Universiteit Stellenbosch: Die wortel van die kwaad

In die Suid-Afrikaanse politiek is die Dakar-safari van 1987 na Senegal redelik goed bekend. Frederik van Zyl Slabbert beskryf dit as ‘n “ontmoeting tussen leiers van die ANC in ballingskap en hoofsaaklik Afrikaanssprekende professionele mense” (Duskant die geskiedenis, Kaapstad: Tafelberg, 2006, p 58). In hierdie boek is daar ‘n foto van die Dakar-gangers en ‘n lys van die betrokkenes (p 174-177), asook die teks van die gesamentlike communiqué wat uitgereik is (p 171-173). Daar word verwys na “‘n gedeelde verbondenheid tot die verwydering van die apartheidstelsel en die bou van ‘n verenigde, demokratiese en nierassige Suid-Afrika” en “Die konferensie het eenparig sy voorkeur uitgespreek vir ‘n onderhandelde oplossing.”

Thabo Mbeki en Van Zyl Slabbert in Dakar, 1987
Thabo Mbeki en Van Zyl Slabbert in Dakar, 1987

Ons het sedertdien kennis geneem van die ongelooflike mate waarin FW de Klerk en sy span die onderhandelings verbrou het. Ons weet ook nou dat ‘n nie-rassige nuwe Suid-Afrika en “‘n nasie van alle Suid-Afrikaners, swart en wit,” ‘n hersenskim is. ‘n Perspektief wat geldig bly, is dat die Dakar-safari deur behoudendes/konserwatiewes “as ‘n daad van verraad beskou [is], nie alleen teenoor die apartheidstaat nie, maar ook teenoor die Afrikanerdom.” Profeties is die standpunt dat aangesien die ANC nie geweld wou afsweer nie “geweld onbeheersd sou uitbrei.” Die nuwe Suid-Afrika is bekend as een van die geweldadigste samelewings, weens die voorbeeld wat die UDF/ANC se terreurbendes gestel het.

Wat minder bekend is, is dat 18 Maties in 1989 ‘n soortgelyke safari na Lusaka onderneem het. Uit jeugdige voortvarendheid wou hulle eerstehands met ANC-kornuite kennis maak. Dit was heeltemal strydig met die gesindheid van die tradisionele Universiteit Stellenbosch (US). Twee nie-Maties, die joernalis Hennie Serfontein (‘n Dakar-ganger) en André Zaaiman het hulle vergesel. Zaaiman was verbonde aan Van Zyl Slabbert en Alex Boraine se Idasa (Instituut vir ‘n Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika). Sowel Idasa as die Dakar-safari geniet die twyfelagtige onderskeiding dat hulle deur George Soros (Praag 27.10.2013) befonds is. Dieselfde geld moontlik ook die Lusaka-safari. Die doel was om die blanke bewind en die apartheidsbeleid te ondergrawe deur met die verbanne ANC in gesprek te tree.

Na verloop van 25 jaar het die Lusaka-gangers, insluitende Serfontein en Zaaiman, op 14 deser ‘n reünie op die US-kampus gehou. Dit is duidelik dat die rektor, die ANC-aktivis Russel Botman, die maksimum linkse politieke propaganda uit hierdie reünie wou tap. Botman, ‘n produk van die NG Sendingkerk, was hier in sy element en het ‘n prominente rol in die verrigtinge gespeel. Kontrasteer dit met wat ek onlangs in die konteks van misdaad op Stellenbosch, bv drie aanvalle op blanke vrouestudente, geskryf het: “Wanneer daar enigsins sprake van ‘rassisme’ by die US is, in die sin van wittes wat nie-wittes ‘benadeel’, klim Russel Botman dadelik op die wa. Wanneer wittes die slagoffers is … word die saak aan ‘n viserektor of die skakelbeampte oorgelaat” (Praag 20 Mei). Die res van my teks is hoofsaaklik gebaseer op inligting wat op 14 en 16 deser op die US-webwerf gepubliseer is.

Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het ‘n toespraak by dié reünie gelewer oor “Waagmoedige leierskap: Om op te staan vir dit wat reg is, ongeag die koste.” Dit is duidelik dat sy haar eerder by die ANC as die Boere skaar. Tito Mboweni, wat voorheen ‘n ANC-minister en die president van die Reserwe Bank was, het ‘n paneelbespreking gelei waaraan vier van die Lusaka-gangers deelgeneem het: Anneliese Burgess, Robert Bricout, André Zaaiman en Mark Behr. Neem kennis dat die drie oud-Maties (Burgess, Bricout en Behr) eerder Engels- as Afrikaanssprekend is. Mboweni was een van die ANC-kornuite wat hierdie Maties destyds in Lusaka te woord gestaan het. Hy is sedertdien deur die US met ‘n ere-doktorsgraad beloon. Roelf Meyer, die Nasionale Party (NP) se hoofonderhandelaar by Kodesa, wat help verseker het dat FW de Klerk se beloofde magsdeling volslae magsoorgawe aan swartes geword het, het ook aan die paneelbespreking deelgeneem. Dit behoort duidelik te wees dat die Botman-US heelwat geld in hierdie reünie belê het omdat dit ‘n bruikbare linkse propagandafoefie is.

Burgess het gesê dat ‘n “betekenisvolle verskuiwing in bewustheid” by die Lusaka-gangers ingetree het. Hulle het trane gestort oor die moontlikheid dat die ANC-kamerade deur die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte gedood kon word. Terug op die kampus het hulle ervaar “hoe hulle deur sekere groeperings en die Universiteitsowerheid beswadder is.” Drie van die Lusaka-gangers het glo destyds uit die NP bedank.

Bricout het gesê “die een ding wat ons saamgebind het, was dat ons geweet het ons land, ons universiteit en onsself moet verander. Dit was die regte ding om te doen.” Sy linkse oortuigings het sedertdien skynbaar nie verander nie, want hy wil hê dat “nie net die stemme van die konserwatiewe alumni gehoor word nie.”

Zaaiman het gesê die groep het geleer dat “as ‘n samelewing ons op ons beste is wanneer ons met mekaar gesels en na mekaar luister. Hierdie element ontbreek in ons samelewing vandag … Ander probleme wat die samelewing tans ervaar, is paternalisme, ‘n gehegtheid aan geweld en ‘n outoritêre samelewing.” Dit is verfrissend dat Zaaiman nie by die beweerde booshede van die verlede vasgesteek het nie, maar die aandag op hedendaagse euwels gevestig het.

Ek herinner my dat Behr destyds daarvan beskuldig is dat hy ‘n dubbele agent is; dus dat hy vir sowel die NP-regering as die ANC gespioeneer het. Behr het gesê: “Dis ongelooflik, ontstellend en belangrik vir ons om te onthou dat apartheid se rassisme vir ons wit studente hierdie voorreg [die Lusaka-safari] gegee het. As ons swart studente was, sou ons nie die land kon verlaat nie. Te danke aan ons rasse-geluk en ons rasse-voorreg was ons in die voorste gestoeltes om getuies te wees van hoe die laaste oorblyfsels van Europese kolonialisme oopgebreek word.” Hy noem uiteraard nie dat die ANC sedert 1994 alles in sy vermoë doen om die wittes se “rasse-geluk” in rasse-ongeluk te omskep nie en dat blankes se eertydse “rasse-voorreg” nou in doelbewuste rasbenadeling ontaard het nie. Die Lusaka-besoek het die groep glo gehelp om die “verwaandheid van apartheid en die paradoks in die idee van apartheid te herken.”

Mboweni het die Maties se besoek aan Lusaka “baie belangrik” genoem. “Ons was ook baie stout, want ons het geweet ‘n konstante aanval op politieke vlak, gefokus op Stellenbosch, sou ‘n groot sielkundige impak op die regerende klas hê.” Die ANC wou die NP-regering dus onder meer via die US ondermyn. Die US het simboliese waarde vir Afrikaners. Dit is waarom die Botman-US se doelgerigte distansiëring van en aanslag op Afrikaans en die Afrikaner vir my so onaanvaarbaar is.

