Afrikaans op Stellenbosch: van bakermat tot vloerlap

Deel op

Ek wou vandag eintlik graag oor ander onderwerpe as Afrikaans en die Universiteit Stellenbosch (US) geskryf het. As ek uitstel, sou my reaksie op onlangse berigte egter inboet aan aktualiteit. Sowel Afrikaans as die US is vir die Afrikanersaak so belangrik dat ek verplig voel om nog ‘n rubriek hieraan te wy.

Die US het onlangs sy kort kursusse in koerante geadverteer. In die ellelange lys (200 kursusse) is daar net enkeles (11) wat ‘n Afrikaanse benaming het maar hulle aanbiedingstaal word as Afr/Eng aangedui. Selfs die kursus vernoem na Elize Botha het ‘n Engelse naam, maar word Afr/Eng aangebied. Die “Emerging Maties Course” se benaming is eweneens Engels en die aanbieding is Afr/Eng. Tensy daar aparte byeenkomste in hierdie twee tale is (wat onwaarskynlik is), beteken dit dat al 200 kort kursusse uitsluitlik of hoofsaaklik in Engels aangebied word.

Die rede wat vir hierdie toedrag van sake aangevoer word, sal waarskynlik wees dat die voertaal deur die aanvraag bepaal word. Dit beteken egter dat die tirannie van die meerderheid van deurslaggewende belang is; dat die Afrikaanssprekende minderheid verontrief word en dat hulle hulle na die gerief of eise van die meerderheid moet skik. Die punt wat ek wil stel, is dat uit die aanbiedingswyse van hierdie kort kursusse daar feitlik geen oorblywende aanduiding meer is van die US wat eens daarop kon roem dat hy die bakermat* van Afrikaans is nie. (* Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 75.) Onder die leiding van Russel Botman is daarin geslaag om die US in oortreffende mate te verengels. Op 19 deser skryf Dosent Sonder Grys Skoene, Stellenbosch, in Die Burger: “Die realiteit is dat slegs 10% tot 20% van die voorgraadse lesings by Maties in Afrikaans is” (p 15).

Aan ‘n ander eens Afrikaanse universiteit is die situasie soortgelyk. Die Universiteit Pretoria (UP) het ook onlangs sy kort kursusse geadverteer (bv Sake-Rapport, 25 Mei, p 13). Nie ‘n enkele van die 123 kursusse het ‘n Afrikaanse naam nie. Die naaste wat daaraan gekom word, is “Afrikaans for beginners.” Naas hierdie kort kursusse word 16 aanlynkursusse geadverteer. In slegs een geval, “Biblical counselling,” word genoem: “This course is also presented in Afrikaans”. Onderaan die advertensie staan: “Let wel: Alle kursusse word in Engels aangebied.” Die UP-afdeling wat hiermee gemoeid is, heet “CE at UP” of “CEATUP”, met CE wat seker ‘n afkorting vir “continuing education” is. Daar is hier dus nie eens ‘n pretensie van Afrikaans-wees nie. Kontrasteer dit met die UP-rektor, Cheryl de la Rey, en Beeld se poging om die indruk te wek dat alles wel met Afrikaans is; dat Afrikaans aan UP “woema” het (Praag 13 deser).

Die aanbieding van kort kursusse deur universiteite het eers in die nuwe Suid-Afrika momentum gekry. Dit volg uit die (grootlikse) dwaalleer dat ‘n universiteit naas onderrig en navorsing ook gemeenskapsdiens moet verrig. In die praktyk kom dit daarop neer dat die universiteit goed vir nie-wittes, veral swartes, moet wees deur aktiwiteite en selfs dienste te verrig wat die owerheid versuim om te doen. Maar daar is vir universiteite ook finansiële aansporing om allerhande kort kursusse aan te bied. Die ANC-regering verwag dat universiteite, afgesien van gemeenskapsdiens, ook ander ekstra laste moet dra (bv dat eens Afrikaanse universiteite sonder enige addisionele vergoeding ook Engels as onderrigtaal moet hê). Terselfdertyd neem die staatsubsidie aan universiteite in reële terme af. Deur kort kursusse aan die publiek te verkoop, verdien sowel die betrokke dosente as die universiteit ekstra geld.

