Ons geslag beleef ‘n belangrike hoofstuk in Afrikanergeskiedenis

Deel op
Die sangeres Nádine
Die Afrikaanse sangeres Nádine

deur BJ Engelbrecht

Ek dink al twee weke hoe om hierdie brief te skryf sonder om negatief te wees oor die Afrikaner se toekoms is Suid-Afrika. As mens om jou kyk sien jy net negatiewe tekens vir ons, ons sien korrupsie en ons teenstanders sien konneksie. Die skeuring tussen reg en geregtigheid en straf raak net al hoe groter. As jy op die regte plekke het, hoef jy nie verantwoordelikheid te aanvaar vir jou dade nie. Die snaakse ding in Suid-Afrika is dat dit ‘n demokrasie genoem word, maar dit beteken nie omdat dit so genoem word dat dit wel een is nie.

Die Afrikaner ry golwe van oplewing en sit en wag….wag vir wat? Ek ervaar dit self; dit voel partykeer of ek teen die mure kan uitklim van frustrasie en vra ek 5 minute om gehoor te word, dan kry ek nie eers ‘n antwoord terug nie, want ek is nie belangrik genoeg in die belangrike mense se oë nie, ek pas nie in by hulle belangrike plan nie. Ander kere voel dit of my hart uit my bors gaan klim van trots as ek hoor hoe boere mekaar help en hoe mense om ‘n gemeenskap soos Rustenburg laertrek. Ek glo nie en hoop nie ek ly aan grootheidswaan nie, want ek glo daar is honderde duisende mense wat net soos ek voel, wat stom en verslae rondkyk vir antwoorde en gehoor wil word en dan net groot woorde lees op sosiale netwerke en koerante oor wat hierdie en daardie ou in die vorige eeu gesê het en hoe dit betrekking het op Suid-Afrika vandag. Dit is irrelevant in ‘n tyd waar mens nóú antwoorde, gemoedsrus en motivering soek.

Jy as Afrikanerleier, hetsy politiek, vermaak- of ander vorm kan nie die gewone Afrikaner beïndruk met groot woorde nie. Die enigste ouens wat jou antwoord op jou stellings in die media is die 2% wat ook vyf grade agter hulle name het en in die kringe beweeg waarin jy beweeg. Die ander 98% van ons verloor jy in die eerste twee sinne. Ons leiers moet leer om met die Afrikaner se hart te praat, en ‘n standpunt in te neem en daarby te hou. Dalk het die Afrikaner ‘n nuwe leier nodig uit die werkersklas, iemand wat die taal van die gewone ou op straat kan praat. ‘n Man met ‘n stem wat mense se koppe laat draai. Ná die verkiesing het ek nog nie weer een sms gekry van enige politieke party oor die groot dinge waarmee hulle nou besig is nie, alles doodstil. Moet die aanloop na die volgende verkiesing nie dalk ‘n 5-jaarplan in plaas van ‘n 5-weekplan wees nie?

Sunette se Klein Vallei-projek trap klei, want sodra iemand geld ruik, raak die grond daarvoor ewe skielik onbekostigbaar duur. Sy skryf daagliks op Facebook soos wat plaasmoorde gebeur en dit laat my wonder wat word van daardie plase ná so ‘n boer vermoor is? Koop iemand in die kontrei die plaas, koop een van ons teenstanders die plaas of trek die familielede wat oor is dorp toe en ‘n ekonomiese eenheid wat bygedra het tot voedselsekerheid word onproduktief? Hoekom kan ons nie om ‘n tafel sit met die familie wat agtergebly het en ‘n huurooreenkoms aangaan dat 33% van die oesinkomste aan die familie gaan, 33% aan ‘n gevestigde boer in die omgewing wat help om die boerdery te bestuur en 33% aan ‘n paar Afrikaner gesinne wat op die plaas gevestig word en op ‘n kibboetsstelsel op die plaas werk met ‘n oesbonus elke jaar? Ek weet dis baie eenvoudig gestel maar daar moet ‘n manier wees om hierdie ontvolking te keer. “‘n Boer maak ‘n plan” is ‘n Afrikanergesegde vandat ek my verstand gekry het. Dit raak nou tyd dat ons begin planne maak, nie lugkastele nie maar planne wat kan werk. Ons benodig suksesvolle planne en ons eie propagandamasjien om weer ons mense te laat opkyk en hul borse uit te stoot. Elke keer wat ons val, raak die donker gat al hoe dieper tot ons nie meer die lig sal kan sien nie.

As mens kyk na TV-advertensies word ons Afrikaners 99% van die tyd uitgebeeld as onnosel. Ons is nie onnosel nie maar dit word elke dag in ons gesigte geprop. Hoekom is dit nie meer gewild vir jongmense om Afrikaners te wees nie? Want ons word as onnosel uitgebeeld. Hierdie is ‘n doelbewuste aanslag teen elke Afrikaner. Ons het nodig om ons eie mense op te rig en op te bou.

Ek het nie die antwoorde nie, maar wat ek wel weet, is dat ons sit en wag vir een of ander wonderwerk om te gebeur sodat alles net weer sal regkom. Ek glo die ongesiene, ongeskrewe beleid is om hierdie land in die grond in te ry todat almal ewe min het en ‘n paar fat cats alles besit, dan kan dit baie makliker as ‘n kommunistiese staat bedryf word, want dan is almal van die staat afhanklik.

Ons wag vir Siener van Rensburg se ou met die bruin klere om van Lichtenburg af te kom. Ons wag vir iemand om vir ons ‘n stuk grond te gee sodat ons ons eie ding kan doen, en ons wag, en ons wag, en ons wag. Daar is binne elk van ons ‘n ou met ‘n bruin safaripak aan, daar is binne elk van ons ‘n hart van ‘n leeu, daar is binne elk van ons die bloed van geslagte van deursettingsvermoë en oorlewing. Hou aan trots wees op jou Afrikanerskap, as jy val staan weer op, jy is dit verskuldig aan jou voorgeslagte en jou nageslagte. Jy is deel van die belangrikste generasie en tyd in die Afrikanergeskiedenis. Elk van ons is ‘n fakkeldraer vir die voortbestaan van ‘n volk of die verdwyning daarvan en net jy weet of jou fakkel  brand en of hy geblus is.

Sterkstaan!

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.