Afrikaans kry die doodskoot op SAUK-TV

Deel op

Terwyl die gewilde Afrikaanse televisienuus reeds tydelik opgeskort is ter wille van die sokkerwêreldbeker wat op SABC2 uitgesaai word, het dit bekendgeraak dat Afrikaans ná die sokker byna heeltemal op TV afgeskaf gaan word.

Slegs enkele Afrikaanse programme gaan op SABC3 oorbly, ‘n kanaal wat nie in alle dele van die land ontvang kan word nie. Omdat soveel Afrikaanssprekendes op die platteland bly, gaan die taal wesentlik op televisie afgeskeep word.

Sedert 1976 toe televisie in Suid-Afrika bekendgestel is, was Afrikaans nog altyd op die kassie teenwoordig en Afrikaners het ‘n groot tegniese en professionele rol gespeel om die medium in die land te vestig. Nietemin het die SAUK besluit om die taal verder te marginaliseer deur die Afrikaanse nuus voortaan nie meer op SABC2 uit te saai nie en slegs enkele reste op SABC3 aan te bied.

Volgens die SAUK het Afrikaans vir hom “onvolhoubaar” geraak. Dis egter bekend dat die SAUK reeds jare lank sukkel om genoeg kykers vir sy Engelse TV-nuus te werf, terwyl die Afrikaanse TV-nuus besonder goed doen omdat dit min of meer professioneel deur moedertaalsprekers van die taal aangebied word, anders as Engels waar nie-moedertaalsprekers dikwels as nuuslesers ingespan word.

SABC2 sal voortaan, met die uitsondering van die kreools-Afrikaanse program, Sewendelaan, programme slegs in Engels en Sotho uitsaai.

Vir die eerste keer in 38 jaar sal daar ook nie meer ‘n Afrikaanse dramareeks op SABC2 uitgesaai word nie, iets wat die doodsklok vir Afrikaanse drama lui aangesien daar nog altyd ‘n dramareeks beskikbaar was wat mense landwyd kon kyk.

Blykbaar sal daar soms nog Afrikaanse drama op SABC3 uitgesaai word, maar dan vir die kleiner gehoor op daardie kanaal wat uiteraard minder advertensie-inkomste sal lok.

Kykers wat vandeesweek na die Afrikaanse nuus op die SAUK-TV gesoek het, moes teleurgesteld verneem dat dit geheel en al opgeskort is in die belang van die sokkerwêreldbeker waaraan slegs buitelandse spanne deelneem. Boonop is sokker nie ‘n gewilde sport onder Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes nie.

Benewens Sewendelaan, sal Noot vir Noot blykbaar ook op SABC2 behou word, maar vir hoe lank wou die openbare uitsaaikorporasie nie sê nie. Ander programme waarin Afrikaans nog gedeeltelik gepraat word, soos Fokus, die TV-drama Swartwater en 50/50 sal almal na SABC3 verskuif word.

Weens ‘n gebrek aan sein, sal kykers in vele dele van die land egter nie dié laaste Afrikaanse klanke op SAUK-TV kan ervaar nie.

Die SAUK se beleid om Engels op alle gebiede te bevoordeel word voortgesit, aangesien van die tydgleuwe wat nou deur Afrikaans vakant gelaat word, deur Engelse programme gevul sal word. Die politieke gespreksprogram Interface waarin anti-blanke standpunte gewoonlik gestel word, sal van SABC3 na SABC2 verskuif word sodat meer mense dit kan sien.

Die meeste drastiese programveranderings sal in September plaasvind. Daar word verwag dat die kykertalle van die Afrikaans nuusbulletin en Fokus grootliks gaan daal, terwyl dié programme tans onder die tien gewildstes op SAUK-TV tel en ook van die winsgewendste is aangesien hulle goeie adverteerders lok.

Die Nuus om 7 in Afrikaans sal voortaan om 19:30 uitgesaai word, terwyl die SAUK se sukkelende Engelse nuusbulletin om 18:30 aangebied sal word.

Jacqui Hlongwane, die waarnemende programbestuurder van SABC2 het vandeesweek aan televisieverslaggewers en -adverteerders gesê:

“Die Afrikaanse nuus soos dit tans bekend is, sal permanent na SABC3 verskuif word.

“Wat dit vir ons beteken, is dat die SABC2-skedule daarmee oopgemaak word, sodat dit beter vloei. In die verlede was dit vir SABC2 nog ‘n uitdaging. Ons was regtig ‘n skisofreniese kanaal.”

“Tot dusver het ons twee markte bedien – die Sesotho-gehoor, asook die Afrikaanse gehoor – en dit was regtig ‘n stryd om dié twee belangrike gehore te bedien,” het sy voortgegaan. “Binne een kanaal raak daardie soort posisionering onvolhoubaar.”

“Wat ons gesinsaanbieding betref, wil ons inhoud hê wat tot Suid-Afrikaanse gesinne spreek. Dus moet taal ons nie definieer nie.”

“Ons wil steeds al die tale op ons kanaal hê, waaronder Afrikaans, maar ons voel sterk dat dit om gesinsvermaak gaan, asook gesinswaardes en al die goeie dinge wat ons nodig het om dié land op te bou,” meen Hlongwane.

“Om 18:30 op SABC2 het ons Sewendelaan. Dit bly op die kanaal van Maandag tot Vrydag. En daarna, waar ons die Afrikaanse nuus gehad het, gaan ons dinge soos gesinspeletjieprogramme en werklikheidstelevisie en feitelike inhoud aanbied.

“Daarop sal situasiekomedies volg – sowel plaaslik as buitelands – asook ‘n nuwe telenovelle wat ons wil bekendstel.

“Dit spreek vanself dat dit tyd neem om daardie soort plaaslike inhoud te produseer maar hopelik sal ons teen Julie aanstaande jaar ‘n telenovelle hê. Dus vind daar baie belegging in plaaslike inhoud by SABC2 plaas want kykers wil hulself sien. Hulle wil hul lewens op die skerm weerspieël sien.”

“Swartwater, wat basies die Afrikaanse dramagleuf verteenwoordig, verskuif na SABC3. Dus sal SABC2 nie meer Afrikaanse dramas vertoon nie, dit verskuif na SABC3,” sê Hlongwane.

“Dis ‘n uitdaging met drie TV-kanale om 34 miljoen TV-huishoudings in dié land te bedien, maar ons kry dit reg, en ons poog om dit na die beste van ons vermoë te doen,” meen Leo Manne, the algemene bestuurder for TV-kanale by die SAUK.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.