Duisende mynwerkers het by die Royal Bafokeng-stadion in Rustenburg begin aankom.
Hulle sal na verwagting deur die president van Amcu, Joseph Matunjwa toegespreek word oor nuwe looneise.
Matunjwa sal die stakende mynwerkers waarskynlik inlig oor toekomstige optrede na ‘n ooreenkoms in beginsel bereik is tussen die platinumprodusente en Amcu.
Die mynwerkers het op 23 Januarie met die langste staking in die geskiedenis begin.
Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het gesê die ANC sal nie regstreeks inmeng in die onderhandelings tussen die vakbond en platinummaatskappye nie.
Ramaphosa sê vakbonde het die grondwetlike reg om werkers se eise te verdedig.
Die minister van Minerale Hulpbronne, Ngoako Ramatlhodi het hom vroeër aan die bemiddeling tussen die twee twistende partye onttrek toe hy nie daarin kon slaag om ‘n beloofde ooreenkoms af te dwing nie.
Intussen sal die Farlam-kommissie verdere getuienis van “mnr X” aanhoor.
Mnr X het voorheen voor die Marikana Kommissie van Ondersoek getuig dat Amcu NUM-lede wou gaan vermoor.
Hy getuig vanuit ‘n onbekende plek by wyse van ‘n video-verbinding.
Die Kommissie het Vrydag vroeg verdaag nadat Mnr X gevra het om sy tradisionele geneser te raadpleeg.
Tien mense, onder wie twee polisielede en twee veiligheidswagte van Lonmin is dood voor die polisie 34 stakende mynwerkers doodgeskiet het 16 Augustus 2012.
Mnr X het getuig oor kannibalistiese rituele waaraan hulle gedurende dié tyd deelgeneem het.
Hulle het onder meer mensvleis van die twee vermoorde Lonmin veiligheidswagte geëet in opdrag van ‘n tradisionele geneser.
Hy het het hulle verseker dat Amcu sal onoorwinlik wees as hulle sy moetie gebruik.