Afrikaans verdien beter as De la Rey en Titus se afskeep van taal

Deel op

In Beeld (12 deser) is daar twee berigte oor Afrikaans wat my noop om kommentaar te lewer. Albei is dadelik op die webwerf van die Afrikaanse Taalraad hergepubliseer, blykbaar omdat gereken word dat dit Afrikaans bevorder.

Die een artikel handel oor Cheryl de la Rey, die rektor van die Universiteit Pretoria (UP), se uitlatings oor Afrikaans. Ek haal aan en lewer dan kommentaar.

“Daar is ‘n tuiste vir Afrikaans op Tuks.” UP was die tuiste van Afrikaans. Hoedanig is daardie tuiste deesdae? Is Afrikaans of Engels die hoofonderrig-, administratiewe of omgangstaal op die kampus? Wat is die taal van voorkeur vir die rektor en die universiteitsraad?

“By die UP … is daar ‘n beleid wat studente, indien dit lewensvatbaar is, in staat stel om onderrig in sowel Afrikaans as Engels te ontvang.” Geld die kwalifisering oor lewensvatbaarheid vir Afrikaans of vir Engels? Is dit vir ‘n Afrikaanse student, soos destyds vir HF Verwoerd aan die Universiteit Stellenbosch (Hermann Giliomee, Die laaste Afrikanerleiers, 2012, p 27-28), moontlik om van die eerstejaar voorgraads tot voltooiing van die doktorsgraad in Afrikaans aan die UP te studeer?

“Oor Afrikaans het sy gesê die universiteit kry nie ekstra subsidies nie en klasse word dus net in albei tale aangebied indien dit geldelik sin het.” “Dit hang af van die aanvraag.” Aan die UP van weleer was Afrikaans die enigste onderrigtaal. Voordat daar oorgegaan is om ook Engels as onderrigtaal te gebruik, moes daar vanselfsprekend van die owerheid vooraf ekstra subsidie beding gewees het om die ekstra bedryfskoste te bestry. As die ANC-regering Engels as addisionele onderrigtaal aan die UP wil hê, moet hy daarvoor betaal. Dit is nie ANC-geld wat bestee word nie, maar dié van die belastingbetalers. Ingevolge universitêre outonomie was dit in elk geval nie vir die UP nodig om die ANC-regering ter wille te wees nie. Ook moes Engels as addisionele onderrigtaal nie ingevoer gewees het omdat ter goedertrou aangeneem is dat die owerheid ekstra subsidie sou voorsien nie. Die ANC se geskiedenis is sodanig dat geen rasionele mens sonder meer vertroue in hom behoort te stel nie.

De la Rey gee geen duidelikheid oor hoe “geldelik sin” en “aanvraag” (in die vorige paragraaf) in die praktyk toegepas word nie. Byvoorbeeld, as 5 studente die kursus in Afrikaans en 5 dit in Engels aangebied wil hê, wat doen UP? Gestel die 5 Afrikaanse studente is wit en die 5 Engelse studente is swart, wat doen UP? Of is dit ‘n onnodige vraag omdat die antwoord voor die hand liggend is? Maar dan: Is UP nie veel eerder (histories en andersins) die universiteit van Afrikaanse wittes as Engelsmagtige swartes nie? Waarom mag wittes maar benadeel word en nie swartes nie? ‘n Sinvolle antwoord kan tog nie wees omdat daar meer swartes is nie. Dalk is ‘n eerliker antwoord dat swartes nie suksesvol met wittes kan meeding as die speelveld gelyk is nie.