Meyer (wat ‘n ANC-lid is) het beweer dat die laat tagtigs “aaklige jare” was. Apartheid is glo in ‘n outokratiese staat bedryf. “Dit is wat ons moes beëindig.” Volgens Zaaiman (hierbo) het ons tans ‘n “outoritêre samelewing,” wat seker in hierdie opsig met die vorige bedeling ooreenstem.

Die res van my teks handel hoofsaaklik oor Botman se “inleidende opmerkings” by hierdie reünie. Dit gee ‘n gesaghebbende kykie in die gesindheid wat daar tans by die US-bestuur en veral by Botman aangetref word. Ooreenkomstig sy taalvoorkeur het Botman hoofsaaklik Engels gepraat.

“South Africa was a very different country back then, and this University a very different place.” Die land en die US het inderdaad verander. Die vraag is: Het hulle verbeter? Botman is een van dié wat ‘n verskil gemaak het. Maar het hy en sy ANC-kamerade die land ‘n beter land en die US ‘n akademies beter universiteit gemaak? Ek dink nie so nie.

Oor die NP-regering is afwysende houding oor die Lusaka-safari vra Botman: “Why the fuss around this visit? I think there were two reasons: Your youthfulness; and the fact that you were from this University … as Maties, you represented a University that had been pivotal to the idea of Afrikaner Nationalism.” Botman is dus diep bewus van die simboliese waarde wat in Afrikaner-geledere aan die US geheg is. Dit is waarom Botman hom so sterk vir die transformasie van die US beywer; dus die sistematiese vernietiging van die US van weleer, wat gekenmerk is deur blanke Afrikaanse studente en dosente.

In hierdie transformasieproses word die akademiese uitnemendheid, wat so kenmerkend van die historiese US was, op ‘n ontstellende manier weggekalwe. Geen egte akademikus behoort vrede te maak met die amptelike beleid van die Botman-US waarvolgens studentetoelating en die aanstelling en bevordering van personeel dikwels/gewoonlik deurslaggewend deur nie-akademiese (veral rassistiese en seksistiese) oorwegings bepaal word nie.

Onlangs is die US onvleiend 34ste op die QS-ranglys van Brics-universiteite geplaas. ‘n Vorige US-viserektor, Rolf Stumpf, het toe gesê: “Die QS-stelsel is nie gerat om spesifieke nasionale uitdagings* te akkommodeer nie. Die ander lande het nie byvoorbeeld ‘n apartheidsverlede wat regstelling verg nie” (Die Burger, 20 deser, p 6). Wat Stumpf hiermee erken, is dat politieke oorwegings (myns insiens spesifiek ANC-gedienstigheid) akademiese uitnemendheid ondermyn. [* “Uitdagings” is ‘n gewilde ANC-woord wat dikwels as ‘n eufemisme vir onvermoë gebruik word. Sommige van ons onthou hoe graag die ANC in 1994 die woord “deursigtig” gebruik het. Deesdae word hierdie woord vermy omdat daar te baie ANC-brouery is was toegesmeer moet word.]

Tydens die reünie is daar geweeklaag oor die beswaddering wat die Lusaka-gangers destyds te beurt geval het. Botman misbruik sy amptelike posisie om dieselfde te doen, naamlik om ‘n vorige blanke US-rektor, Mike de Vries, te diskrediteer. Eerder as om self in die US-argief te gaan soek, het Botman waarskynlik ‘n personeellid opdrag gegee om te kyk watter argivale skietgoed daar is. Botman verwys na ‘n 1989-memorandum waarin De Vries daardie jaar as ‘n “laagtepunt” beskryf het.

