Vandag is GRA-dag

Deel op

Image

GRA-wapen

14 Augustus is inderdaad ʼn uitstaande baken op die pad van die Afrikanervolk. Dit was op 14 Augustus 1875 dat die Genootskap van Regte Afrikaners gestig is. Dit was hoegenaamd nie ʼn volksbeweging wat daartoe aanleiding gegee het nie. Inteendeel, dit was slegs ʼn paar begeesterde en doelgerigte manne wat die taak op hulle skouers geneem het.

Deel op
Hoekom was dit nodig dat ʼn liggaam soos die GRA gestig moes word? Kom ek skets baie kortliks die faktore wat daartoe aanleiding gegee het.

In 1652 stig Jan van Riebeeck die verversingspos aan die Kaap. Al gou verander dit van ʼn verversingspos na ʼn kolonie waar mense uit Europa hulle kom vestig. Dit was hoofsaaklik mense uit Holland en Duitsland. Vir byna 150 jaar bly die Kaap ʼn Hollandse kolonie. Gedurende hierdie 150 jaar het daar meer Duitsers na die Kaap gekom as al die ander immigrante uit die ander lande tesame, Hollanders inkluis. In 1688 kom die Franse Hugenote. Hulle grootste bydrae was hul godsdienssin, hul kennis van wynbou en die vanne soos Du Plessis, Marais, Delport en  De Villiers.

In hierdie 150 jaar het die boere bekend as die Vryburgers, al hoe verder ooswaarts, weswaarts en noordwaarts beweeg, maar veral ooswaarts. Die verbinding met die moederkolonie Holland was uit die aard van die saak baie swak. Daar was nie boeke, koerante of skole nie, met die gevolg dat die taal, veral dié van die Vryburgers, begin verander het van Hoog Hollands na die sogenaamde Kaapsch Hollands. Hulle het dus nie meer suiwer Hollands gepraat nie, maar ʼn vereenvoudigde weergawe daarvan.

In 1795 word die Kaap vir die eerste keer deur Engeland verower en in 1806 vir die tweede keer. In 1814 word die Kaap ʼn permanente Engelse besetting. Die veroweraar het nou toestande in die lewe geroep wat die voortbetaan van die Hollandsprekendes as ʼn aparte nasie met ʼn eie taal bedreig het. Nederlands was toe nog die amptelike taal van die staat, die kerk, die Bybel, die skool en die platform. Die spreektaal was Afrikaans, toe nog genoem Kaapsch Hollands. Met die geringe skoolopleiding van daardie dae kon niemand Nederlands werklik magtig word nie en in briewe en toesprake is die verafrikaanse vorm gebesig. Dit was die natuurlike proses waartydens die spreektaal nog nie tot kultuurtaal verhef is nie.

Die Engelse veroweraar was van plan om van die Kaap ʼn Engelse kolonie in die ware sin van die woord te maak. Dit moes geskied langs die weg van verengelsing van alles en almal en die taal wat tog maar die nasieskap bepaal, moes dit eerste ontgeld.

Wat die staat aanbetref, kom daar op 5 Julie 1822 die volgende belangrike aankondiging: Na 1 Januarie 1823 moet alle amptelike stukke aan die goewermentsekretaris in Engels wees. Na 1 Januarie 1825 moet alle dokumente in Engels wees. Na 1 Januarie 1827 sou Engels die enigste amptelike taal van die geregshowe wees. Die taal van 90% van die bevolking is daarmee uit die regswese verban. As gevolg daarvan sou daar duur betaal moes word vir ʼn tolk in enige regsproses. Dit was dan ook een van die redes vir die Groot Trek, volgens Piet Retief se manifes.

In 1826 word die riksdaalder, skelling en oulap vervang deur pond, sjieling en pennie. Wat die kerk aanbetref, is die verengelsingsbeleid ook aktief toegepas Predikante is deur die staat betaal. Vanaf 1822 word ʼn aantal Skotse predikante ingevoer. Die sinode besluit in 1834 dat daar gestreef moes word om Engels in sommige van die eredienste te gebruik. Onder die voorwendsel om dit aantrekliker te maak vir die jong mense en om Engelse na die dienste te lok, is die aanddienste in Kaapstad, Worcester en Stellenbosch in Engels gehou. Ook die liedere het afgewyk van die Psalm- en Gesangeboek. Kerke in die platteland het gelukkig vry gebly van die invloede. Suiwer Boerekultuur het hier behoue gebly.

In 1809 het ʼn sekere Collins gesê: “Import English teachers and the next generation will be English.” In 1822 word Skotse onderwysers ingevoer en in elke dorp ʼn staatskool gestig. Vir die grootste deel van die bevolking was die skool egter net ʼn middel om die kinders Hollands te leer lees en skryf, sodat hulle die Bybel kon lees en uit die katkisasieboek kon leer. Waar die staatskole nie in hierdie behoefte kon voorsien nie, is van privaatonderrig gebruik gemaak en teen 1830 loop die staatskole feitlik leeg.