My kernprobleem volg uit die woorde “Oor Afrikaans het sy gesê” (voorlaaste paragraaf hierbo). Dit lyk asof geredeneer word dat die ANC-regering (eerder) onderrig in Engels subsidieer en dat UP so gaaf is om subsidieloos addisionele klasse in Afrikaans aan te bied. Sodanige vertolking is nie vergesog nie. Op 6 April het ek oor die Universiteit Stellenbosch (US) soos volg op Praag geskryf: “Die ANC-regering weier om ekstra geld vir tweetalige onderrig te bewillig. Pleks van die ANC aan te spreek, het Willie Esterhuyse in 2007 waaragtig ‘die ryk Afrikaners veroordeel omdat hulle nie geld vir onderrig deur Afrikaans wou voorsien nie’ (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 158). Sy redenasie is blykbaar dat Engels as owerheidsbefondste onderrigtaal aan die US hoort en dat Afrikaans as bykomende onderrigtaal deur skenkings van Afrikaners moontlik gemaak moet word.” Hierdie kanker loop dus diep, want dit spreek nie net uit die ANC se anti-Afrikaanse ingesteldheid nie, maar kom ook voor by verloopte Afrikaners.

“As studente verkies om eksamens en toetse in Afrikaans af te lê (al word die vak nie in Afrikaans aangebied nie), het hulle die reg om dit te doen.” Hieruit blyk dat sommige vakke nie in Afrikaans aangebied word nie. Is daar ook vakke wat nie in Engels aangebied word nie? Wat is die getalle in albei gevalle? Word daar van alle dosente vereis dat hulle tweetalig moet wees? As dit nie die geval is nie, is dit vir die student riskant om antwoorde in Afrikaans aan eentalige Engelse dosente in te lewer. (Destyds was Jonathan Jansen in die sewende hemel toe hy as dekaan van opvoedkunde ‘n Nigeriër, wat sekerlik nie Afrikaans magtig is nie, as dosent by UP aangestel het. Sedertdien is hierdie Nigeriër se menseregte seker nie aangetas deur te vereis dat hy Afrikaans magtig moet word nie.)

Wat ek verpes, is dat hierdie berig, wat onder die opskrif “Afrikaans het woema: UP-rektor” gepubliseer is, die indruk wek dat dit goed met Afrikaans aan daardie universiteit gaan. Klaarblyklik is geen poging aangewend om vrae te stel sodat duidelikheid oor die werklike situasie verkry kon word nie. Of was die bedoeling juis om ‘n valse indruk te wek? Het Beeld nie Afrikaans genoeg benadeel met sy onlangse skadelike berigte oor die Potchefstroom-kampus nie?

Die tweede berig is Danny Titus se rubriek. Die opskrif is “Afrikaans saak van integriteit.” Titus is die hoof van kultuursake by die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Hy is dus eerder by die KV as die TV van die ATKV. Daarby is hy eerder ‘n regs- as ‘n taalgeleerde. Sy aanstelling is ‘n uitvloeisel van transformasie by die ATKV.

Titus begin deur te verwys na “die wreedhede van apartheid en onderdrukking in Afrikaans.” Die konteks waarin hy dit noem, is die Soweto-opstand in 1976. Hy aanvaar blykbaar die geykte voorstelling dat dit ‘n spontane opstand deur skoolkinders oor verpligte onderrig in Afrikaans was. My vertolking is dat die opstand deur volwassenes aangehits is, dat kinders voorgestoot is (soos dit die ANC se gewoonte was – vrouens is hierdie keer nie ook in die voorste linie ingespan nie) en Afrikaans as voorwendsel gebruik is. Die opstand was nie spontaan nie, maar goed beplan. Vandaar die teenwoordigheid van joernaliste en fotograwe, wat vooraf ingelig is presies waar die aksie gaan plaasvind.

Lees gerus die joernalis Richard Stengel se biografie (eintlik hagiografie) oor Nelson Mandela, Long walk to freedom (1994), wat valslik as ‘n outobiografie voorgehou word. Mandela was myns insiens nie in staat om so ‘n boek te skryf nie. Meer as een keer word verwys na die voorrang wat die PAC bo die ANC by Afrika-staatshoofde geniet het omdat die PAC die Sharpeville-slagting (1960) suksesvol uitgelok het. Die ANC het die Soweto-opstand broodnodig gehad om ‘n net so (of verkieslik meer) destruktiewe beeld as die PAC te hê. Die militantste van die twee sou die meeste geld en ander bystand (bv wapens) uit Afrika en van elders ontvang.

