Amcu-lede se grusame dade verder in getuienis ontbloot

Deel op

Regter Ian Farlam, voorsitter van die Farlam-kommissie, moes die verrigtinge in Centurion tydelik staak nadat familielede van twee veiligheidswagte wat by Marikana vermoor is, se foto’s vertoon is, ineengestort het.

Mnr. X het Maandag sy grusame getuienis voortgesit oor wat in 2012 tydens die staking by Marikana gebeur het.

Hy het voorheen getuig hoe Amcu-lede mensvleis geëet het vir moetie.

Regter Farlam het ‘n aansoek van adv. Dali Mpofu, wat namens van die mynwerkers optree, verwerp om mnr. X vir sielkundige waarneming te stuur.

Mnr. X het Vrydag uitstel gevra omdat hy gevoel het mense in die openbare galery toor hom met moetie.

Volgens Mpofu is die getuie se geloofwaardigheid onder verdenking.

Mpofu het aangevoer mnr. X is paranoïes en hallusinerend en dat hy ’n metaalplaat in sy kop het weens ’n breinbesering.

Amcu-lede was volgens mnr. X se getuienis daarop uit om die polisie uit te lok en aan te val tydens die staking.

Hy het gister herhaal hoe Amcu toordokters, Izinyanga, gehuur het vir moetie om hulle teen polisiekoeëls te beskerm.

Die aand van 11 Augustus 2012 op die koppie in Marikana is een wag se ken met ’n panga afgekap en hy het in die motor doodgebrand.

Mnr. X het gesê hulle het die volgende oggend besluit om die vakbond NUM se kantoor in Marikana aan te val en lede daar te vermoor.

“Daar was drie vuurwapens. Die res was gewapen met pangas en assegaaie. Bhele (een van die leiers) het ’n kan petrol saamgedra.

“Op pad na die NUM-kantoor het ons by ’n mynhostel verbygestap. ’n Groep veiligheidswagte wou ons nie daar inlaat nie en ons met rubberkoeëls geskiet. Die vuurwapens het nie gewerk nie. Ons het geglo dis danksy die moetie.”

Volgens mnr. X het die wagte weggehardloop. “Twee wagte was in ’n private motor. Ons het dit met die petrol aan die brand gesteek. Een wag se ken is met ’n panga afgekap en hy het in die motor doodgebrand.

“Die ander wag is uit die motor gesleep en ek het hom met ’n panga in die gesig geslaan. Iemand het hom met ’n assegaai gesteek. Ek het hom ook gesteek. Bhele het sy tong en wang afgesny en in ’n plastieksak gegooi. Van sy bloed is in ’n ander plastieksak gegooi. Dit is verbrand om die moetie sterker te maak.”

Mnr. X sit Dinsdag sy getuienis voort.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.