Michael le Cordeur en die Lwandle-gebeure

Deel op

“Die woede in my sal ná ‘n paar dae uitgewoed wees.” Só skryf Michael le Cordeur in sy hoeveelste forumartikel in Die Burger (10 deser, p 15). Soos gebruiklik vestig die koerant die aandag daarop dat Le Cordeur die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR) is. Hierdie keer skryf Le Cordeur egter nie oor Afrikaans of taalsake nie, maar direk oor die politiek; blykbaar in sy hoedanigheid as gerekende gewete oor maatskaplike sake.

Die aanleiding vir sy artikel is die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) wat ‘n hofbevel verkry het om onwettige plakkers van sy grond te Lwandle by die Strand te verwyder. Die krotte is gesloop en die inwoners moet toe elders ‘n heenkome vind. Die ANC gee die regerende DA in die Wes-Kaap en in die Kaapse Metropool die skuld vir die haweloosheid van hierdie mense. Volgens die ANC is hierdie onmenslike daad gepleeg omdat hierdie plakkers in die afgelope verkiesing nie vir die DA gestem het nie. Later is berig dat hierdie swartes op ander Sanral-grond in Blackheath hervestig sou word, maar bruines in Blackheath is sterk hierteen gekant. Al is ‘n koerant veronderstel om sy lesers in te lig, verswyg Die Burger polities korrek enige direkte verwysing na etnies gebaseerde wrywing tussen bruines en swartes.

Wat maak die woedende Le Cordeur van hierdie situasie? Voorspelbaar begin hy by Distrik Ses, dus by die blanke bewind se apartheidsbeleid. Hy kom met die volgende oordrewe formulering vorendag: “Daar is ook Suid-Afrikaners vir wie die Kaap steeds die plek is waar hulle ‘die slegste moontlike tye’ ervaar het. Soos hulle wat in die jare sestig deur die vorige regering uit Distrik Ses verjaag en na die onherbergsame, windverwaaide Kaapse Vlakte verban is.” Beter huisvesting as die krotbuurt waarin hulle gewoon het, is destyds in Michells Plain en elders deur die Nasionale Party-regering voorsien. Le Cordeur probeer egter sy lesers wysmaak dat die omstandighede onherbergsaam vir hierdie sogenaamde bannelinge was.

Soos talle ANC-propagandiste voor hom gebruik hierdie ATR-voorsitter nie die woord stootskrapers nie. Hy verwys twee keer na die “bulldozers” wat die krotte in Distrik Ses en Lwandle platgestoot het. As ‘n mens soos Le Cordeur ‘n pleitbesorger vir Kaaps is, hoef jy nie voorkeur aan Afrikaanse woorde te gee nie en mag jy blykbaar maar van “bulldozers” praat. Hy lieg doelbewus oor stootskrapers om sy analogie tussen Distrik Ses en Lwandle te probeer versterk. Tot die verskyning van Le Cordeur se artikel is nêrens in enige berig in Die Burger genoem, of op ‘n foto gewys, dat stootskrapers in Lwandle gebruik is nie. Die Burger sou so ‘n kans op sensasie nie onbenut laat verbygaan nie. Daar is genoem dat hamers en byle tydens die slopings gebruik is.

[Oor sy besoek aan Orania (LitNet 10 deser) skryf Le Cordeur: “Niemand se huise word met bulldozers, byle en pikke afgebreek nie.” Naas die fiktiewe stootskrapers word die hamers nou pikke. Dit is duidelik dat Le Cordeur nie betroubaar met feite omgaan nie. Soos verwag kon word, betreur Le Cordeur as integrasionis dit dat Orania se skool etnies homogeen wit is. Hy kan gerus begin wonder waarom Orania misdaadvry en selfonderhoudend is. Dalk kan dit aan die gehalte van die inwoners toegeskryf word.]

