Suid-Afrika hoog op lys van anti-Semitiese lande

Deel op

Suid-Afrika is die land met die derde hoogste voorkoms van anti-Semitisme in Afrika suid van die Sahara. Agt-en-dertig persent van die land se volwasse bevolking koester anti-Joodse gevoelens, volgens ‘n omvattende nuwe opname wat deur die Joodse Liga teen Laster (Anti-Defamation League) onderneem is.

Slegs Senegal (53%) en Mauritius (44%) toon hoër koerse van anti-Semitisme as Suid-Afrika in die streek. In Noord-Afrika met sy oorwegend Moslem-bevolking is die koerse nóg hoër met Algerië, Libië en Tunisië waar 87% van volwassenes ‘n lae dunk van Jode het.

Lande waar minder as 6% van mense anti-Semitiese gevoelens koester, is Nederland, Swede, die Filippyne, Viëtnam en Laos.

Die twee lande in Wes-Europa met die hoogste tellings is Griekeland (69%) en Frankryk (37%). Insiggewend is dat Frankryk, waar deesdae openlik met Jode die spot gedryf word, een persentasiepunt onder dié van Suid-Afrika verkeer.

Die bevindings weerspreek die siening van mev. Mary Kluk, voorsitster van die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes wat onlangs nog in die SA Jewish Report geskryf het dat “daar min of geen anti-Semitisme in Suid-Afrika teenwoordig is nie”. Suid-Afrika word ook as ‘n gesogte bestemming vir inwaartse immigrasie deur Jode beskou, met ongeveer 10 000 Jode wat in die afgelope dekade vanuit Israel na Suid-Afrika geïmmigreer het.

Volgens die Joodse Liga teen Laster is antipatie teenoor Jode die laagste in Engelssprekende lande, asook onder Protestante. Moslems, Katolieke en Ortodokse Christene is meer geneig om anti-Semities te wees. Op die Wes-Oewer van die Jordaan en in die Gasastrook bereik anti-Joodse gevoelens ‘n rekordhoogtepunt van 93%, met die oorloggeteisterde Irak ‘n kortkop agter op 92%.

Die wetenskaplike opname is deur die New Yorkse firma Anzalone Liszt Grove Research onderneem, nadat ‘n ryk New Yorkse Jood, mnr. Leonard Stern, ‘n onbekende bedrag geld vir dié doel geskenk het. Data uit 102 lande is in 96 tale en dialekte ingesamel via landlyntelefone, selfone en onderhoude van aangesig tot aangesig. Die respondente is tussen Julie 2013 en Februarie 2014 op ewekansige wyse gekies en bestaan uit ‘n demografies verteenwoordigende monster van die volwasse bevolkings.

Deelnemers aan die peiling is ‘n reeks van 11 vrae gevra wat “gegrond is op eeue oue stereotipes oor Jode, waaronder klassieke stereotipes oor Joodse mag, lojaliteit, geld en gedrag. Diegene wat ja geantwoord het op ses of meer negatiewe stellings oor Jode is as anti-Semities beskou.”

Die foutpersentasie in die meeste lande waar 500 deelnemers gekies is, was +/- 4,4 persent. In groter lande, waar 1 000 onderhoude gevoer is, was die foutpersentasie  +/- 3,2 persent.

Vrae wat aan deelnemers gestel in Suid- Afrika gevra is, is die volgende, met die persentasie ja-antwoorde agterna:

  1. Jode is meer lojaal teenoor Israel as teenoor Suid-Afrika: 57%
  2. Jode beskik oor te veel mag in die sakewêreld: 53%
  3. Jode beskik oor te veel mag in internasionale finansiële markte: 47%
  4. Jode praat steeds te veel oor wat met hulle tydens die Holocaust gebeur het: 19%
  5. Jode gee nie om oor wat met enigiemand behalwe hul eie mense gebeur nie: 55%
  6. Jode het te veel beheer oor globale aangeleenthede: 36%
  7. Jode het te veel beheer oor die Amerikaanse regering: 29%
  8. Jode dink hulle is beter as ander mense: 43%
  9. Jode het te veel beheer oor die globale media: 28%
  10. Jode is verantwoordelik vir die meeste van die wêreld se oorloë: 40%
  11. Mense haat Jode vanweë die manier waarop Jode hul gedra: 50%

Volledige verslag in Engels hier beskikbaar.

Die Joodse Liga teen Laster het onlangs R6 miljard ingesamel om “Holocaust-sentra” regoor die wêreld te bou. ‘n Holocaust-sentrum bestaan reeds in Kaapstad en ‘n tweede is in Johannesburg in aanbou. Skoolkinders regoor Gauteng gaan glo die sentrum besoek om hulle oor die Duitse vergrype teen Jode tydens die tweede wêreldoorlog in te lig.

Volgens die SA Jewish Report was 23% van Johannesburgse burgemeesters deur die geskiedenis Jode. Enkele bekende Suid-Afrikaanse Jode is:

Mev. Helen Suzman, liberale politikus.

Mnr. Joe Slovo, kommunistiese leier en voormalige minister.

Mnr. Ronnie Kasrils, militêre leier van Umkhonto we Sizwe en voormalige minister.

Mnr. Simon Susman, voorsitter van Woolworths.

Mnr. Raymond Ackerman, eienaar en stigter van Pick ‘n Pay.

Zapiro, alias Jonathan Shapiro, spotprentkunstenaar.

Me. Gill Marcus, goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank.

Mnr. Rusty Bernstein, skrywer van die ANC se Vryheidsmanifes.

Mnr. Albie Sachs, politieke aktivis en voormalige regter van die Grondwethof.

Mnr. Johnny Clegg, sanger.

Mnr. Pieter-Dirk Uys, komediant en fopdosser.

Mnr. David Kramer, sanger.

Me. Helen Zille, liberale politikus.

Mnr. Tony Leon, voormalige opposisieleier.

Mnr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid.

Me. Hillary Joffe, adjunkredaktrise van Business Day.

Mnr. Max Price, visekanselier van die Universiteit van Kaapstad.

Me. Kim Heller, mediastrateeg van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF).

Me. Nadine Gordimer, Nobelpryswenner vir letterkunde.

Mnr. Anton Harber, voormalige redakteur van die Mail & Guardian, tans professor van joernalistiek aan Wits en mentor vir Beeld-joernaliste.

Mnre. Abe en Solly Krok, stigters van die maatskappy Twins en oprigters van die Anti-apartheidsmuseum.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.