Boerehaat op die internet: Wat gaan ons doen?

Die pla my al geruime tyd dat daar soveel negatiewe inligting oor Afrikaners op die internet bestaan. Doen ‘n mens enige soektog met die slagwoorde “Afrikaner” of “Boer”, word jy gekonfronteer met honderde blaaie waar dit gaan oor apartheid, rassisme, diskriminasie teen swartes, konserwatisme, Calvinisme en wat nog.

Dan RoodtDaar bestaan waarskynlik geen ander volk op aarde wat so konstant op die internet sleggesê word soos ons nie, met ‘n legio wanvoorstellings oor ons geskiedenis, taal, kultuur en hoe ons is.

‘n Mens noem dit Boerehaat. In die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) word “Boerehater” soos volg gedefinieer:

Hater van die Afrikaners; persoon wat vyandiggesind is teenoor alles wat Afrikaans is.

Op die Engelse Wikipedia word Boerehaat só omskryf:

Boerehaat is an Afrikaans word meaning hatred of the Boers, or Afrikaners. The term Boerehater (English: Boer-hater or Boer hater) has been used to describe a person who hates, prejudices or criticises the Boers, or Afrikaners.

Jode beskik oor iets soos die wêreldwye Anti-Defamation League wat onlangs binne ses maande $500 miljoen (R5,5 miljard) ingesamel het om antisemitisme en holocaust-ontkenning te bekamp. Daar bestaan egter geen organisasie wat hom spesifiek beywer om globale Boerehaat teen te staan nie.

Selfs die inskrywing op Wikipedia oor Boerehaat het enkele dae gelede drasties verander om insgelyks ‘n anti-Afrikaanse kleur te verkry, asof dit ons eie skuld is dat Britte en Suid-Afrikaanse Engelse chauvinisties teenoor ons optree en gedurig propaganda teen ons publiseer of uitsaai.

Wikipedia is seker vandag een van die invloedrykste publikasies op aarde, indien nie dié invloedrykste nie. Skoolkinders in alle lande gebruik dit om take uit te werk. Dit verskyn heel bo-aan op soekenjins en daarom verteenwoordig dit in die praktyk omtrent al wat iemand in die buiteland ooit oor ons te wete gaan kom. Net om die gemors wat op Wikipedia as ons geskiedenis – asook dié van Suid-Afrika – aangebied word, gaan ‘n voltydse werk wees.

‘n Groep praag-vrywilligers sou seker so iets op gekoördineerde wyse kon aanpak, maar dit gaan ‘n taai stryd wees. Ek het persoonlik ervaring van die soort vooroordele wat daar by baie anonieme Wikipedia-bydraers bestaan en wat jaloers oor hul stukkies propaganda waak om te sorg dat niemand daaraan verander nie. Indien ons hoegenaamd so iets wil aanpak, sal ons besef dat ons met feite en verwysings gewapen sal moet wees en ook hewige teenstand van derduisende Engelse dwarsdeur die Britse Statebondslande gaan teëkom vir wie Boerehaat op die internet ‘n soort stokperdjie geword het.

So pas het 16 Junie weer gekom en gegaan, met al die mites en clichés oor Soweto wat van voor af aangedik en uitgebasuin is. Die skade wat ons reputasie in die wêreld en ons eie selfbeeld hierdeur ly, is grotesk. Op die internet is dit soos ‘n konstante kuberoorlog wat teen ons gevoer word.

Daar word deesdae baie oor indentiteitsdiefstal gepraat. Nog nooit in die geskiedenis egter is die identiteit van ‘n groep mense of ‘n hele volk gesteel en op vertekende wyse aanlyn gekanoniseer soos wat met ons gebeur het nie. Ons moet besef dat internetinskrywings, veral op iets soos Wikipedia, amper vir ewig is – indien hulle nie drasties verander kan word nie.

Ek sal graag by lesers wil verneem wat hulle hiervan dink en hoe ons te werk moet gaan.

Of het ons nou maar gaan lê? Aanvaar ons dat ons verhaal deur die vyand geskryf is en dat ons maar suutjies van die aardbol af gaan verdwyn, omdat ons dit nêrens kan durf waag om ons gesigte te wys nie?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.