Mynskagte gaan sluit na taakspan ontbind

Deel op
Ramathlodi
Ramathlodi

Die regering se taakspan het onttrek uit kortstondige gesprekke om die platinumstaking by te lê, het mynmaatskappye aangekondig.

Die regering se taakspan het Maandag ontbind ondanks pleidooie dat hulle nie die handdoek moet ingooi nie.

Amplats, Implats en Lonmin sal Dinsdag aankondigings oor skagsluitings en verwerkingsaanlegte doen.

Dit volg nadat Ngoake Ramatlhodi, minister van minerale bronne, bekend gemaak het dat hy sy taakspan ontbind.

Ramatlhodi en die taakspan het Maandag die hele dag met Amcu en die drie mynmaatskappye vergader. Die besluit om die taakspan te ontbind en aan die proses te onttrek, is egter vroeg geneem sodat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie, die bemiddeling glo kan voortsit.

Die president van Amcu, Joseph Mathunjwa, bly steeds heftig gekant teen ’n vrywillige arbitrasieproses.

Amcu se eise en die aanbod vir loonverhogings is glo “heeltemal te hoog om arbitrasie te oorweeg”, het bronne binne die onderhandelingsproses gesê.

Dit wil voorkom asof beide onderhandelingspartye nie besonder gretig is om die geskil by te lê nie.

Die buitelandse NRO, Alternative Information and Development Centre (AIDC), het homself tesame met die EFF in die onderhandelinge namens Amcu ingewurm.

“Platinumprodusente neem kennis dat die gesprekke wat deur die minister van minerale bronne gefasiliteer is ongelukkig ontbind is sonder ‘n uitkoms,” het hulle in ‘n gesamentlike verklaring gesê. “Terwyl die produsente verbind bly tot ‘n onderhandelde skikking, sal hulle nou verdere opsies tot hulle beskikking oorweeg.”

Mynmaatskappye sal ook na verwagting Dinsdagoggend aankondigings maak oor die moontlike sluiting van skagte.

Lede van Amcu staak sedert 23 Januarie en dring aan op ‘n basiese maandelikse salaris van R12 500.

Mynmaatskappye het reeds meer as R21,7 miljard in inkomste verloor terwyl werknemers meer as R9,6 miljard in inkomste verloor het weens die staking.

Minister Ngoako Ramatlhodi het kort na sy inhuldiging die taakspan op die been gebring in ‘n poging om die vier maande lange staking tot ‘n einde te bring.

Ramatlhodi sal Dinsdagoggend ‘n mediakonferensie hou oor die regering-taakspan se onttrekking uit die platinumdispuut.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.