Ooreenkoms in platinumbedryf kom

Deel op

jseDie rand het effens verstewig teen die meeste geldeenhede nadat sprake van ‘n moontlike ooreenkoms tussen platinum-maatskappye en stakende mynwerkers bekend geraak het.

Die twee twistende partye sal waarskynlik ‘n ooreenkoms bereik om ‘n einde te bring aan die uitgerekte staking in die platinumbedryf.

Die ooreenkoms sal waarskynlik nog dié week onderteken word. Dit sal die einde beteken van die langste mynwerkingstaking in die land se geskiedenis.

Die rand het tot R10,65 teen die Amerikaanse dollar verhandel nadat Amcu in beginsel ingestem het tot Amplats, Implats en Lonmin se nuwe loonaanbod.

Die aandeelpryse van die drie groot platinumprodusente het Donderdag skerp gestyg.

Die vakbond sê die staking in Noordwes se platinum-gordel sal voortgaan totdat ‘n ooreenkoms onderteken is.

Besware is geopper oor 235 werkers wat gedurende die staking afgedank is omdat hulle nie vir noodsaaklike dienste opgedaag het nie. Vakbondlede van Amcu eis dat die werkers heraangestel word voordat hulle die skikking aanvaar.

Lonmin se werkers het die aanbod in beginsel aanvaar, maar het dië voorwaardes gestel.

Stakende mynwerkers het hul vakbondleier, Joseph Mathunjwa, ‘n mandaat gegee om die maandelikse verhoging van ‘n duisend rand vir die laags-besoldigde werkers oor ‘n tydperk van drie jaar te aanvaar.

Volgens kenners in die mynbedryf, sal die produksie binne ‘n week hervat kan word.

Noudat hulle geslaag het, sal Amcu na verwagting alles insit steun om die land se goudmyne ook by die NUM af te rokkel.

Die vakbond kan binne ’n paar weke ook by goudmyne begin staak, mits ’n aansoek in die arbeidshof in sy guns beslis word, sê arbeidskenners. Die saak is verlede week aangehoor.

Die druk by goudmyne na die Marikana-slagting vir R12 500 per maand, laai op.

Amcu verteenwoordig amptelik slegs 17% van die goudmynwerkers, maar is die grootste vakbond by die land se drie grootste en winsgewendste goudmyne, Driefontein van Sibanye Gold, Mponeng van AngloGold Ashanti en Khusasalethu van Harmony.

Nadat die nuus van die deurbraak in die platinumbedryf rugbaar geraak het, het Numsa verklaar dat die voortslepende staking by Transnet se Ngqura-vragterminaal in Port Elizabeth sal voortduur.

Numsa is amptelik steeds deel van Cosatu, maar dreig sedert die begin van die jaar om uit te stap en het nie deelgeneem aan die ANC se verkiesingsveldtog nie.

Agter die skerms beywer die Numsa-bestuur hulself om van Zuma se netwerk van bondgenote in die vakbondbedryf ontslae te raak.

Die vakbond se nasionale tesourier, Mphumzi Maqungo, het die media meegedeel dat Transnet se bestuurshoof, Brian Molefe se meelopers politieke oogmerke koester.

Molefe verkeer glo onder politieke druk om nie in te stem tot Numsa se eise nie, sê Manqungo.

Molefe het egter die vakbond daarvan beskuldig dat hulle Transnet vir eie politieke gewin wil aanwend.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.