Die Amerikaanse fiasko in Irak is besig om te verdiep.
Die Irakse weermag wat deur die VSA opgelei is ten bedrae van miljarde, verkeer in chaos, volgens die Washington Post.
Dié koerant beskik oor dokumentasie wat ‘n gebrek aan toerusting, drostery, en toenemende afhanklikheid van sektariese milisie bewys.
Die VSA se minister van buitelandse sake, John Kerry, sê Amerika wil hê dat die Irakse bevolking ‘n “inklusiewe leierskap” moet nastreef.
Dié onrealistiese versoek volg nadat ISIS verskeie grensdorpe in Irak oor die naweek oorgeneem het. ISIS is ‘n splintergroep van al-Kaida.
Kerry het toegegee dat Washington nie meer kan besluit oor wie Bagdad moet regeer nie.
Kerry het in Kaïro in Egipte gepraat aan die begin van sy Midde-Oosterse besoek waartydens hy na verwagting Irak ook gaan besoek.
Kerry sal premier Nouri Al-Maliki van Irak ontmoet.
Intussen het die Russiese leier, Wladimir Poetin aan Irak se premier die versekering gegee dat hy op Russiese steun kan staatmaak.
Soenie-militante groepe het beheer oorgeneem oor groot gebiede waaronder die lughawe Tal Afar teen die grens van Sirië en ook ‘n aansienlike hoeveelheid wapens van Irakse troepe afgeneem.
Kerry sê Amerika wil hê dat Irak leiers kry wat bereid is om “inklusief” op te tree en die mag te deel.