“Tog het Afrikaans soveel gevorder sedert 1976.” Waar Titus, ‘n direksielid van die Afrikaanse Taalraad, vordering sien, sien ek massiewe agteruitgang. Sedert die 1990/1994-ramp is Afrikaans die enigste Suid-Afrikaanse taal wat baie skade gely het. Sowel die omvang van die gebruik van Afrikaans as die gehalte van die spreek- en skryftaal het kommerwekkend agteruitgegaan.

“Die nuanses van Afrikaans is egter steeds identiteitsgebonde en ook ‘n ‘soort godsdiens’.” Laasgenoemde frase kom van Leon Wessels (Praag 8 deser en kyk hieronder). Wat in Titus se gemoed krap, is dat Afrikaans die kern van Afrikaners is, terwyl dit opsioneel vir (baie) bruines, veral die ontwikkeldes, is. Afrikaans definieer Afrikaners, net soos Euskera die Baske definieer (Praag 25 Mei). Titus het al die vraag gestel of daar iets soos Afrikaanse kultuur is, terwyl dit presies is wat hy veronderstel is om te bevorder. Daar is sekerlik so iets soos Afrikanerkultuur.

Russel Botman kan geen werklike aansluiting by die kultuur van ‘n Afrikaner en Afrikaanse Universiteit Stellenbosch (US) vind nie omdat hy as buitestander geen positiewe begrip daarvoor, of simpatie daarmee, het nie. Daarom het Botman dit sy roeping gemaak om voor die eeufees in 2018 die US van weleer sover moontlik te vernietig. Ek vra my af of Titus nie in ‘n soortgelyke posisie by die ATKV is nie. Hy is gewis nie in pas met die ATKV van weleer nie. Maar daar is iets soos transformasie en dit word soms gruwelik oordryf.

Die Burger het Leon Wessels se artikel oor Afrikaans, wat op 7 deser in Beeld verskyn het, op 11 deser (p 5) volledig hergepubliseer, saam met Koos Bekker se repliek daarop, wat ook in Beeld verskyn het. Uit hoofde van sy politiek, kies Titus kant vir Wessels teen Bekker. Bekker meen dat daar ‘n soort onderliggende weersin in Afrikaans by Wessels te bespeur is. Titus: “Waar hy daaraan kom, weet nugter. Ek lees dit glad nie in die artikel nie. Bekker se artikel is hopeloos te oppervlakkig en hy mis die punt van die Wessels-artikel totaal.” Wat Wessels se punt is, word nie deur Titus genoem nie. Wat Titus wel baie duidelik doen, is om Wessels se destruktiewe ingesteldheid teenoor Afrikaans goed te praat. Titus se rubriek bevorder die heil van Afrikaans net so min as die bogenoemde Beeld-artikel oor UP.

Titus wil ‘n parlementêre komitee oor die taalwet “gaan sien”. Hy verwys ook na Jakes Gerwel wat oor die naatloosheid van Afrikaans gedroom het. In werklikheid het Gerwel telkens na die “soomloosheid” van Afrikaans verwys. Eers teen die einde van sy lewe het Gerwel agtergekom dat hy ‘n anglisisme gebruik wat nie sin maak nie. Titus verwys ook, skynbaar met trots, na hoe hy en ander studente aan die Universiteit van Wes-Kaapland die stryd teen apartheid in Afrikaans gevoer het. Dit is blykbaar nie deel van die stigma wat aan Afrikaans kleef nie. Titus beskou dit as ‘n gunstige simptoom dat daar “struggle-liedere in Afrikaans” is.

Hierdie pro-ANC-politiekery gee aanleiding tot die volgende stelling: “Die Afrikaanse saak is ‘n saak van integriteit wat enigeen in die oë kan kyk.” In die opskrif van sy rubriek word ook na integriteit verwys. Hierdie hoë morele ingesteldheid by Titus noop my om twee pertinente vrae aan hom te stel, wat ek hoop hy eerlik en duidelik sal beantwoord. In watter taal word jou kind(ers) opgevoed, bv ontvang hy/sy/hulle skoolonderrig in Afrikaans? Wat is jou persoonlike gesindheid teenoor Standaardafrikaans? Jou antwoord op hierdie vrae behoort ‘n duidelike aanduiding te gee van die mate van integriteit waarmee jy in jou huidige pos kan funksioneer.

