Kasrils: Vrae oor wapenomkoopgeld bly talm

Deel op
Ronnie Kasrils
Ronnie Kasrils

Die voormalige minister van Intelligensie, Ronnie Kasrils, het bewerings van korrupsie en onreëlmatighede tydens die multimiljard rand se wapentransaksie ontken.

Kasrils het vroeër sy getuienis en kruisondervraging by die Kommissie van Ondersoek na die Wapentransaksie in Pretoria afgesluit.

Bewerings dat Kasrils groot bedrae omkoopgeld van internasionale wapenverskaffers ontvang het, bly egter talm.

Veral die Duitse firma Thyssenkrupp, die konsortium wat die tender om die Suid-Afrikaanse vloot van korvette te voorsien ontvang het, is uitgesonder.

Een aspek het gefokus op Thyssen se uitvoerende hoof Ulrich Scheels se dagboek. Daarin word Kasrils as die enigste skakel na sy baas, die voormalige minister van verdediging, Joe Modise aangeteken.

Een besondere inskrywing lui dat $3 miljoen te min vir Modise en die voormalige aankoophoof Chippy Shaik sou wees. Ongelukkig word daar egter nie gespesifiseer waarvoor die betaling sou gewees het nie.

‘n Brief is in September 1997 onderteken wat 11 lande versoek het om Suid-Afrika in terme van die land se strategiese verdedigingsbehoeftes van inligting te voorsien.

Kasrils het sy volle ondersteuning aan die stap gegee omdat hy glo “heeltemal vir president Mandela vertrou het”.

‘n Bedrag van R26 miljard is vir die hele wapenpakket genoem. Kasrils het gesê hy was teenwoordig by ‘n vergadering waar Joe Modise gesê het die land moet nie weet dat daar so ‘n bedrag genoem is nie.

“Ons wou nie hê die wêreld moet weet dat ons probleme kan ondervind om die fondse in die hande te kry nie,” het Kasrils gesê. Maar na 17 jaar het die syfer blykbaar verdubbel.

By verskeie geleenthede tydens Kasrils se getuienis, moes regter Willie Seriti aan advokaat Simmy Lebala vra om by die kern van sy ondersoek te bly.

“Ek het gedink die adjunk-minister ‘n sekere rol gespeel op ‘n bepaalde vlak. Nou is die advokaat besig met briewe oor [versoeke vir inligting] en [versoeke vir aanbiedinge]. Ek is nie heeltemal seker watter punt Lebala probeer maak nie” het Seriti by een geleentheid opgemerk.

Die advokaat se onvoorbereidheid het kennelik tot Kasrils se voordeel gestrek.

Kasrils wat tydens die omstrede aankope as adjunkminister van verdediging gedien het, het vroeër bewerings verwerp dat hy omkoopgeld ontvang het.

Tydens sy kruisondervraging deur die Departement van Verdediging se regsverteenwoordiger, Jenny Cane, het hy gesê hy is spyt oor niks nie.

Kasrils, wat ook ‘n buitelandse paspoort besit, het vroeër gesê dat hy dr. Wouter Basson ondersteun het en weer aangestel het omdat hy nie die bose apartheid-weermag vertrou het nie.

Kasrils het dit glo gedoen weens Suid-Afrika se verbintenis tot die Kernsperverdrag. Hy was self ten nouste gemoeid met die voorsetting van die biologiese wapenprogram na 1994.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.