Soros sit agter mynstaking in Rustenburg

Deel op

 

Lloyd Gedye
Lloyd Gedye

Die maande lange staking in die platinumbedryf in Noordwes word deur betaalde agente van die miljardêrfilantroop George Soros se Open Society aangehits.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, het by Luthuli-huis in Johannesburg na afloop van die bosberaad deur die Nasionale Uitvoerende Komitee, gesê die onrus word van buite die land aangemoedig.

Mantashe sê nie alleen die Ekonomiese Vryheidsvegters nie, maar ook wit buitelandse elemente is ten nouste by die staking betrokke.

Ene Lloyd Gedye, ‘n wit sake- en musiekjoernalis van die Mail&Guardian, is klaarblyklik deurdrenk van suiwer rewolusionêre ywer teen die “kapitalistiese mynbase”. Gedye is ‘n betaalde werknmener van OSISA, The Open Society Initiative of Southern Africa.

Dieselfde organisasie is betrokke by die betaalde opstande en aanhitsing van geweld in die Oekraïne waar vyandelikhede die land na ‘n burgeroorlog dwing.

Gedye se ywer word byna woordeliks deur Amcu se president Joseph Mathunjwa herhaal, wat die gerugte dat Gedye Mathunjwa se toesprake skryf, verder rugsteun.

Nadat Mathunjwa sowat 5 000 stakende mynwerkers by die Wonderkop-stadion toegespreek het, het hy hulle vertel die ANC is aan die kant van kapitaal en nie van die werkers nie.

Volgens Gedye verdien myners in Brasilië R25 000 per maand en in Australië R80 000.

Gedye het ook Anglo American Platinum se uitvoerende hoof Chris Griffiths se vergoeding onlangs ontbloot. In reaksie op die feit dat hy R17,6 miljoen verlede jaar betaal is, het Griffiths gesê hy “word betaal wat hy werd is”.

Gedye se marxistiese kritiek op Griffiths se salaris, het die mynbaas sedertdien gedwing om om verskoning te vra ná openbare kritiek oor sy ongeërgde kommentaar. Kennelik was Griffiths nie bewus dat hy ‘n slagoffer van die Open Society se “klassestryd” sal word nie, aangesien die miljardêr George Soros veel meer as Griffiths verdien.

Die joernalis het sy gifpen ingespan om slagoffers van die Marikana-slagting aan te moedig om te onttrek uit die Farlam-kommissie as Cyril Ramaphosa, ‘n nie-uitvoerende direkteur op Lonmin se direksie, nie getuig oor sy beweerde rol in die slagting nie.

Gedye beskuldig die ANC-regering daarvan dat hulle “die Farlam-kommissie ondermyn, sy vermoë om getuies te roep belemmer en die SAPD se rol in die slagting probeer toesmeer”.

Daarvoor het die wit Gedye oudergewoonte die swart postkoloniale teoretikus Frantz Fanon se waarskuwing ingespan dat die “inheemse elite” aandadig kan raak in die “uitbuiting van hul medeburgers in die postkoloniale projek”.

Net soos Beeld-lesers vreemd genoeg, gereeld moet verneem wat in Indië – nie Suid-Afrika nie – aangaan wat verkragting betref, haal Gedye die Indiese marxistiese teoretikus Aijaz Ahmad aan: “Fanon se haat teenoor die koloniseerder stem ten volle ooreen met sy minagting vir die uitbuitende inheemse elite.”

Uit hierdie “teoretiese grondslag” maak Mathunjwa rewolusionêre stellings soos die volgende: “Van 1652 tot op datum het die betalingstruktuur in mynbou nog nie verander nie. Dit is deur die kolonialiste ontwerp.”

Die minister van minerale hulpbronne, Ngoako Ramatlhodi, het intussen aangekondig dat die regeringstaakspan wat hy aangestel het, sy betrokkenheid by die onderhandelinge gaan staak indien daar nie *vandag ‘n ooreenkoms bereik word nie”.

Ramathlodi sal Maandag vir die laaste keer samesprekings met Amcu en die mynmaatskappye Implats, Amplats en Lonmin voer in ‘n poging om die voortslepende staking te probeer beëindig.

Hy het die naweek gesê onderhandelings kan nie onbepaald voortgaan nie en dat hy hoop die partye vandag ‘n ooreenkoms kan bereik.

Die Ekonomiese Vryheidsvegters sê die party maak nie verskoning vir sy steun vir mynwerkers se eis van ‘n basiese salaris van R12.500 nie.

Die EFF het gereageer op die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, se uitspraak dat hy twyfel of die voortslepende staking in die platinumbedryf oor kollektiewe bedinging handel en of dit eerder polities gemotiveerd is.

Die woordvoerder van die EFF, Mbuyiseni Ndlozi, sê die ANC probeer die skuld vir sy onvermoë om die staking te beëindig, na ander verplaas.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.