De Vries het waardes soos “gesonde gesagsverhoudinge,” “gedissiplineerde vryheid,” en “verantwoordelikheidsin” bepleit. Dit is waardes wat Botman as student aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) vertrap het, bv toe hy die 1976-onrus op daardie kampus gelei het. De Vries noem hulle tereg “basiese beskawingswaardes.” By implikasie verheerlik Botman in sy hoedanigheid as rektor die gebrek aan hierdie beskawingswaardes by die Lusaka-gangers, wat met die ANC geheul het.

Botman: “You guys wanted to do your bit to help fix what was so obviously wrong with South Africa. For that, we owe you a debt of gratitude” Let ook op die snedige trant van die volgende uitlating: “Wat julle as ‘bogsnuiters’ gedoen het, het die ‘volksvaders’ duidelik erg gegrief.” Daarna blyk dit duidelik met watter buitensporige oorgawe Botman die verderflike ideologiese glyposisie geniet waarin die US hom deesdae bevind: “Your actions in 1989 was a turning point for this University, just as June 16 [1976] was a turning point for the country as a whole. Stellenbosch would never be the same after your trip to Lusaka. In fact, in many ways we are still riding the waves of change set in motion by your decision to stand up and speak out.”

Wat Botman betref is dit ‘n geval van: een keer op die pad van die ANC, altyd op daardie pad. Hy is in sy laaste termyn as rektor en het reeds miljoene der miljoene rande in ruil vir sy dienste ontvang. Sover bekend is Botman nog nooit deur die US-raad kortgevat nie. Sy aanstelling as rektor is eerder sonder protes met ‘n verdere vyf jaar verleng. Dit lyk asof hy dink dat hy nou maar al die krane kan oopdraai om uiting aan sy anti-Afrikaanse en anti-Afrikaner-sentiment te gee. Hy het al uitdruklik verklaar dat diegene wat rasse-integrasie teenstaan nie welkom op die US-kampus is nie.

Botman bewys hom hiermee onteenseglik as ‘n opperste aktivis. Van ‘n rektor wat ampshalwe ‘n toonbeeld van ideologiese neutraliteit behoort te wees, is hier geen sprake nie. Dit is duidelik dat Botman die hoogste waardering het nie net vir die Soweto-geweld in 1976 nie, maar ook vir die geweldpleging wat hy daarna op die UWK-kampus gelei het. De Vries het tereg gevra: “Waarheen is jy op pad, my universiteit?” Die antwoord het geblyk te wees: Die onverkwiklike Botman-US waar Afrikaner-nasionalisme geen plek gegun word nie en Afrikaans progressief afgeskaal word.

Botman verwys na rassisme wat verwerp moet word. Ek het eerstehands waargeneem hoe Botman en sy UDF/ANC-kamerade die UWK-kampus in die jare sewentig op horings geneem en die afskaffing van alle rassediskriminasie geëis het. Vergelyk dit met Botman se huidige posisie as die voorbok van rassediskriminasie teen blankes (en net blankes) aan die US. Hy verwys egter na ‘n “inclusive solution.” Hieronder skenk ek aandag aan sy soort selektiewe inklusiwiteit.

Dan volg hierdie opsetlike leuen: “The majority of the population were denied the vote and equal access to services and opportunities … because of their skin colour.” Dit is darem verregaande dat iemand wat die uitvoerende hoof van ‘n universiteit is, kan voorgee dat die verskil tussen wit, bruin en swart mense net hulle velkleur is. Hy weet sekerlik dat pigmentasie glad nie die deurslaggewende faktor is nie. Velkleur dien bloot as ‘n aanduiding van (dikwels) grondige kulturele verskille. Wittes, bruines en swartes openbaar verskillende maniere van dink en doen wat dit onwenslik maak om sonder meer die huidige mode na te volg waarvolgens almal gelyk en wesenlik eenders verklaar word. Die fundamentele dwaasheid van gelyke algemene stemreg behoort nie as spoorslag te dien om almal ook in ander opsigte gelyk te verklaar nie.