Wat Le Cordeur oor die Lwandle-gebeure ontstel, is dat die slegte wittes destyds nie-wittes uit Distrik Ses verskuif het en nou gebeur iets soortgelyks onder sy geliefde ANC-bewind. Met verwysing na George Orwell se Animal Farm vergelyk hy die NP-bewind met “die wrede plaaseienaar” waarvan daar ontslae geraak is. Maar nou vind dieselfde onmenslikheid onder swart bewind plaas, terwyl die ANC belowe het dat mense nooit weer verskuif sou word nie. Wat Le Cordeur nie sal erken nie, is dat die Distrik Ses-verskuiwings veel mensliker en doeltreffender as dié van Lwandle uitgevoer is.

Dan kom Le Cordeur met hierdie vinjet oor die Lwandle-slopings: “Hoe sal ‘n student wat vir haarself moet sorg en wie se hut en studiemateriaal deur laggende kontrakwerkers vernietig is, vooruitgaan in die lewe? Hoe gaan ‘n matriekleerder wat nou haweloos en boekeloos is, leer vir die eksamen om daardie volgende tree vorentoe te gee? … hoe leef jy met jou gewete saam?”

Die persoon wat hierdie drie vrae stel, is dieselfde mens wat (waarskynlik) die UDF/ANC se slagspreuk, “Liberation before Education,” gesteun het. Toe het Le Cordeur hom nie afgevra hoe skoliere hulle skoolloopbaan gaan voltooi nadat vier van sy klasmaats die Hoërskool Bergrivier in Wellington in 1976 aan die brand gesteek het nie. In dieselfde tyd het Russel Botman die onrusstoking op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland gelei. Toe die tydelike houtgebou van die handelsfakulteit afgebrand is, het mede-bruine Eltie Links, ‘n dosent in ekonomie, se feitlik voltooide magisterverhandeling in die slag gebly. Het Le Cordeur se gewete hom toe dermate gepla dat hy tot sy sinne gekom en hom aan die “bevrydingstryd” onttrek het? Nee, hy het, sover ek weet, voortgegaan om die UDF/ANC se vandalisme, misdaad, geweld en ander onbeskaafde dade te steun.

Le Cordeur is tans ‘n dosent in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US). Voorspelbaar noem hy Adam Small ‘n “reus” in die letterkunde. Net so voorspelbaar bestudeer sy studente vanjaar een van Small se dramas. Om hierdie rede het hy dit wenslik geag om vir sy studente Distrik Ses te “gaan wys”. “Die foto’s wat die laaste paar dae [van Lwandle] in Die Burger verskyn het, sal eendag, à la Distrik Ses, in ons land se geskiedenis opgeteken staan as die dag toe die wonderwerk [van die nuwe Suid-Afrika] in ‘n nagmerrie ontaard het. Met volgende jaar se uitstappie sal ek my studente gaan wys waar Lwandle is.”

As dosent gaan Le Cordeur dus voort met sy politieke aktivisme. Dit is soortgelyk aan die gedrag van Nico Smith wat destyds as US-dosent in teologie sy studente na omstrede plekke in die Kaapse Skiereiland geneem het om sy eie linkse politieke agenda te bevorder. Smith het hom toe in sterk teenstand van die rektor en ander akademici vasgeloop. Die verideologiseerde Botman-US sal myns insiens geen beswaar teen Le Cordeur se linkse politiekery hê nie. Maar bevorder sy gedrag die saak van Afrikaans? Moet hy hoegenaamd langer as voorsitter van die ATR geduld word?

Na die verskyning van Le Cordeur se artikel het ek al die berigte oor die Lwandle-sage in Die Burger herlees. Die nag het nie op 3 Junie oor die nuwe Suid-Afrika toegesak soos Le Cordeur beweer nie, want die slopings het reeds op die 2de begin. Die plakkers het hulle onwettig op die N2-padreserwe gevestig. Daar is ‘n serwituut en op daardie grond word ook oorhoofse kabels van die kragnetwerk gehuisves. Wat Le Cordeur doelbewus nie noem nie, is dat die plakkers buitebande en verskeie hutte aan die brand gesteek het, met die gevolg dat die brandweer ingeroep moes word. Petrolbomme, klippe en bakstene is na die polisie gegooi. Wat Le Cordeur hom nog minder sal verwerdig om te noem, is dat nabygeleë huise van blankes met petrolbomme en klippe bestook is.

