Numsa dreig met staking by Eskom ook

Deel op

Karl Cloete, die adjunksekretaris-generaal van die metaalwerkersvakbond Numsa dreig met ‘n staking by Eskom.

Die vakbond eis ’n dubbelsyfer-verhoging.

Sowat 11 000 lede van Numsa by Eskom eis verhogings. Numsa is die grootste vakbond in die land.

Dié aankondiging kom minder as ’n week nadat die langste staking in Suid-Afrika se geskiedenis wat vyf maande geduur het in die platinumsektor uiteindelik beëindig is.

Numsa het in Johannesburg aangekondig dat meer as 220 000 lede in die sektor vir metaalwerkers van Dinsdag, 1 Julie, sal begin staak.

Die federasie vir staal- en ingenieursbedrywe (Seifsa) het Woensdag gesê ’n skikking kon nie bereik word nie. ’n Dooiepunt is in Mei verklaar na onderhandelinge wat drie maande geduur het.

Die staalnywerheid sukkel met Chinese aanvraag wat stagneer.

Kraglewering word egter as ’n noodsaaklike diens beskou, wat beteken dat werkers wat deelneem aan ‘n onbeskermde staking by Eskom, afgedank kan word.

Cloete het nie gesê wanneer Eskom-werkers sal begin staak nie, maar hulle is nie deel van die staking wat op 1 Julie begin nie.

Cloete sê die vakbond se uitvoerende komitee het ingestem tot lede se besluit dat hulle wil staak.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.