Botman stel graag sowel demokrasie as die beweerde gelykheid van alle mense positief voor. Aan ‘n universiteit is albei (feitlik) heeltemal buite orde. Die universiteit is in sy diepste wese nie demokraties in die sin dat almal daar hoort soos deesdae in ons politieke verkiesings nie. Aan die universiteit word tersiêre, dus hoogste vlak-, onderwys gevind. Dit is wesenlik elitisties. Die universiteit is nie vir almal nie. Dit is veronderstel om die room van die bevolking te trek en nie die gepeupel nie. As akademiese meriete hier ‘n deurslaggewende rol speel, soos dit hoort, sal die universiteit (waarskynlik) nooit die demografie weerspieël nie.

Daar behoort ook erkenning gegee te word aan die feit dat die universiteit ‘n gemeenskap van akademiese ongelykes is. Omdat sommige skoolverlaters akademies beter as ander is, word hulle by toelating tot universiteitstudie gekeur. ‘n Eerstejaarstudent vergelyk wat kennis en insig betref gewoonlik swak met ‘n gevorderde student. ‘n Junior lektor is ingelyks meesal nie die akademiese gelyke van ‘n professor nie. Dosente behoort oor akademiese sake uitsluitsel te gee; nie studente ter wille van demokrasie nie. Studente behoort nie toegelaat te word, soos deesdae die mode is, om voor te skryf hoedanig hulle onderrig moet wees nie. Die luidrugtigstes onder hulle dra dikwels nie eens kennis van hoe ‘n behoorlik funksionerende skool lyk nie. Hulle het nog minder ‘n benul van wat ‘n egte universiteit is.

Wanneer nie-akademiese oorwegings egter die oorhand kry, soos aan die US, kan dit akademies chaotiese gevolge hê. Dan kan dit gebeur dat iemand weens rassistiese en seksistiese oorweging ‘n professoraat beklee, terwyl sy/haar junior lektor hom/haar akademies ore kan aansit. RW Johnson het al genoem dat rektore in die nuwe Suid-Afrika (blykbaar) nie sonder die vooraf goedkeuring van die ANC-regering aangestel word nie. Ek sou eerder sê dat ten minste die aanvaarbaarheid vir die ANC-regering van die kandidate wat om ‘n rektorspos meeding heeltemal verkeerdelik deurgaans in gedagte gehou word. ‘n Werklik outonome universiteit besluit selfs oor so ‘n belangrike aanstelling en laat hom nie deur ‘n regering intimideer nie; veral nie deur die ANC-regering wat so ‘n hemelskreiende gebrek aan akademiese diepte het nie.

Ek is dus ongeneë om te beweer dat plaaslike rektore, wat die hoogste akademiese pos aan ‘n universiteit beklee, akademies meerderwaardig in vergelyking met egte akademies-wetenskaplike professore is. My indruk is dat die gewoonte plaaslik posgevat het om rektore by uitstek op nie-akademiese gronde aan te stel; dus asof hulle eerder die hoof administratiewe beampte is. Na analogie daarvan bestaan die wesenlike gevaar dat akademiese norme by ander akademiese aanstellings ook verwater word.

Botman het ‘n buitengewoon klein arsenaal van idees. Wat hy telkens in sy toesprake en geskrifte noem en by dié reünie herhaal het, asof dit ‘n hoogtepunt in die US se geskiedenis is, is: “In 1999, your alma mater finally acknowledged – and I quote ‘its contributions to the injustices of the past’.” Botman borduur hierop voort met die voorstelling van die US as “taking responsibility for the past – both its own actions and its contributions to the injustices perpetrated in this country.” Selfs hierdie oordrywing het die aartsaktivis Botman nog nie in afdoende mate bevredig nie, gevolglik gaan hy voort: “This was an apology for apartheid, one that should be repeated from time to time. But the University didn’t stop there. It also committed itself to ‘redress and development’.”