In 1839 gee die owerheid ʼn bietjie toe. Die kinders kon nou Hollands as vak neem as die ouers dit verlang. Verder sou alles Engels wees. In sommige dele van die land het die mense begin tevrede raak met die toestande sodat daar byvoorbeeld in Colesberg nie een leerling was wat Hollands as vak wou neem nie.

Verengelsing het stadigaan sy kloue begin inslaan in die volkslewe. Die siening was: Laat die kinders maar Engels leer, Hollands kom vanself. Die Afrikaners het begin minderwaardig voel. In die klaskamer is hulle gekonfronteer met die grootheid van die Britste ryk, ʼn ryk waaroor die son nooit ondergaan nie. Op die skoolterrein moes hulle net Engels praat. Dieé wat oortree het, is swaar gestraf. Hulle moes die Dutch Mark dra en honderde reëls uitskryf, soos “I must speak English”.

In 1870 tipeer CP Hoogenhout, ʼn digter bekend as Jan wat versies maak, die toestand soos volg: “Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy siet en hoor. In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor.” In 1870 hoor ons vir die eerste keer dat mense van Afrikaans praat en dit kan beskou word as erkenning vir Afrikaans as selfstandige taal in teenstelling met die ou opvatting dat dit ʼn soort Hollands is.

Daar tree nou ook manne na vore wat hulle daadwerklik vir Afrikaans beywer. Onder hulle staan Hoogenhout, Pannevis en SJ du Toit uit. Pannevis en Hoogenhout skryf ʼn Afrikaanse Volkslied wat verafrikaans word deur SJ du Toit en DF du Toit:

“ʼn Ider nasie het syn Land

Ons woon op Afrikaanse strand

Vir ons is daar geen beter grond

Op al die wye wêreld rond

Trots is ons om die naam te dra

Van kinders van Suid-Afrika

 

ʼn Ider nasie het syn Taal

Ons praat van die Kaap tot in Transvaal

Wat almal maklik kan verstaan

Wat gaan die ander tale ons aan

Ons praat soos Pa en Oupapa

die landstaal van Suid-Afrika.”

 

Pannevis wou graag die Bybel in Afrikaans vertaal, maar die algemene opvatting was dat die tyd nog nie ryp was vir so ʼn gewigtige stap nie. Die Afrikaners moes eers taalbewus en nasiebewus gemaak word. Dit was dan ook die ideaal van die stigters van die GRA wat op 14 Augustus in die huis van Mnr. Gideon Malherbe in die Paarl vergader het. Die taalmonument is later op hierdie plek opgerig. Op daardie dag is die GRA dan ook amptelik gestig.

Teenwoordig was:

CP Hoogenhout, Voorlopige Voorsitter, 32

August Ahrbeck, voorlopige sekretaris, 24

Ds. SJ du Toit, predikant, 27

DF du Toit, onderwyser, 29

DF du Toit, wynboer, 25

PJ Malherbe, wynboer, 22

 

Opvallend is hulle jeug, hul baie sterk godsdienssin en hulle geloof. Elke hervormer is ʼn geloofsheld wat glo dat die onbestaande moontlik sal word. Die doel en strewe van die GRA was: Om te staan vir ons TAAL, ons NASIE en ons LAND. Op al hulle vergaderings en in alle amptelike stukke moet die Afrikaanse taal gebruik word.

Die belangrikste publikasie van die genootskap was ʼn koerant met die naam Die Patriot. Die Patriot maak op 15 Januarie 1876 sy eerste verskyning. Dit was aanvanklik ʼn maandblad wat 50 sent per jaar gekos het. In 1877 word dit ʼn weekblad. Vanaf 1878 is DF du Toit die redakteur, bekend as Oom Lokomotief. Die Patriot is wyd gelees tot in Transvaal en die Vrystaat en het reusewerk verrig in die belang van Afrikaans in die ou Kolonie.

Image 

SJ du Toit, in ʼn politieke frontverandering, kies kant vir Rhodes met die Jameson-inval in 1896 en kritiseer president Kruger. Die intekenare daal en Die Patriot sterf ʼn finansiële dood. Die Tweede Vryheidsoorlog speel ʼn groot rol hierin.

Ná die oorlog vlam die taalstryd weer op en kom die 2de Taalbeweging aan die gang. ʼn Mens voel maar klein as jy daaraan dink wat andere vir Afrikaans gedoen het, maar terselfdertyd behoort dit ʼn ieder en ʼn elk aan te vuur om ook vandag sy deel te doen. Gedurende hierdie tyd was daar manne wat ʼn reusestryd in belang van Afrikaans gevoer het. Ek sonder enkeles van hulle uit:

O, koud is die windjie en skraal

En blink in die doflig en kaal

So wyd as die Heer se genade

lê die velde in sterlig en skade

En hoog in die rande

Versprei in die brande

Is die grassaad aan roere

Soos winkende hande

 

O teurig die wysie op die ooswind se maat

Soos die lied van ʼn meisie in haar liefde verlaat

In elk’ grashalm se vou

Wink ʼn druppel van dou

En vinnig verbleek dit tot ryp in die kou!

