Alain de Benoist en ons gevestigde wanorde

Deel op

Een van die grootste tragedies van die nuwe Suid-Afrika, benewens die geweld, moorde en die agteruitgang van Afrikaans, is die toenemende gebrek aan denke by Afrikaners. Terwyl vorige geslagte hulle gretig verdiep het in die beste van Westerse en Europese denke, dobber die huidige geslag op die oppervlak van die lewe: veramerikaniseer en oningelig.

Dan RoodtOok die Afrikanerpolitici soos FW de Klerk en sy nakomelinge het glad nie oor die aard van ons samelewing of moontlike toekomsscenario’s nagedink toe hulle polities voor die ANC en SAKP gekapituleer het nie. Wat ons moet verstaan, is dat die Afrikaner nooit sedert 1902 militêr verower is nie, maar wel weens ‘n gebrek aan denke tans sy ondergang beleef.

Die De Klerk-geslag, asook vandag se DA-politici, is volledig onder die invloed van die Amerikaanse en Sweedse smeltkroes-idee van die 1940s en 1950s. In weerwil van die groot veranderinge in ons land en in die wêreld, verkies hulle om die heersende ideologie van multikulturalisme en veelrassigheid, selfs die algemene antipatie jeens blankes, na te praat.

Wat vir politici geld, geld selfs in ‘n hoër mate vir skrywers, akademici en joernaliste. Ons het gesien hoe die koerant Beeld vroeër vanjaar die Universiteit van Potchefstroom beswadder het ten einde sy status as een van die laaste Afrikaanse enklawes in die hoër onderwys te beëindig. As ons aan die Afrikaanse letterkunde dink, spring ‘n figuur soos André P. Brink in die oog. Nie net skryf hy sy prulverhale oor historiese blanke boosheid in Engels en vertaal hulle agterna in Afrikaans nie, maar hy koester ‘n afkeer en moontlike haat vir sy eie mense. Tydens ‘n Franse TV-program het hy verklaar dat “Afrikaners verdien om te verdwyn”. Lord Milner kon dit nie beter gestel het nie.

Sekerlik was ons hele volk oor die afgelope aantal dekades die slagoffers van ‘n sielkundige oorlog en propagandaveldtog soos min in die geskiedenis. Hierdie propagandaveldtog mag die verwarring van die man op straat verklaar, maar nie die patetiese konformisme van die Afrikaner-elite nie.

Verengelsing vernietig nie net Afrikaans nie, maar ook ons vermoë om onafhanklik te dink. Ons kyk na die wêreld deur ‘n Amerikaanse bril en vind dit goed en mooi dat swartmense op alle gebiede soos in die Hollywoodfilms, leiersposisies moet beklee terwyl Europa as ‘n ou, agterlike vasteland waar mense snaakse tale praat, uitgebeeld word.

Afgesien van die lesers van hierdie webblad, is Afrikaners byna heeltemal onkundig oor die belangrike denkrigtings wat oor die afgelope dekade of meer in twee van ons stamlande ontstaan het: Nederland en Frankryk. Nederlands behoort vir elke Afrikaner toeganklik te wees, aangesien ‘n mens dit met min moeite kan lees en verstaan. Trouens, Afrikaans is eintlik maar sewentiende-eeuse Nederlands en Platduits wat ons Afrikaners so pragtig gestandaardiseer het. Met die koms van die internet, verteenwoordig Nederland-Vlaandere-Suid-Afrika eintlik een taalgebied waar variante van Nederlands gepraat en geskryf word.

Pim Fortuyn was onlangs die eerste Nederlander wat sy land daartoe opgeroep het om weer sy wortels en identiteit te herontdek. Nie verniet nie is daar ‘n sluipmoord op hom uitgevoer, maar sy boeke en nalatenskap is onvernietigbaar. Hy het die politieke en denkrevolusie in Nederland ontketen wat die opkoms van die Partij voor de Vrijheid (PVV) moontlik gemaak het. Sentraal by Fortuyn, asook sy geesgenoot, Martin Bosma, staan die kritiek op die Amerikaanse “sixties” en die linkse revolusie wat wêreldwyd op die hippie-tydvak gevolg het.