“‘Redress’ referred specifically to access. In 1990, Stellenbosch had just 762 black students. Today, we have more than 9 000, or roughly a third of our student body. And by 2018 [die US se eeufeesjaar] we will be even further along.” As neo-swarte* verstaan Botman onder swartes alle nie-wittes. Kleurblindheid of ‘n ewewigtige, nie-rassige beskouing oor etnisiteit moet nie van Botman verwag word nie. In sy intreerede as rektor in 2007 het hy belowe dat die US gaan verswart en by implikasie gaan verengels. Teen 2018 sal Botman sy “sukses” meet aan die mate waarin hy daarin geslaag het om die persentasie wit studente en personeel te verminder en Afrikaans-mediumonderrig te beperk. Die akademiese skade wat die US weens hierdie transformasie ly, is klaarblyklik nie iets waaroor Botman hom danig bekommer nie. Akademiese oorwegings dra minder gewig as die politieke oogmerke wat hy so fanaties nastreef.

[*Eintlik pseudo- (of skyn-) swarte. Aan die Botman-US word daar by die studente, dosente en ander personeel op ‘n onheilige manier uitermate voorkeur aan Botman se mede-bruines ten koste van blankes gegee. Tydens die besoek van Blade Nzimande se Portefeuljekomitee vir Hoër Onderwys in 2009 het Botman tot sy ontnugtering agtergekom dat die lede “in die getal swart studente en personeel belangstel en dat hulle bruin studente nie as swart aanvaar nie” (Kapp p 181). Botman se eie herklassifikasie as generies swart het dus deur die mat geval. Die ANC-regering erken nie neo-swartes as ragegte swartes nie.]

“And regarding the commitment to ‘development’, it laid down the foundation for a science-for-society approach at Stellenbosch.” Tradisioneel het die universiteit twee funksies gehad: onderrig en navorsing. As ANC-aktivis oorbeklemtoon Botman ‘n derde funksie vir die US, naamlik gemeenskapsdiens. Daarvolgens word van die US verwag om maatskaplik betrokke by gemeenskappe te raak (in die praktyk uitsluitlik, dus nie-inklusief, “benadeeldes/agtergeblewenes” oftewel nie-wittes) deur take te verrig en selfs van die dienste te lewer wat die politieke owerheid versuim om (doeltreffend) te doen.

“We started doing so with the University’s HOPE Project.” Die motivering hiervoor, so kenmerkend van Botman, is polities: “Stellenbosch has a very special responsibility, given its history. We have played a significant part in the injustices of the past and we are committed to redress” (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 215). Botman “beklemtoon dat hierdie herposisionering ook ‘n wegbeweeg van die ‘language roots’ van die US beteken.” (p 216). Kapp noem ook “die opvallende afwesigheid in die Hoop Projek [van] kultuurgerigte projekte” (p 217). Die Botman-US distansieer hom hiermee onteenseglik van sowel die Afrikaner as Afrikaans. “We are now a national asset. Stellenbosch is nie meer ‘volksbesit’ nie. Ons behoort nou aan almal – die wêreld [en sekerlik Afrika] en die land – en al sy mense.” Daarmee herhaal Botman ‘n geykte ANC-refrein.

Die Lusaka-gangers, volgens Botman, “left a valuable legacy.” Hulle het glo ‘n verskil gemaak. Daar is geen teenspraak hieroor nie: die US het verander. Polities het die US in die oë van ‘n ANC-aktivis soos Botman verbeter. Maar die vraag wat die akademiese hoof van ‘n (eens) akademiese inrigting hom moet afvra, is: Het die US akademies verbeter? Is dit akademies sinvol om ‘n amptelike beleid te hê waarvolgens die akademies beste kandidate (dikwels) nie as studente toegelaat of as dosente en navorsers aangestel en bevorder word nie? Ek kan maar net hoop dat ‘n toekomstige US wat minder polities en sterker akademies as die Botman-US geöriënteerd is hiervoor eendag by herhaling verskoning sal vra.