Wat Leon Wessels in sy genoemde artikel doen, is wesenlik tweeledig. Enersyds vestig hy die aandag daarop dat daar “Afrikaanssprekendes in haas elke politieke party in die land” is. Hy wil hê dat ons met hierdie verskille moet saamleef. Hy verkies dus ‘n verdeelde Afrikanerdom. Daarom verwerp hy “eng Afrikaner-nasionalisme”. Andersyds koester Wessels hierdie naïewe dwaasheid: “Wanneer jy veeltaligheid en gehalte-onderwys jou vlagskip maak, sal daar altyd plek vir Afrikaans wees.” Dit is soortgelyk aan die standpunt van bv Bernard Lategan en Johan Hattingh aan die Universiteit Stellenbosch, wat geredeneer het dat Afrikaans sonder beskerming sal gedy (Kapp p 62, Praag 6 April).

Veeltaligheid word net van eens Afrikaanstalige universiteite vereis. In die praktyk beteken dit dat Afrikaans hom teen die wêreldtaal Engels en teen die ANC se uitgesproke voorkeur vir Engels moet handhaaf. Die praktyk het sedert 1994 onweerlegbaar bewys dat daar progressief minder plek vir Afrikaans aan ons universiteite is. Met sy bewering dat daar altyd plek vir Afrikaans sal wees, is Wessels se oogmerk myns insiens om nie-verloopte Afrikaners se sus, dus om hulle waaksaamheid te ondermyn. Ek het hiermee “die punt” van Wessels se artikel geformuleer; iets wat Titus nie gedoen het of kon doen nie. Dit is ‘n tragedie of skande as Wessels die steun van die kultuurhoof van die ATKV geniet.

In Koos Bekker se artikel vind ek, teen my verwagting in, aanvaarbare standpunte. Hy lei tereg af dat Wessels meen “dat Afrikaanssprekendes nie moet aandring op onderrig in Afrikaans op Potchefstroom nie.” Wessels het myns insiens Afrikaans daar gesaboteer. Ook: “Onderliggend aan Wessels se toon lê daar (as ‘n mens reg lees) ‘n soort weersin in Afrikaans. ‘n Aanname dat Afrikaanssprekendes weens die sonde van apartheid nie hul stem in die openbare debat moet laat hoor nie … En dan kyk jy om jou rond en merk dat daar geen enkele volk onder die son is wat nie êrens in sy verlede gemors aangejaag het nie.” Bekker noem dat daar 25 universiteite in Suid-Afrika is, dat Afrikaanssprekendes 14% van die bevolking uitmaak en daarvolgens op “rondom drie universiteite” geregtig is, waarvan die Potchefstroom-kampus “dalkies” een kan wees. Hy breek ook ‘n lansie vir moedertaal onderrig: “Moedertaalonderrig vir almal is een van die dinge wat ons nou ernstig moet begin doen.”

Maar Bekker is myns insiens te veel gepla met die vermeende sondes en onregte van, en skuld en verskonings oor, apartheid. Hy is ook te veel, selfs paternalisties, gemoeid met bruines. Les bes beweer hy dat ons enigste opsie eintlik is “om vrede te maak met die nuwe Suid-Afrika,” Daarmee trek hy die mat uit onder ‘n Afrikaner-herlewing. Hy verwys na wêreldburgerskap, wat nie net identiteitsloos is nie, maar ook fiktief is omdat daar is nie ‘n entiteit is wat so iets moontlik maak nie.

Verder, aangesien alle volke “gemors aangejaag het,” kan Bekker gerus sorg dat Naspers se onbillike beleid van diensbillikheid, waarvolgens ooreenkomstig die ANC se resep teen blankes en veral mans by aanstellings en bevorderings gediskrimineer word, summier beëindig word. Dit is iets wat hy “nou ernstig moet begin doen.” Hy sê immers self dat niemand op “meer burgerregte as enigiemand anders” geregtig is nie, “maar ook nie [op] minder nie.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.