil die parlement se magte oor die SAUK inperk.
Die Sunday Times het Sondag berig dat Muthambi erken het dat meer beheer oor oor SAUK-raadslede in die vooruitsig stel.
Die minister sal raadslede byvoorbeeld eensydig kan afdank.
Ingevolge die Uitsaaiwet van 2009 mag raadslede tans net deur die Nasionale Vergadering afgedank word, en eers nadat die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie ondersoek ingestel het na die spesifieke geval.
Volgens die minister is die huidige raad te groot en duur en wil sy die aantal lede van 12 tot vyf verklein.
Frans Cronjé van die SAIRV sê die SAUK sal die rol van ’n ministerie van propaganda vervul.
Muthambi se nuwe departement is deur pres. Jacob Zuma aangekondig om beheer te neem oor die SAUK, die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika en alle staatskommunikasie.
“Dit is nie verregaande om dit ’n propagandaministerie te noem nie,” het Cronjé gesê.
Mosiuoa Lekota, Cope-leier, het gesê dié stappe sal die ANC beheer oor die openbare uitsaaier gee.
“Dit gaan die regerende party groter eksklusiewe seggenskap oor die uitsaaier gee.”
Hy het gesê die politieke beheer oor die SAUK is reeds problematies.
Muthambi het nie gister op versoeke om kommentaar gereageer nie.