Teen die einde van sy toespraak het Botman dit nodig gevind om nog een van sy ideologiese preokkupasies te berde te bring. Daar is volgens hom nog “brandpunte op kampus.” “Daar is byvoorbeeld die vraagstuk van simbole. Stellenbosch staan lankal nie meer vir DF Malan se 1913-idee van hoër onderwys net vir die Afrikanervolk nie. Maar weerspieël ons simbole dié verandering? Wat doen ons om almal hier welkom te laat voel … te laat voel dis ook hulle plek hierdie? Hoe laat ons die mure en geboue en pleine tot almal spreek?”

Wat hier aan Botman se ANC-siel knaag, blyk uit die volgende koerantberig:

“Twee van die Universiteit Stellenbosch (US) se geboue heet nog na voormalige eerste ministers van Suid-Afrika.

Dit kan wel verander indien ‘n voorstel aanvaar word.

Die US se Sentrum vir Inklusiwiteit het onlangs gehelp met die inwin van inligting oor die geskiedkundige bepalings wat sal geld indien ‘n naamsverandering vir die DF Malan-gedenksentrum oorweeg sou word.

Die sentrum is verlede jaar gestig en is gemoeid met sekere elemente van die US se transformasiestrategie, waarvan visuele regstelling ‘n komponent is.

Mohamed Shaikh, woordvoerder van die US, het gesê in hierdie verband word die DF Malan-gedenksentrum se naam gereeld genoem as voorbeeld in refleksies oor visuele regstelling op die kampus.

‘Die sentrum help die bestuur ook met die inwin van inligting ter oorweging van die manier waarop die US visuele regstelling wil benader. Die voorstelle het geen amptelike status nie. Dit is bloot voorstelle vir oorweging deur die US-bestuur,’ het Shaikh gesê.

Die US het nie gesê hoe ver die proses is of watter name voorgestel is nie.

Die DF Malan-gedenksentrum naby die Coetzenburg-stadion word gebruik vir die US se gradeplegtighede en die verwelkoming van eerstejaars. …

Die ander gebou wat nog ‘n voormalige eerste minister se naam het, is die JC Smuts-gebou” (Die Burger, 6 Mei, p 10).

Ja, die US het nou ‘n Sentrum vir Inklusiwiteit. Die US is hier aan die voorpunt van progressiewe denke omdat hy waarskynlik die enigste universiteit in die wêreld is wat dit deurlopend nodig vind om geld aan die bevordering van “inklusiwiteit” te bestee. Maar oor die aard van Botman-inklusiwiteit moet duidelikheid verkry word. Daar is ‘n opvallende patroon. In sportsoorte waarin blankes tradisioneel oorheers het, soos rugby en krieket, word kwotas ter bevoordeling van nie-wittes vereis. In ‘n sport soos sokker, waarin swartes oorheers, was daar egter nog nooit sprake van kwotas ter bevoordeling van wittes nie. By tradisioneel blanke en veral die eens Afrikaanse universiteite word daar insgelyks voortdurend druk vir ‘n toename in nie-wit (veral swart) studente en personeel uitgeoefen. By tradisioneel swart universiteite is daar geen druk hoegenaamd dat hulle meer wit studente en personeel moet hê nie.

Aan die Botman-US word hierdie ANC-resep getrou gevolg. Waar wittes hulle tradisioneel bevind het, bv in koshuise, word in hierdie veelgeprese era van vryheid kwotas ter bevoordeling van nie-wittes afgedwing. In hierdie konteks gebruik Botman graag die terme “inklusiwiteit” en “diversiteit.” Ter bevoordeling van nie-wittes pas die Botman-US egter graag dubbele standaarde toe. Byvoorbeeld, die US se mentorprogram vir skoliere is eksklusief vir nie-wittes, veral bruines. Daar is ook ‘n spesiale doktorale program eksklusief vir swartes uit Afrika. Inklusiwiteit word as noodsaaklik beskou as wittes deel van ‘n groep is. Blankes mag nie afsonderlik as ‘n eiesoortige groep funksioneer nie, want dan is dit apartheid*. Eksklusiwiteit word egter as ‘n positiewe bate geag wanneer nie-wittes bevoordeel en blankes blatant uitgesluit word. Dan word dit nie rassediskriminasie genoem nie, maar regstelling.