Aanvanklik (3 Junie) was die standpunt dat die besetting van die grond en die krotte wat opgerig is onwettig is. Niemand kan dus verantwoordelik gehou word vir die verskaffing van huisvesting aan mense wat per slot van sake misdadigers is nie. Die volgende dag is egter berig dat die minister van vervoer, Dipuo Peters, aan Sanral opdrag gegee het om die uitsettings te staak. Sy het die plakkers om verskoning gevra. Op die 5de is berig dat die plakkers tydelik na Lwandle kan terugkeer. Lindiwe Sisulu, die minister van menslike nedersettings, het aangekondig dat sy ‘n kommissie van ondersoek aangestel het om die uitsettings te ondersoek. Die SA Kommunistiese Party en predikante soos Braam Hanekom het humanistiese simpatie met die plakkers uitgespreek. Daar is ook gedreig met ‘n hofsaak om skadevergoeding te eis vir die besittings van plakkers wat tydens en na die slopings gesteel is.

Teen die 6de was dit duidelik dat geweld en misdaad lonend is; dat onwettige gedrag aanleiding tot ‘n wen-wen-situasie vir die plakkers gegee het. Hulle is tydelik in die Nomzamo-gemeenskapsaal gehuisves. Kos word voorsien en hulle ontvang matrasse, komberse en klere van die Stad Kaapstad met die komplimente van die belastingbetalers. Grond vir die hervestiging van die 892 plakkers is geïdentifiseer en die plakkers het die opsie om te besluit of hulle hulle daar wil vestig. Die provinsiale regering sal basiese geriewe, soos water en sanitasie, wat hulle nie in Lwandle gehad het nie, verskaf. Die provinsiale regering sal ook noodpakkette voorsien waarmee skuilings gebou kan word.

Op die 7de is berig dat die nasionale regering vir die noodbehuising sal betaal. 223 hutte is gesloop. 235 wonings gaan nou voorsien word. Op die 9de is genoem dat vervoer vir die leerders verskaf sal word omdat hulle verder van hulle skole sal wees. Die Menseregtekommissie (MRK) gaan die uitsettings ondersoek. “Die MRK veroordeel die oormatige gebruik van geweld deur die polisie.” Geen melding word van die geweldadigheid en onwettigheid van die plakkers gemaak nie. Die MRK se aksie volg nadat Die Burger op 6 deser in ‘n hoofartikel skuld op die polisie gepak het met die bewering dat daar “‘n ernstige gebrek aan bevel en beheer in die geledere van die polisie” is. In hierdie verband het die koerant dit selfs wys geag om na Marikana te verwys.

Op hierdie manier bevorder die MRK en Die Burger nie wet en orde nie. ‘n Voorvereiste vir ‘n doeltreffende en respekteerbare polisiemag is egter dat aanstellings en bevorderings op meriete moet geskied en nie, soos tans, op grond van veral rassistiese en seksistiese oorwegings nie. Van die hoogste poste in die polisie word tans deur mense beklee wat die ANC gedien het maar geen opleiding in polisiëring het nie.

Aanvanklik is die lokaliteit van die hervestigingsgebied geheim gehou om te voorkom dat ander kansvatters hulle onwettig daarop vestig. Op die 10de is genoem dat Sanral van sy padreserwe in Blackheath vir woondoeleindes beskikbaar stel. Blackheath is tradisioneel ‘n bruin woongebied. Die inwoners is beswaard, onder meer omdat hulle betaal het en steeds betaal vir wat hulle daar het en nie, soos die Lwandle-plakkers, sonder positiewe teenprestasie alles gratis ontvang nie. Op die 11de is berig dat die inwoners van Blackheath met plakkate betoog en motorbande aan die brand gesteek het.

Bruines leef reeds eeue lank in die nabyheid van blankes en is noodwendig deur die wittes se kultuur en Westerse beskawing ten goede beïnvloed. Soos die blankes is bruines geneig om dit vreemd te vind dat swartes sonder positiewe prestasie (bv betaling) hulle sin kry deur bv onrus te stook en hulle tot onwettige optrede te wend. Dit is hoe die land in die skoot van swart mag beland het. Dit is hoe swart groepe, bv gemeenskappe en vakbonde, voortgaan om hulleself ten koste van ander etniese groepe te bevoordeel. Daar is egter blankes en bruines wat swartes ter wille is en nie hulle stem verhef teen die misdadigheid wat besig is om die ganse Suid-Afrikaanse samelewing tot in die afgrond te rysmier nie.