Wat in die praktyk gebeur, is dat bv die owerheid en maatskappye van hulle werknemers in werkstyd stuur om van hierdie kursusse by te woon. Die werkgewer betaal die kursusgeld en die werknemer ontvang ‘n universiteitsertifikaat wat aandui dat hy/sy die kursus bygewoon het. Van die kant van die werknemer word daar geen prestasie (bv om in ‘n toets of eksamen te slaag) verwag nie. Dit is voldoende as hy/sy (laat) vir die byeenkomste opgedaag het. Nou kan die werknemer daarop aanspraak maak, met die sertifikaat as bewys, dat hy/sy aan bv die US of UP studeer het, selfs al het hy/sy nie naastenby matriek nie. As hy/sy bv die bogenoemde “Emerging Maties Course” bygewoon het, kan hierdie werknemer voortaan die volgende formele “kwalifikasie” agter sy/haar naam skryf: EMC (US). Die tragedie is dat die kameraad wat in bv die staatsdiens in ‘n hoë pos sit en oor aanstellings en bevorderings besluit ‘n grondige kennis van bv die AK47-geweer kan hê, maar dalk geen benul het van universiteitskwalifikasies nie. EMC (US) kan dus aanleiding tot oordadige voordele vir die werknemer gee. Met minder as dit kan ‘n mens deesdae moontlik selfs ‘n minister word.

Dit behoort duidelik te wees dat die aanbieding van kort kursusse die akademiese aansien van ‘n universiteit kan benadeel. Ek het geen beswaar as ‘n universiteit ter inligting van die publiek bv openbare lesings aanbied nie. Maar daar moet nie sertifikate uitgedeel word aan diegene wat dit bywoon nie. Deur kort kursusse teen ekstra vergoeding aan te bied, word die eintlike taak van ‘n dosent, naamlik tersiêre, akademiese onderrig en navorsing, verwater. Papiergebaseerde kwalifikasie-inflasie moet teengestaan word.

In die ou Suid-Afrika was die akademiese situasie veel beter. Die ideaal was dat universiteite grade, technikons diplomas en kolleges sertifikate toeken. Die ANC-regering, by name Kader Asmal as onderwysminister, het die hele opset deurmekaar gekrap deur kolleges te sluit, technikons tot universiteite te verklaar en selfs technikons en universiteite te laat saamsmelt. Universiteite en technikons behoort wesenlik te verskil. Aan technikons moet studente afgerig word om take uit te voer. Afgestudeerdes moet beroepe kan beoefen wat min teoretiese begronding vereis. Aan universiteite moet studente onderrig word in onderwerpe en beroepe wat ‘n deeglike teoretiese onderbou gegrond op navorsing het. Soos in die geval van primêre en sekondêre onderwys het tersiêre onderrig sedert 1994 plaaslik kommerwekkend agteruitgegaan

Maar laat ek terugkeer na my eintlike onderwerp: Afrikaans aan die US. Een van my griewe is dat geen dosent in die US se Departement Afrikaans en Nederlands die moed van sy of haar oortuiging het om die verengelsing van die US openlik en daadwerklik te bestry deur ‘n veldtog daarteen te voer nie. Die taalstryd is deur dosente in ander dissiplines gevoer (bv deur die historikus Hermann Giliomee). Minstens een Afrikaans-dosent, die Afrikaanse skryfster Marlene van Niekerk, steun reeds sedert Chris Brink se rektorskap (2002-2007) die verengelsing van die US. Sy het “Afrikaans as ‘n geformaliseerde kreool van Nederlands” bestempel (Kapp p 85). Van Niekerk het haar in 2005 aan die US-Woordfees onttrek uit protes teen Dan Roodt se deelname (p 107). Later in 2005 was Van Niekerk die enigste Afrikaans-dosent wat haar steun aan tweetalige klasse, waarin Engels ten koste van Afrikaans bevoordeel word, toegesê het (p 119). ‘n Bespreking van Kapp se uitstekende boek is op 6 April op Praag gepubliseer.

Nog iemand in die US se Departement Afrikaans wat ‘n twyfelagtige agenda het, is Gerda Odendaal. In haar doktorale proefskrif bepleit sy die herstandaardisering van Afrikaans. Haar motivering is klaarblyklik van ‘n politieke aard. Myns insiens word die verbruining van Standaardafrikaans deur ‘n doelbewuste onwittingsproses deur haar voorgestaan (Praag 2 Februarie).