[* ‘n Kort uitbreiding hierop. In Kapp se boek word dubbelmedium (onderrig in Afrikaans en Engels in dieselfde klas) tereg opvoedkundig die “swakste van al die beskikbare opsies” genoem (p 206). Botman het egter sy wesenlike aard absoluut ondubbelsinnig geopenbaar toe hy sy voorkeur vir dubbelmediumonderrig uitgespreek het “omdat dit verseker dat wit en swart saam in die klasse sit” (p 205). Hy kies dus blatant kant vir politieke bo opvoedkundige oorwegings omdat parallelmedium (onderrig in Afrikaans en Engels in aparte klasse) weens Botman se politieke gepreokkupeerdheid deur hom as die voortsetting van apartheid beskou word. Dit word só gesien omdat oorwegend wittes die Afrikaanse en oorwegend nie-wittes die Engelse klasse bywoon.]

In die Botman-kraniologie is visuele regstelling die jongste gier. Daar word sonder meer aangeneem dat wittes op die US-kampus tuisvoel, want hulle was mos nog altyd daar. Daar word glad nie in ag geneem dat blankes sistematies etnies en kultuur- (insluitende taal-) gewys doelbewus ontheem word nie. Weens die toenemende verswarting en verengelsing van die US voel blankes elke jaar al hoe meer ontuis en inderdaad onveilig op die kampus. Wanneer Botman die ideaal koester van ‘n kampus waar almal welkom en tuis voel, waar daar geen plek vir ‘n onderskeid tussen “ons” en “hulle” is nie, waar almal een groot geïntegreerde, uitgebreide Matie-familie is, dink hy net aan wat ter bevoordeling van nie-wittes gedoen kan word.

Dit is in hierdie selektiewe en per slot van sake anti-blanke perspektief dat geboue nie na Jan Smuts of DF Malan vernoem mag word nie. Botman gaan van die ANC-standpunt uit dat die name van sulke blanke politici vir nie-wittes aanstootlik is. As hierdie twee geboue ingevolge visuele regstelling na bv Nelson Mandela en Steve Biko hernoem word, sou Botman myns insiens geen beswaar hê nie, want vanuit die ideologiese hoek waaruit hy kyk, kan hierdie twee kamerade nie aanstoot gee nie. As daar wittes is wat beswaar sou opper, kan kort mette met hulle gemaak word deur hulle rassiste te noem. Om teen te werp dat die universiteitsverskynsel van Westerse oorsprong is en met beskawing (en nie met terrorisme nie) geassosieer word, sou (waarskynlik) geen indruk op Botman maak nie.

Dat die name van Westersgesinde blankes, bv veral ‘n Afrikaner soos DF Malan, aanstootlikheidstatus by Botman het, blyk uit sy bostaande aangehaalde opmerking oor Malan. Dat die vernoeming van ANC-kamerade, daarenteen, aan die Botman-US heeltemal aanvaarbaar is, blyk uit die feit dat ‘n afdeling van die fakulteit teologie die naam van Beyers Naudé dra en ‘n afdeling van die mediese fakulteit dié van Desmond Tutu. Daar word sonder meer maar verkeerdelik aanvaar dat die gebruik van sulke name geen Matie vervreem nie.

Die studentesentrum heet tans die Neelsie, vernoem na ‘n stryder vir Afrikaans, CJ Langenhoven. Maar soos ons hierbo gesien het, minag Botman die “language roots” van die US. Uit die ANC-gesindheid wat met die Naudé- en Tutu-benamings geopenbaar word, sal dit seker nie lank wees voordat visuele regstelling die Neelsie tref nie. Almal wat as nie-rassiste gereken wil wees, sal lippediens moet bewys wanneer die Neelsie as bv die Nelson hernoem word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.