Johnny de Lange se lugspieëlings oor ‘n nuwe regstelsel

ImageDie nuus wat gister in die Rapport uitgebasuin is dat die regering die stryd teen misdaad verloor het, is na my mening nie nuus nie. Ek dink dat die grootste deel van die land se bevolking reeds geweet het dat die stryd verlore was. Dit was slegs ʼn paar mense in die regering wat dit nog moes uitvind en erken voordat dit as ʼn “amptelike” feit kon bekendstaan.

Van die statistieke wat die adjunkminister van Justisie, Johnny de Lange, aangehaal het, was insiggewend hoewel mens kan wonder oor die akkuraatheid daarvan, gegewe die getransformeerde statistiekdiens en al die foute wat dié diens reeds begaan het. Wat ook al die situasie is, die syfers bly skokkend.

As mens in ag neem dat 2 miljoen misdade aangemeld word (volgens die berig in Rapport), kan dit soos volg ontleed word: Die daaglike syfer is 5 479 misdade per dag, uurliks gebeur daar 225 misdade en per minuut is dit 3,8 misdade. Dit kom neer op ʼn misdaad wat gepleeg word elke 15.8 sekondes.

Dit is skrikwekkend, om die minste te sê. En dan is ons nie eers seker oor hoe akkuraat die syfers is nie, want ons weet dat nie alle misdade aangemeld word nie. Heel waarskynlik lyk die prentjie nog slegter as die amptelike. Die verdere syfers wat die getal sake betref wat uit die hof gegooi word, asook die gebrek aan opgeleide polisiemanne en spesialiste, gaan ek nie eers noem nie; dit is op Rapport beskikbaar as iemand dit wil gaan lees.

Wat wel verder interessant is, is die voorlegging van die wonderlike plan waarmee De Lange die mense vir twee ure lank aan sy lippe laat hang het. Maar as mens die plan beskou, is dit ook maar vol foute en swak plekke, en laat dit mens wonder wat die ANC-regering oor die afgelope 14 jaar aangevang het. Mens wonder ook verder wat geword het van ʼn voorheen werkende stelsel wat nou skielik uitmekaar geval het, wat kan die redes daarvoor wees? Wat verder opgeval het, is dat die sluiting van die Skerpioene tydens sy twee-uurlange perskonferensie nie oor die man se lippe gekom het nie.

Die sewepunt plan van Johnny de Lange (die staat) wat in die koerant genoem is, word hieronder uiteengesit:

Die eerste punt, naamlik ʼn eenvormige beleid vir departemente wat Polisie, Justisie, NV (nasionale vervolgingsgesag) en korrektiewe dienste insluit, is absoluut lagwekkend. Wat was dit in die verlede, ʼn ander beleid vir elkeen met die doel dat korrektiewe dienste mense moet laat ontsnap om sodoende vir die ander weer ekstra werk te gee? Moes die polisie foute maak sodat die sake uit howe gegooi word? Watter soort belaglikheid is dit? Die doel van wetstoepassing is tog om misdaad hok te slaan, en as almal nie met dieselfde doel voor oë werk nie sal dit nie slaag nie. Dit was immers die stelsel wat in die verlede goeie resultate gelewer het. Almal het saam gewerk met dieselfde doelwit voor oë.

Rondom punt twee. Die daarstel van nuwe bestuurstrukture gaan nie vir ʼn oomblik slaag as die poste nie deur bevoegde mense gevul word nie. Al dra ʼn aap ʼn goue ring… Indien dieselfde onbevoegde mense wat tans in die poste verkeer in die nuwe strukture aangestel word, sal dit geen duit verskil maak in die land se vermoë om misdaad te stuit nie. Indien daar wel nuwe mense aangestel word, mense wat oor kennis, ervaring en kundigheid beskik om die strukture wel na behore te bestuur, staan dit dalk ʼn kans om te slaag, maar om net onbevoegde mense rond te skuif in die hoop dat hulle vaardighede verbeter het, is om geld in die water te gooi.

