Afrikaanse regstudie aan die Universiteit van Johannesburg afgeskaf

Deel op
In die UJ-biblioteek
In die UJ-biblioteek

‘n Mens kan nie meer regte in Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg, die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit, studeer nie. Die laaste Afrikaanse klas, wat uit slegs 15 studente bestaan het, is einde verlede jaar afgeskaf.

Volgens die dekaan van die regsfakulteit, prof. PH O’Brien, wat in weerwil van sy Ierse van uit huis uit Afrikaans is, “het die Afrikanergemeenskap van Johannesburg ons in die steek gelaat. Hulle stuur hulle kinders na ander universiteite of andersins verkies hul kinders om in Engels te studeer.”

Volgens hom was daar nooit vyandigheid van die universiteitsowerheid jeens Afrikaans nie. Die taal het eenvoudig weens ‘n gebrek aan belangstelling van studente weggekwyn. LLB-studente wat wil, mag steeds hul vraestelle op Afrikaans beantwoord, maar in die praktyk sal dit waarskynlik ‘n sonderlinge gebeurtenis wees.

Tans stuur vele ouers in Johannesburg hul kinders na die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit, wat veel meer koste meebring omdat hulle vir verblyf en vervoer heen en weer Potchefstroom toe moet betaal.

Die vorige anti-Afrikaanse minister van onderwys, Kader Asmal, het die destydse R.A.U. met die Soweto-kampus van Vista en die Witwatersrandse Technikon saamgesmelt omdat hy die universiteit sodoende wou dwing om te verengels. Sy strategie het uitmuntend geslaag, want vandag sit hoofsaaklik swart studente wat deur medium van Engels studeer in die voormalige HF Verwoerd-biblioteek, omring deur duisende Afrikaanse boeke, verhandelings en proefskrifte wat die RAU destyds in Afrikaans geproduseer het. Kosbare boeke in Europese tale soos Duits en Frans wat destyds deur studente en navorsers gebruik is, staan ook in onbruik op die rakke, aangesien die verlies aan Afrikaans ook toegang tot Duits en Nederlands aan studente ontsê. In die regsafdeling van die biblioteek word die jurisprudensie van Nederland, Duitsland en Frankryk steeds bygehou.

‘n Faktor wat Asmal se verengelsingstrategie teenoor die RAU gebaat het, was dié van “wit vlug”. Soos in die VSA waar blankes instellings verlaat sodra daar ‘n meerderheid swartes teenwoordig is, het die Universiteit van Johannesburg ook vinnig sy oorblywende blanke studente verloor toe die universiteit oorwegend swart geword het.

Studente in Johannesburg met wie praag gepraat het, beaam dat die oorwegend swart bevolking op die kampus hulle ongemaklik maak. “Jy voel soos ‘n marsman daar, mens sal nooit kan vriende maak nie,” sê ‘n jong man wat self weekliks heen en weer Potchefstroom toe pendel waar hy in die koshuis tuisgaan.”

Die Universiteit van Johannesburg doen moeite om by die Afrikaanse hoërskole in Johannesburg en aan die Rand te bemark en aantreklike beurse word veral aan toppresteerders aangebied. Matriekleerlinge met ‘n 80-persent-gemiddeld kan byvoorbeeld gratis aan die UJ studeer. Desnieteenstaande keer jong Afrikaners hul rug op die universiteit en verkies om Potchefstroom of Pretoria toe te gaan. Sommige pendel ook daagliks heen en weer Pretoria toe met die Gautrein.

Van die studente wat wel hul eerste studiejaar aan die UJ aanpak, verkies om agterna Pretoria of elders heen te gaan omdat hulle op die kampus van dié eens trots Afrikaanse universiteit vervreem voel.

Intussen woed daar ‘n debat oor die Potchefstroom-kampus wat moontlik deur die nuwe swart rektor, prog. Dan Kgwadi, gedwing gaan word om ook soos die UJ swart en Engels te word. Volgens berigte elders in die media, het hy gesê:

“Om een kultuurgroep soos Afrikaans op ’n universiteit te bewaar en dit so te wil behou, is gevaarlik vir ons land se toekoms,

“Wanneer ons van ’n institusionele kultuur praat, dink hulle dat ons in ’n institusionele kultuur ’n besonderse ras-kultuur moet bewaar en ek kan nie daarmee saamstem nie.”

“Die Mafikeng-kampus kan tog nie die Tswana-kultuur bewaar nie, net soos die Potchefstroom-kampus nie die Afrikaanse kultuur kan bewaar nie.

“Ek wil dít prioritiseer, nie ’n raskultuur nie.”

‘n Voormalige NP-minister, dr. Leon Wessels, het in Beeld afwysend oor die behoud van Afrikaans aan universiteite geskryf, wat wye reaksie, ook hier op praag, ontlok het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.