Die Vriende van Afrikaans (VVA), onder die leiding van Amanda de Stadler, is in Stellenbosch gesetel. Sy is ‘n direksielid van die Afrikaanse Taalraad. Dit is sy wat vir Afrikaans ‘n nuwe baadjie wil aantrek. Haar ideaal is klaarblyklik Son-Afrikaans, dus verkaapsing. Met die oog hierop het sy drie Son-joernaliste, onder andere Jason Eldridge, genooi om ‘n VVA-byeenkoms toe te spreek (Praag 16 Februarie).

Amanda is die eggenote van Leon de Stadler, ‘n hoogleraar in Afrikaanse taalkunde, wat tans die direkteur van die US-Taalsentrum is. In daardie hoedanigheid stel daardie Leon hom vry van deelname aan die Afrikaanse taalstryd. In werklikheid het hy Chris Brink se beleid van ‘n tweetalige US ten koste van Afrikaans gesteun. Tans openbaar hy ‘n soortgelyke entoesiasme vir Russel Botman se meertaligheidsbeleid, wat Xhosa insluit. Ek het voorheen oor Leon de Stadler se eienaardige verhouding met Afrikaans geskryf (Praag 7.11.2012).

In Kapp se genoemde boek is daar talle verwysings na die myns insiens oneervolle rol wat Leon de Stadler met betrekking tot Afrikaans as onderrigtaal aan die US speel. Hy het hom bv net ‘n enkele keer verwerdig om met die Konvokasie-bestuur van die US in gesprek te tree en wel eers in 2007 (p 156). In 2009, in die Botman-era, het hy “openbare en eerlike debat as ‘n gevaar vir Afrikaans beskryf en gespog dat die US se taalbeleid ‘die leiding neem onder Suid-Afrikaanse universiteite’ want dit is ‘n ‘unieke innoverende taalbeplanningsprogram'” (p 180). Leon de Stadler “veg vir mense, nie vir ‘n taal nie” (p 185). “Die US volg ‘n goed bestuurde model” (p 220). Die genoemde leiding, uniekheid, innovasie, beplanning en goeie bestuur benadeel Afrikaans deurlopend, maar daarvoor voel Leon de Stadler skynbaar vere.

Wat ek probeer aantoon, is dat daar deesdae aan die US ‘n eienaardige gesindheid teenoor Afrikaans geopenbaar word. Die duidelikste kenmerk is distansiëring van Afrikaans, wat in die afskaling van Afrikaans as onderrig- en voertaal vergestalt word. Daarin speel Afrikaanssprekende blankes, insluitende Afrikaans-dosente, ‘n leidende rol. Wanneer wel gepoog word om Afrikaans te bevorder, is dit nie noodwendig Standaardafrikaans nie, maar eerder (soos by die Afrikaanse Taalraad by monde van veral Michael le Cordeur) die mengeltaal Kaaps. Onlangs het twee van die bogenoemde name weer opgeduik: Gerda Odendaal en (in die VVA-tradisie) Jason Eldridge (LitNet 4 deser).

Op 24 April is ‘n middagetegesprek, “Afrikaans: 100 jaar as onderrigtaal,” op die US-kampus aangebied. Odendaal het as gespreksleier en Eldridge as gespreksgenoot en gasspreker opgetree. Die titel verwys na die besluit van die Kaapse Provinsiale Raad op 23 April 1914 om, op versoek van CJ Langenhoven, Afrikaans as onderrigmedium in skole tot standerd 4 goed te keur. Voordat Langenhoven ‘n kampvegter vir Afrikaans geword het, het hy in 1893 Engels korrek beskryf as “the future language of South Africa,” waaraan die US deesdae met soveel oorgawe meedoen.

Gedurende daardie middaguur het Odendaal die meeste van die praatwerk gedoen. Wat Afrikaans betref het sy haar weer bewys as iemand wat, in die woorde van Langenhoven, “die briek vasdraai teen die steil opdra’ende uit.” Sy het bv haar historiese oorsig in goeie Standaardafrikaans gelewer. Toe sy Eldridge aanspreek, het sy dadelik oorgeslaan na loslit-Afrikaans en gepraat van “deal” en “writer’s block.” Is dit nie paternalisties nie? Daarna tree die kenmerkende Odendaal-gesindheid na vore.

