Die Ekonomiese Vryheidsvegters is in die parlement om ‘n rewolusie te ontketen, nie om reëls te volg nie, sê die leier van die party, Julius Malema.
Hy het gesê hulle sal nie duld dat die rewolusie ondermyn word deur konvensies wat deur kolonialiste en imperialiste geskep is nie.
Sy ondersteuners het Vrydagmiddag ‘n betoging buite die parlementsgebou gehou.
Malema het die media toegespreek nadat EFF-parlementslede Donderdagaand uit die parlement gestap het.
Malema gaan glo ‘n regsmening inwin nadat hy gevra is om die nasionale vergadering te verlaat weens onparlementêre gedrag.
Die waarnemende speaker, Thandi Modise het Malema gewaarsku dat tugstappe kan volg nadat hy gesê het die ANC het die slagting by Marikana veroorsaak.
Daar is 34 Amcu-mynwerkers by Marikana in 2012 deur die polisie doodgeskiet.
Volgens die getuienis van Meneer X wat tans voor die Farlam-kommissie dien, het die Amcu-myners onder die invloed van moetie ‘n massamoord beplan.