Nóg Le Cordeur nóg die kommentaar in Die Burger oor die Lwandle-sage dring deur tot die kern van hierdie aangeleentheid. Die feite staan vas. Swartes het hulle doelbewus en heeltemal onwettig op die padreserwe gevestig. Die onooglike strukture was hoogs sigbaar, gevolglik kan hierdie misdadige gedrag as uittartend beskou word. Polities korrek is daar by die owerhede, politici en joernaliste ‘n opvallende onwilligheid om hierdie mense as misdadigers te etiketteer. Pleks daarvan word hulle voorgehou as mense wat sonder positiewe teenprestasie op grond, huisvesting en dienste geregtig is. Wat hulle verlang/eis, val in hulle skoot weens negatiewe prestasie: bv onrus, geweld, misdaad. Hoeveel van hierdie plakkers onwettig in die land is (‘n verdere misdaad), is iets wat blykbaar nie geopper mag word nie.

Sedert die publikasie van Le Cordeur se artikel was daar verdere verwikkelinge. Die Lwandle-gebeure het in ‘n absurde sirkus ontaard, met Helen Zille en Patricia de Lille, namens die DA, aan die een kant en Lindiwe Sisulu, Marius Fransman en Tony Ehrenreich, namens die ANC, aan die ander kant. Ampshalwe beskuldig hierdie welvarende politici mekaar oor en weer, maar hulle stem saam dat die plakkers op voortreflike wyse vir hulle wanprestasie vergoed moet word. Hulle almal openbaar ‘n teer hart vir armes, maar dit kos hierdie politici nie ‘n sent uit hulle eie sakke nie; dít terwyl hulle op grond van wat hulle ampshalwe in ‘n enkele jaar ontvang (nie “verdien” nie) miljoenêrs is. Wanneer hulle besig is om beloftes te maak en gebeure tot die voordeel van hulle politieke party te plooi, ontvang hulle buitensporige vergoeding. Die belastingbetalers moet vir die beloftes opdok. Die Lwandle-sage is in die eerste plek eerder ‘n toonbeeld van wanadministrasie as die uitlewing van deernis.

Op die 12de berig Die Burger dat die plakkers die reg verkry het om vir 9 maande terug te trek na waar hulle hutte gesloop is. Boumateriaal sal voorsien word en daar sal ook met die oprigting van die nuwe wonings gehelp word. 45 chemiese toilette sal verskaf word, wat na twee maande met spoeltoilette vervang sal word. Die volgende dag is genoem dat Sanral met Eskom oor die voorsiening van elektrisiteit sal onderhandel. In April 2015 sal die plakkers in Macassar (nie meer Blackheath nie) permanent hervestig word. Macassar is tradisioneel ‘n bruin woongebied en histories die tuiste van Kaapse Maleiers. Die Lwandle-plakkers is een van ses groepe wat hulle op padreserwes gevestig het en in Macassar hervestig gaan word. Die totale getal van hierdie mense vir wie huise daar voorsien gaan word, is 2467, waarvan 892 van Lwandle afkomstig is. Teen April volgende jaar sal hulle weens “natuurlike aanwas” sekerlik meer wees. Daar sal seker ook nog kansvatters bygevoeg word wat in die ry kom staan. In die sosiologie word dit die sneeubal-effek genoem. Die kersie op die koek is dat die erwe in hulle naam geregistreer sal word. Al verloor die belastingbetalers hier op groot skaal en word misdaad per slot van sake ruim beloon, noem Lindiwe Sisulu dit ‘n wen-wen-situasie.