“Dink jy nie, en jy mag eerlik wees, wit Afrikaanssprekendes is ten minste deels te blameer daarvoor dat so baie bruin ouers deesdae eerder verkies om hulle kinders in Engels te laat onderrig nie? Want vir dekades het wit Afrikaanssprekendes so te sê die bestaan van bruin Afrikaanssprekendes misken deur hulle nie te betrek by besluite oor en liggame vir Afrikaans nie. So het selfs Langenhoven by meer as een geleentheid na Afrikaans as ‘witmanstaal’ verwys.” Odendaal plaas blankes doelbewus in die beskuldigdebank en laat bruines wat hulle kinders na Engelse skole stuur skotvry daarvan afkom. By implikasie neem sy die lede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) kwalik omdat Gideon Malberbe in 1875 tydens die stigting van die GRA nie sy huishulp en sy tuinhulp inspraak toegelaat het nie.

Langenhoven word soos volg aangehaal: dat Afrikaans “die enigste witmanstaal [is] wat nie onmiddellik oor die see kom nie” en Afrikaans is “die éen enigste witmanstaal wat in Suid-Afrika gemaak is en nie oor die seewater gekom het nie.” Langenhoven het in die era voor die oordrewe aandrang op inklusiwiteit en multikulturaliteit gelewe. Wat hy gesê het, is duidelik en ook feitelik korrek. Afrikaans is ‘n witmanstaal, of witmenstaal, soos dit deesdae nie-seksisties heet. Hy het nie beweer dat net blankes Afrikaans praat nie. Ook is sy stelling dat blankes die taal gemaak (dus gevestig, uitgebou en gekoester) het, heeltemal korrek. Blankes het hierin ‘n veel groter aandeel as enige ander etniese groep gehad en dit geld steeds. Afrikaans is volgens Langenhoven “die uitgedrukte siel van ons volk.” Dit is presies wat Afrikaans nie meer aan die US is nie. Dit is ook wat Afrikaans by ‘n goeiende getal (veral ontwikkelde) bruines nie is nie (Praag 17 deser).

Odendaal soek steun vir haar voorgestelde herstandaardisering van Afrikaans. “Sou ‘n mens kon sê dat bruin Afrikaanssprekendes nie soseer ‘n probleem het met Afrikaans nie, maar eerder met Standaardafrikaans?” Sy haal Michael le Cordeur aan wat beweer “baie bruin Afrikaanssprekendes ‘steeds soos bywoners in hul eie taal voel’, omdat Afrikaans in sy ‘wit’ vorm gestandaardiseer is. Dink jy die feit dat Standaardafrikaans vir baie bruin sprekers te ver verwyderd van hulle alledaagse taalgebruik is, het daartoe bygedra dat hulle eerder besluit om Engels te gebruik?” Odendaal volhard dus in haar pogings om van blanke Afrikaanssprekendes die sondebokke te maak.

Eldridge het na Odendaal se lang relaas ‘n kort toespraak gelewer. Tot sy eer het hy nie op Odendaal se wysneusige opmerkings en vrae gereageer nie. Hy het nie die aas gevat wat paternalisties na hom gegooi is nie. Dit is nie heeltemal duidelik of sy verwysing na “‘n uiters onverdraagsame vorm van Afrikaans” na Standaardafrikaans verwys nie. Hy het genoem dat sy kind in ‘n Afrikaanse skool is omdat hy as ouer (en seker sy vrou ook) lief vir Afrikaans is. “‘n Taal wat al meer as 100 jaar ons brood en botter vir die siel is.” Hy het ook gespot met die soort Engels wat sommige mede-bruines praat maar dat hulle desnieteenstaande Afrikaans steeds as skeltaal gebruik. Die volgende Engelse woorde het hy heeltemal onnodig bygesleep: mood swings, job, boring, tool, anyway, baggage.

Ten spyte van Odendaal se uitlokking het Eldridge hom nie aan anti-blanke opmerkings skuldig gemaak nie. In hierdie opsig het haar strategie nie die verlangde resultate gelewer nie. Op die keper beskou is Odendaal en van die ander Stellenbossers wat hierbo genoem is se omgang met Afrikaans eienaardig en eintlik ongesond. Op so ‘n manier word die heil van Afrikaans nie bevorder en sy toekoms nie verseker nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.