David Cameron gaan stryd teen Jean-Claude Juncker verloor

Die Britse eerste minister, David Cameron, gaan volgens kenners sy stryd verloor om die aanstelling van Jean-Claude Juncker as president van die Europese Kommmissie te verhoed.

Die kwessie sal vandag tot stemming gebring word en na verwagting sal Juncker, ‘n Luxemburgse burger, wel aangestel word omdat hy die steun van die meeste Europese staatshoofde geniet.

Die Britse eerste minister poog om aansien in sy eie land te herwin ná die opkoms van die euroskeptiese party, Ukip, tydens die onlangse Europese verkiesings. Gisteraand het Cameron verklaar dat samesprekinge vandag “reguit” gaan wees waar dit gaan om die vasstelling van Europese prioriteite oor die volgende vyf jaar.

“Daar gaan gestem word en laat ons sien wat die uitslag is. Maar dis van die allergrootste belang dat mense weet dat ek doen wat ek sê,” het David Cameron teenoor die BBC verklaar. “Ek het belowe dat daar weer onderhandeling sal plaasvind en dat die Britse volk oor ons Europese toekoms sal besluit… Dis die eerste stap in ‘n lang veldtog om te verseker dat verandering plaasvind wat ‘n beter plek vir Groot Brittanje in Europa sal verseker.”

Volgens Cameron is Juncker “nie die regte persoon om dié instelling te lei nie” en het hy ‘n beroep gedoen op ander Europese leiers wat met hom saamstem om saam te staan.

Jean-Claude Juncker staan buitengewone behandeling vir Brittanje teenoor ander Europese state teen. Hy is egter so te sê verseker van ‘n sege teenoor die Britte vandag en sal hoogs waarskynlik president van die Europese Kommissie word. Juncker was voorheen eerste minister van Luxemburg en ‘n vorige hoof van die maatskappy Eurogroupe.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.