Onderliggend aan hierdie kritiek op Amerikaanse multikulturalisme en kulturele marxisme, is ook ‘n begeerte om te “verontengels”. Met die uitsondering van die jong koningin Wilhelmina wat saam met die Transvaal en die Vrystaat tydens ons Tweede Vryheidsoorlog gestaan het, het Nederland oor die afgelope twee eeue nog altyd die groter en sterker Brittanje se geopolitiek nagevolg. “Koninklijke Olie” heet nie verniet “Royal Dutch Shell” nie; dis ‘n half-Engelse, half-Nederlandse onderneming wat Nederland volledig aan Anglo-Amerikaanse beleid verbind.

Dit is daarom soveel te meer merkwaardig dat die PVV van Nederland en Franrkyk se Front National onlangs op die Europese vlak begin saamwerk het. Daar bestaan ‘n onderlinge samekoms van denke tussen die regse bewegings in albei lande wat vir ons en die hele Europese wêreld groot belofte inhou.

Ongelukkig is Frans nie meer vir Afrikaners, anders as Nederlands, toeganklik nie. Vroeër jare was dit wel onder Afrikaners mode om Frans te leer en is die taal ook in die meeste goeie Afrikaanse skole gedoseer. Met die koms van die internet en goedkoop aanlyntaalkursusse het ons egter geen verskoning meer om nie ook Frans en Duits onder die knie te kry en sodoende met ons stamlande weer ‘n intellektuele band te smee nie. Tans leer ek elke dag bietjie Sweeds en hoop om die taal teen die einde van die jaar te praat en te lees. Eintlik is dit nie so ver van Afrikaans af as wat ‘n mens sou dink nie. Vele woorde beskik oor dieselfde wortels en die grammatika is, vergeleke met Frans of Duits, taamlik eenvoudig, soos dié van Afrikaans!

In ‘n hoë mate hang ons oorlewing van ‘n meer intieme verhouding met Europa af. Dit is slegs wanneer ons van die nuanses van Europese denke bewus raak, dat ons sal besef dat daar wel vir ons ‘n uitweg uit die huidige doodloopstraat is waarin ons ons bevind.

Tot onlangs is Frankryk ironies gesien as die vesting van linkse en selfs dekadente denke. Die neomarxisme van Amerika is ten dele ook vanuit Frankryk daarheen uitgevoer. Slegs linkse of polities korrekte boeke in Frans is na Engels vertaal, wat verder die indruk gewek het dat Frankryk in wese, amper soos die voormalige Sowjetunie, ‘n linkse land was.

Niks kan egter verder van die waarheid wees nie. Soos ons onlangs gesien het, is Frankryk die enigste groot land met ‘n noemenswaardige politieke beweging wat onbeskaamd regs en nasionalisties is. Maar dit strek veel verder. Onbekend aan die res van die wêreld, of ten minste aan die Engelse wêreld, het daar in die twintigste eeu vele bewegings in Frankryk plaasgevind wat die grondslag vir nuwe denke oor identiteit en Europese voortbestaan geskep het. ‘n Hele skatkis van boeke en idees is die afgelope eeu en meer in Frans geproduseer wat nie net die huidige probleme met rasse en kulture vooruitloop nie, maar ook oplossings daarvoor aanbied.

Parys is ‘n stad van boekwinkels en skrywers. In die verlede was dit nie ongewoon vir Franse skrywers en denkers om binne een leeftyd negentig boeke te skryf nie! Dít met die pen of op ‘n tikmasjien sonder rekenaars. Nou die dag ontdek ek op my boekerak een van my pa se ou boeke, nogal in Afrikaanse vertaling, deur so ‘n skrywer van 91 boeke, André Siegfried, met die titel: Engeland se krisis in die 20ste eeu (Pretoria: Van Schaik, 1932). Hy was ‘n ekonoom en kenner van Engeland en bied in dié boek heeltemal ‘n ander perspektief as dié waaraan ons gewoond is. Geen wonder dat die boek in 1932 deur ‘n regsdosent aan Tukkies in Afrikaans vertaal is nie! Interessant is insgelyks dat Siegfried ‘n Protestant was en boonop ‘n titel in Frans oor Suid-Afrika geproduseer het. Het hy ‘n band met ons gevoel vanweë die Franse Protestante of Hugenote wat in die sewentiende eeu hierheen gekom en saam met die Hollanders en Duitsers saam-saam verafrikaans het?