Nog is het einde niet. Op die 13de is berig dat Marius Fransman blykbaar nuwe skole, nuwe skoolklere en vervoer (of vergoeding daarvoor) na skole en werkplekke as nodig of billik vir hierdie toekomstige Macassar-inwoners beskou. Daar is ook die kwessie van vergoeding vir werksverliese weens hierdie verskuiwings. In hierdie trant kan oordrewe menseregte en die verskoning van misdaad die voorspoedigste land oor die afgrond stoot. Patricia de Lille kom met ‘n tipiese politieke uitspraak vorendag deur te beweer dat die Lwandle-plakkers in Macassar huise gaan kry “sonder dat dit ‘n negatiewe invloed op die behuisingswaglys het.” Net ‘n politikus sal dink dat rasionele mense haar uitlating vir soetkoek sal opeet. Die Lwandle-terrein word nou voorberei vir die tydelike terugkeer van die plakkers. Dit is die eerste keer dat in Die Burger gewag gemaak word dat ‘n stootskraper gebruik word om die rommel bymekaar te stoot.

Die Lwandle-sage is kenmerkend van die nuwe Suid-Afrika, wat sy beslag op ‘n onwettige en misdadige wyse verkry het. Onwettig omdat die blanke kiesers nooit ingestem het tot magsoorgawe en algemene, ongekwalifiseerde stemreg in ‘n eenheidstaat nie. Misdadig omdat die ANC nooit geweld afgesweer het nie en groeperings binne Suid-Afrika nou op ‘n soortgelyke manier steeds hulle sin afdwing. Dit verg geen bedrewe profeet nie om te voorspel dat padreserwes voortaan selfs in groter mate as voorheen gesogte plakkerareas gaan word, want die Lwandle-sage toon dat buitensporig ruim onverdiende vergoeding daaruit voortvloei. Dat die Lwandle-onrus as voorbeeld en inspirasie dien, het reeds op 6 deser geblyk toe daar in Ilingelethu by Malmesbury geweldadige betogings oor elektrisiteit en behuising was (Die Burger, 7 deser, p 2).

Albert Schweitzer (1875-1965) het sy hospitaal by Lambarene in Gaboen met blanke vrywilligers (dokters, verpleegsters) en die aalmoese van Europeërs bedryf. Hy was egter sterk gekant teen die “iets in ruil vir niks”-beginsel wat met soveel oorgawe deur die ANC en ander polities korrektes aangehang word. In geen stadium is genoem dat die Lwandle-plakkers gaan betaal vir grond, huise en dienste (insluitende die besoek van die brandweer en die koste van die slopings) nie. Schweitzer het vereis dat pasiënte iets in ruil vir hulle behandeling moet bydra, al is dit net ‘n eier. Op ‘n Afrika-manier het nie net die sieke by sy hospitaal opgedaag nie, maar ook ‘n leërskare familie, want die pasiënt moet glo in dieselfde mate as by die huis gekoester voel. Dan word daar van die hospitaal verwag om ook die familie te voed en te huisves. Schweitzer het ook van hierdie meelopers teenprestasie verwag, bv om water vir die groetetuin en vrugtebome aan te dra.

Anders as by bv die ANC het Schweitzer nie net menseregte en vryheid erken nie, maar dit op ‘n gesonde manier met verpligtinge en werk gebalanseer. Waarom word daar in ruil vir grond, huisvesting en dienste nie werk van bv die Lwandle-plakkers verwag nie? Waarom word mense nie verbied om te betoog as hulle nie positiewe teenprestasie kan bewys nie? Waarom het bakhandstaners regte en skynbaar geen verpligtinge nie? Is dit nie dalk omdat hulle gelyke stemreg het nie? Kan ‘n land voorspoedig wees as brekers dikwels beter as bouers behandel word? Die ANC-regering kies graag kant vir werkloses, armlastiges en selfs misdadigers ten koste van wetsgehoorsame, poduktiewe belastingbetalers.

Met sy kommunistiese inslag skaar die ANC hom teen werkgewers (bv boere, maatskappye) aan die kant van werkers. Kommunisme (of ten minste sosialisme) word aangehang wanneer dit om die gepeupel gaan. Kapitalisme word gekoester wanneer dit om die eiebelang van ANC-politici en bv swart tenderaars gaan. Dan is daar skynbaar geen beperking op die hoeveelheid staatsgeld wat verkwansel word nie. Die punt is dat ‘n welvarende land nie op hierdie manier werklikheid kan word nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.