Wat is so skokkend aan plan vir skole?

Deel op

Ek maak beswaar teen die opskrif “LUR se skok-plan vir skole” (Beeld, 16 Junie). Wat op aarde kan “skokkend” wees daaraan om voormalige model-C-skole met inrigtings in minder gegoede woonbuurte saam te smelt en die hoofskappe te transformeer?

Na my ervaring gee slegs ’n baie klein persentasie Afrikaners nog om vir ons kultuur, geskiedenis en die vryheidstrewe van ons voorouers.

Dan Roodt’n Jaar of twee gelede het ek voor die grondwethof ’n soort eenmanbetoging gehou vir die reg van beheerrade om die taalbeleid van skole te bepaal.

Soos mev. Thatcher gesê het, het ek my in “ ’n minderheid van een” bevind en moes aanvaar dat die meerderheid Afrikaners of “Afrikaanses” of wat hulle hulself ook al deesdae noem, Amerikaanse waardes van “diversiteit” en multikulturele samesyn met ywer omhels het. Immers stem meer as 90% van Afrikaanssprekendes vir die DA, wat in sy handel en wandel daardie VS-ideaal van diversiteit uitleef, met leiers wat kopdoeke dra en veral saam dans.

Mnr. Panyaza Lesufi gaan nou bloot die beleid en beginsels toepas waarvoor die Afrikaanse pers, asook die DA-kiesers in verkiesing ná verkiesing smeek, met ander woorde groter transformasie en vermenging van tale, kulture en mense. Dis hoegenaamd nie “skokkend” nie; dis suiwer ’n logiese toepassing van die beginsels wat almal heelhartig ondersteun.

Dus, pleks dat Beeld so ’n reaksionêre opskrif by ’n berig plaas wat ’n volgende stap in ons Groot Samesyn aankondig, behoort daar eerder blydskap en opgewondenheid oor dié vooruitsig te heers! In elk geval het wyle minister Kader Asmal die Afrikaanse kampusse saamgesmelt en almal het die nuwe diverse, meestal Engelstalige kampusse verwelkom. Waarom sou dit vir skole anders wees?

Soos die LUR sê: Dis net ’n stereotipe dat die standaard van wiskunde in Alexandra of Diepsloot laer as in Waterkloof of Linden is. Boonop is dit ’n rassistiese stereotipe wat nou in die praktyk verkeerd bewys sal word as hoofde en leerkragte tussen skole uitgeruil gaan word en kinders insgelyks tussen skole in busse aangery word.

Die Afrikaner het sedert die 1990’s reeds triljoene rande se bates op ’n skinkbord prysgegee. Die totale waarde van die oorblywende Afrikaanse skole is seker nie veel meer as R50 miljard werd nie. ’n Bagatel waaroor niemand ’n traan sal stort nie.

Die voordele van diversiteit vir ’n kind se opvoeding het derduisende Amerikaanse opvoedkundiges al in proefskrifte en handboeke besing.

Prof. Jonathan Jansen sal dit kan beaam. As Beeld dit nie kan insien nie, skort daar iets.

Hierdie rubriek het ook as brief in vandag se Beeld verskyn.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.