Indien ons universiteite nie deur kranksinnige, anglofiele multikulturaliste beset was nie, sou ‘n klomp van dié Franse boeke deur akademici met regeringsubsidies of -befondsing in Afrikaans vertaal kon word, om dit sodoende vir Afrikaners toeganklik te maak. Helaas, gaan dit nie gebeur nie en sal ons eenvoudig self op die internet so ‘n ruimte moet open waar Franse idees opnuut in Afrikaans en onder Afrikaners bekendgestel kan word.

Tussen die twee wêreldoorloë was daar ‘n Franse beweging met die naam, die “Nonkonformiste”, wat uit jong intellektuele bestaan het. Blykbaar was hul gemiddelde ouderdom 25 jaar. Die avant-garde-skrywer, Maurice Blanchot, wat veel deur postmoderne teoretici aangehaal word, was blykbaar ‘n lid van dié groep, wat vir my persoonlik as ‘n verrassing gekom het. Hulle het hulself ook as die “Jong Regses” beskryf.

Een van die terme wat destyds deur die leidende Emmanuel Mounier gemunt is, was “die gevestigde wanorde”. Is dit nie presies waarmee ons vandag in Suid-Afrika te kampe het nie? Die gevestigde wanorde? Verder het die nonkormiste sterk gevoel dat Frankryk in die 1930s besig was om ‘n “beskawingskrisis” deur te maak. Met Suid-Afrika se verval in plaasmoorde, geweld en agteruitgang, kan ons seker dieselfde van ons land in die 2010s sê.

‘n Groot hedendaagse Franse filosoof en politieke denker wat by die nonkonformiste gaan kers opsteek het, is Alain de Benoist wie se “nuwe regse” beweging reeds in die sewentigerjare begin spoed optel het. In 1977 het hy ‘n boek gepubliseer, Vu de droite. Anthologie critique des idées contemporaines, (Copernic, 1977) wat die prys vir die beste essay of nie-fiksieboek van die jaar van die Franse Akademie in 1978 ontvang het. Enkele jare gelede het die weduwee van ‘n Vlaamse Afrikaner hier in Johannesburg die boek aan my geskenk en ek moet sê, dis ‘n fassinerende oorsig oor die idees van die twintigste eeu vanuit ‘n min of meer behoudende oogpunt.

Terwyl linkse denke dwarsdeur die Westerse wêreld en natuurlik veral in die Engelssprekende lande oorheers, stagneer dié denke oor rasse- en klassegelykheid ook. Oral in die media, op die internet en in boekpublikasies word die boodskap tot vervelens toe herhaal dat ons “almal net mense is” en dat ons na groter gelykheid tussen rasse en kultuurgroepe moet streef. Trouens, “gelykheid” is die natuurlike toestand van die mens en slegs rassisme en soortgelyke booshede is daarvoor verantwoordelik dat daar verskille in rykdom en intellektuele prestasie bestaan.

Vanweë die eenselwige en herhalende boodskap van Links, verbaas dit nie dat linkse akademiese publikasies by tye afgunstig na die genuanseerde en komplekse denke van die regtervleuel begin kyk nie. Die voorheen marxistiese tydskrif Telos, het byvoorbeeld al breedvoerig van Alain de Benoist se boeke bespreek.

‘n Insig van De Benoist is dat alle linkse denke, wat absolute gelykheid ten doel het, neig om verskille tussen mense te onderdruk of te misken:

  • verskille tussen kulture;
  • verskille tussen rasse en etniese groepe;
  • godsdiensverskille;
  • standverskille;
  • intelligensieverskille;
  • die verskil tussen man en vrou, of dan geslagsverskille;
  • verskille in smaak, styl en lewenswyse;
  • taalverskille, ens.

In vandag se Rapport argumenteer die visekanselier van Wits, prof. Adam Habib, wat voorheen hoof van die RGN in Suid-Afrika was, dat die bestaan van ‘n oorwegend Afrikaanse kampus te Potchefstroom onversoenbaar met die SA grondwet is! Blykbaar het hy reeds dieselfde standpunt in Beeld, wat die veldtog teen die Afrikaanstalige Pukke aanvoer, gestel.

Ons mág nie meer verskil nie. Punt. En tog weet selfs postmoderniste dat verskil die grondslag vir alle betekenis en menslike begrip is. In ‘n wêreld of ‘n heelal waarin alles dieselfde is en geen element of organisme meer van mekaar mag verskil nie, gaan ons terugsak in ‘n ongedifferensieerde oersop soos wat daar blykbaar miljarde jare gelede op aarde bestaan het. Ironies word diversiteit in die naam van “diversiteit” oral onderdruk.

