Leon Wessels dien, soos vele voor hom, die Britse Ryk

Deel op

danr2deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Leon Wessels se ongevraagde aanval op Afrikaans in Beeld waarin hy diegene wat op ons grondwetlike en internasionale taalregte aandring van “‘n buffelagtige gestamp en stoot” beskuldig, moet beantwoord word.

In die eerste plaas behoort Wessels te let op die anglisismes wat hy so lustig rondstrooi; dit skep die indruk dat hy reeds in Engels dink en Afrikaans vir hom bloot ‘n tweedehandse medium verteenwoordig.

Afrikaans het sedert 1910 (toe nog as “Nederlands”) gelyke status met Engels geniet. Wessels en sy mede-onderhandelaars van die Nasionale Party is daarvoor verantwoordelik dat Afrikaans tans in ‘n volslae ondergeskikte posisie teenoor Engels verkeer. Dit druis teen die internasionale reg, asook ons gevestigde regte in.

Nie net word ons gedwing om verengelsing op alle gebiede te aanvaar nie, maar ons skole en universiteite word deur kwaadwillige propaganda afgetakel sodat die laaste oorblywende Afrikaanse instellings insgelyks verengels mag word. Sodoende word ons voortreflike Afrikaanse onderwysers en dosente ingespan om die vuilwerk van die Britse Ryk te verrig. Hulle moet ander taalgroepe in die land op Engels onderrig en met polities korrekte Anglo-Amerikaanse idees indoktrineer.

Pleks dat ons belastings gebruik word om Afrikaans te bevorder, word sodanige fondse aangewend om Engels – ‘n taal wat buite Kwazulu-Natal oor weinig moedertaalsprekers in ons land beskik – te subsidieer!

Waarom stuur Brittanje nie liewer self onderwysers en dosente na Suid-Afrika om haar kultuur hier op eie koste te kom bevorder nie? Of is sy te besig om saam met die VSA koloniale oorloë in die Midde-Ooste en elders te voer?

Wessels is korrek as hy sê dat ons geskiedenis wemel van Afrikaners wat bereid was om hul rug op hul eie mense te keer en die Britse saak in ons land te dien. Dis egter geen simptoom van ons verdeeldheid nie, maar van ons oorheersing deur Europese koloniale moondhede soos die Verenigde Koninkryk of Swede wat strydig met internasionale konvensies terreur in ons land bevorder en befonds het.

Alan Paton se verhaaltjie oor hoe hy kastig 1938 by die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument opgedaag het, is nie baie geloofwaardig nie, want hy het sy lewe daaraan gewy om karikature van Afrikaners die wêreld in te stuur.

In 1877 het almal die Britse anneksasie van die Transvaal deur Shepstone aanvaar. Net een man het hom daarteen verset: Paul Kruger.

Tans is ons nogmaals kultureel en andersins “geannekseer”. Maar solank as wat daar ware Afrikaners met Afrikaanse harte is, sal ons dit à la Kruger nooit aanvaar nie.

Hierdie rubriek is ook as brief aan Beeld gerig, maar nie geplaas nie. Sonder praag sal daar geen meningsdiversiteit in Afrikaans wees nie! Ondersteun ons deur aan te sluit.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.