 

Die gedig “Winternag” bewys dat Afrikaans ook die draer van die diepste gevoelsuitinge kan wees. “Winternag” is inderdaad ʼn keerpunt in die stryd vir Afrikaans. Dink daaraan dat die taal onveranderd gebly het soos die gedig in 1905 neergeskryf is!

Ek dink aan dr. DF Malan wat so ʼn groot bydrae gelewer het tot die amptelike erkenning van Afrikaans op 8 Mei 1925. “Bring bymekaar almal wat bymekaar hoort uit innerlike oortuiging.”

Ek dink aan die politieke en vreeslose taalheld, CJ Langenhoven, wat die geleenthede om Afrikaans in die parlement te bevorder, goed gebruik het. Hy is natuurlik die skepper van “Die Stem”. Sy humor en satire is tot vandag toe vir sy lesers ʼn bron van plesier. Dis hy wat by geleentheid in die Parlement gesê het: “Die helfte van die parlementslede is bobbejane.” Natuurlik moes hy die opmerking terugtrek. Hy doen dit met die woorde: “Die helfte van die parlementslede is nie bobbejane nie!”.

Deur sy pittige en soms ernstige skryfwerk, het hy Afrikaans geweldig bevorder. Een van sy sêgoed het my as jong seun diep beïndruk en ʼn rigsnoer in my lewe geword. Afrikaans is my pêrel van grote waarde waarvan dit ʼn goedkoop prys sou gewees het as ek tot die betaling daarvan geroepe sou gewees het om al my besittings af te staan. Toe dit goed met ons gegaan het, het ek nooit daaraan gedink nie. Vandag het daardie woorde weer besondere betekenis verkry.

Ek haal nog ʼn taalheld aan, Jan FE Celliers:

Ek hou van ʼn man wat sy man kan staan

Ek hou van ʼn man wat ʼn slag kan slaan

ʼn oog wat nie wyk, wat ʼn bars kan kyk

en ʼn wil wat so vas soos ʼn klipsteen staan

 

Ek hou van ʼn man wat sy moeder eer

In die taal uit haar vrome mond geleer

En…

 

Daar is vandag vele wat redeneer oor wie die Afrikaner en wat die herkoms van Afrikaans is. Die swart mense in Mosambiek praat Portugees, maar dit maak hulle nie Portugese nie. Baie van die inwoners van Sentraal-Afrika praat Frans, maar dit maak hulle nie Franse nie. Baie kleurlinge in Suid-Afrika praat Afrikaans, maar dit maak nie van hulle Afrikaners nie.

Op grond van my kennis van die Afrikaanse, Nederlandse en Duitse grammatika en letterkunde kan ek met groot oortuiging sê dat Afrikaans ʼn suiwer Germaanse taal is. Die storie dat Afrikaans ʼn produk van die slawe en die Hottentotte aan die Kaap is, is absolute snert, al sê watter hooggeleerde professor dit ookal. Daarvoor is die Afrikaanse grammatika ʼn bietjie te ingewikkeld.

Natuurlik is daar leenwoorde uit die Bantoe-tale, uit Maleis, Portugees en uit Khoisan. Daar is ook leenwoorde uit Engels en Frans, maar dit is min en beperk tot selfstandige naamwoorde en bywoorde. Elke taal het sulke leenwoorde. Die werkwoord, die hart van enige taal, en die sintaksis is onaangeraak deur vreemde invloede – dis suiwer Germaans.

Ons spreekwoorde kom uit Nederland en Duitsland, byvoorbeeld:  Je Kahler der Junker desto ärger der Prunker – in Afrikaans – Hoe kaler jonker, hoe groter pronker. Hierdie spreekwoord kom uit die ou Oos-Pruise, die mees oostelike provinsie van die Duitse ryk.

Huidig lewe ons weer te midde van ʼn erge taalstryd. In baie opsigte is dit veel erger as aan die begin van die vorige eeu. Dit is wel waar dat geen taal uitgeroei kan word, tensy die hele volk wat die taal praat, uitgeroei word nie. Dit is die goeie nuus, maar die slegte nuus is dat ʼn volk nie net fisies vernietig kan word nie, maar ook geestelik.

In hierdie situasie is daar geen beter hoop of troos of raad as CJ Langenhoven se laaste strofe van Die Stem nie:

Op U almag vas vertrouend het ons vadere gebou

Skenk ook ons die krag, o Here om te handhaaf en te hou

Dat die erwe van ons vaadre vir ons kinders erwe bly

Knegte van die Allerhoogste teen die hele wêreld vry

Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou o Heer

Met ons land en met ons nasie, sal dit wel wees God regeer.

карданный светильник фотоАлександр Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.