Die reg op ‘n eie identiteit of op selfbeskikking is daarom niks minder as die reg om te mag verskil of anders te wees nie. Om ‘n blanke of ‘n Afrikaner in Suid-Afrika te mag wees, is taboe, maar tóg nodig indien ons die huidige beskawingskrisis in ons land, die gevestigde wanorde, wil oorleef.

Nog ‘n gedagte van De Benoist wat al lankal by my ook spook, is die wenslikheid van ‘n nasiestaat. Soos hy dit beskryf, tree die nasiestaat dikwels as ‘n “brutale, homogeniserende mag” op wat gelykheid, eenselwigheid en konformiteit op mense afdwing. Daarmee word gemeenskappe, tale en kulture onderdruk en op die duur uitgewis.

Iewers beskryf Breyten Breytenbach, wat destyds waarskynlik ‘n marxis was, die marxistiese ideaal van die “staat wat wegkwyn” as “die afvrot van die staat”. Nogal ‘n ironiese formulering. Tesame met konformisme en verdrukking, ervaar ons vandag veral die “afvrot van die staat” in Suid-Afrika in die gedaante van korrupsie, onbekwaamheid en wanbestuur wat drasties toeneem.

Ons natuurlike reaksie is om die hande in die lug te gooi. Hoe kan die ANC, SAKP, DA en ander linkse incubi ons pragtige Afrikanerstaat, asook ons eertyds netjiese, goed funksionerenede munisipaliteite so verniel?

Pleks daarvan dat ons die verval van die staat in ons land as ‘n ramp sien, verteenwoordig dit dalk vir ons as gemeenskap en as volk ‘n geleentheid om eie gemeenskapsinstellings naas die gevestigde wanorde te bedryf. Daardie instellings sal nie net wetlike of burokratiese strukture wees nie, maar uitvloeisels en vertakkings van ‘n lewende Afrikanerskap. Uiteindelik sal die staat ook sy vermoë verloor om ons belastings te in en sal ons vry wees om ons finansies na goeddunke in die belang van ons eie toekoms en dié van ons kinders te bestee.

Terwyl Alain de Benoist vyandig teenoor die nasiestaat staan, bewonder hy die werklike ryke van ouds, soos die Romeinse Ryk, die Heilige Romeinse Ryk, asook die Ottomaanse Ryk wat volgens hom nie as grondgebiede of territoria georganiseer is nie, maar rondom ‘n idee. In so ‘n ryk staan dit mens vry om jou eie taal te praat, eie gebruike en godsdiens te beoefen en as kultuurgemeenskap te mag voortbestaan.

Toenemend lyk dit asof ‘n nuwe Middeleeue op hande is. Die veiligheidsbuurte wat oor die afgelope twintig jaar in Suid-Afrika, die VSA en elders gebou is, verteenwoordig die aanvang van nuwe “kastele” wat in die toekoms taamlik outonoom en geprivatiseer sal funksioneer. Afrikaans kan as taal teruggevoer word na die Germaanse skeepstaal wat vir handel tussen die Hansa-stede tussen 1300 en 1600 as lingua franca gebruik is. Dis net so min ‘n Khoisan-kreool as wat camembert-kaas ‘n Boesman-lekkerny is.

Ons heil mag in die totstandkoming van ‘n nuwe Europese wêreldryk lê wat vir ons as beskerming teen die multikulturele, oorlogsugtige VSA, enersyds, en China andersyds, kan dien. Marine Le Pen het reeds gesê dat sy liewer sou wou sien dat Frankryk en die res van die EU ‘n goeie verhouding met Rusland kweek as wat hulle soos tans slaafs die Amerikaanse strategie van ‘n nuwe koue oorlog teen Rusland navolg. Soos wat blankes dwarsdeur die wêreld ‘n kleiner en kleiner minderheid word, sal ons nie meer groot grondgebiede of nasiestate soos in die verlede kan beset nie, en sal ons eerder Promethiaans rondom ‘n idee moet groepeer.

Dit mag wees dat Jacob Zuma en Julius Malema vir ons ‘n groot bedreiging inhou. Maar ten eerste bedreig hulle die Suid-Afrikaanse nasiestaat self, wat dalk vinniger gaan verval as wat ons tans kan vermoed.

Die afvrot van die staat is nie iets om oor te weeklaag nie, maar om te verwelkom. Hoe minder beheer die staat oor ons uitoefen, hoe beter.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.