Om die hoeveelheid speurders te verdubbel, soos volgens die derde punt gestel word, gaan nie help as die speurders van swak gehalte is nie. Wat wel nodig is, speurders met die vermoë om analities te kan dink en ek is bevrees dat dit sit nie altyd in die broek van ons swart landgenote wat bloot op rassegronde aangestel word nie. Die vermoë om ʼn saak te kan uitredeneer en logiese denke toe te pas, asook korrekte afleidings te kan maak, is van kardinale belang om die rol van ʼn effektiewe speurder te kan vervul. Dat daar wel goeie swart speurders kan wees, en dalk reeds bestaan, kan ek nie betwyfel nie, maar die nuwe plan lyk na ʼn resep wat mislukking in dié geval sal verseker.

Die vierde punt in die plan behels die verhoging van salarisse om die ervare en bekwame speurders, staatsaanklaers en ander hofamptenare te behou. Mens kan net wonder watter kriteria toegepas gaan word om uit te werk watter mens het die nodige ervaring, kennis en bekwaamheid, en watter het nie. Want alles dui daarop dat een van die faktore wel velkleur gaan wees, aangesien regstellende aksie een van die onvermydelike dogmas van Suid-Afrika geword het, ongeag of dit werk of nie. Dan gaan dié deel van die plan ook gewaarborg wees om te misluk. Indien hulle beoog om mense te lok met beter pakkette soos wat beweer word in die berig, sal hulle seker weer die kleurtoets toepas en sodoende blankes uitsluit daar waar hulle denke of vermoëns dié van swart kandidate oorskry.

Punt nommer vyf is na my mening ook belaglik. Die feit dat dossiere voortaan eers gekeur moet word om seker te maak dat die staat wel ʼn prima-facie saak het, en dat die saak hofgereed is.

Van wanneer af het die staat ʼn saak hof toe geneem voordat dit hofgereed was? Ek dink dié soort aksie het eers in die NSA begin. In die apartheidsjare is daar baie seker gemaak dat die saak wel gronde het en sover moontlik is daar vasgestel dat dit in die hof sou kon staan, tensy die verdediging êrens met ʼn skuif vorendag gekom het wat die aanklaers glad nie verwag het nie, waarna daar verder beplan is om dalk die onverwagte skuif van die verdediging teen te werk.

Die aanstelling van senior speurders wat in howe moet werk, klink soos nog een van die staat se werkskeppingskemas. In die verlede moes die speurder wat met ʼn saak gewerk het self seker maak dat hy elke moontlike ding doen om seker te maak dat alles so naby aan perfek as moontlik was. Die feit dat die senior speurders die saak moet afteken in die hof dui daarop dat daar opsetlik swak plekke in die stelsel ingebou is. Die speurder se doel sal dan seker wees om vir die arme pateet te vertel hoe hy of sy dan eers moet teruggaan en die ding regmaak voordat die saak in die hof aangehoor kan word.

Verder moet die speurder bygestaan word deur iemand met regskennis wat kan help om leiding te gee en ondersoekwerk te verbeter. Wat sal die persoon se regkwalifikasies moet wees?

Wat wil die staat nou eintlik hê, regters en landdroste wat self elke saak ondersoek, aankla en verhoor? Dalk is dit nie ʼn slegte idee nie, want hulle sal hopelik weet wat om te doen sonder om die saak se getuienis en ander faktore te laat uitmekaar val as dit voor die hof verskyn.

Weereens dui dit op werkskepping en duplisering van pligte, iets wat die land nie kan bekostig nie. En wie gaan die werk doen, die speurders op grondvlak, die speurder wat in die hof sit en die voetsoolvlakmannetjie moet vertel hoe om die werk te doen, die adviseur? Die vrae is in dié geval legio.

Op punt nommer ses is daar wel items wat kan bydra om die sisteem so bietjie meer vaartbelyn te maak en risiko’s vir die staat te verminder, hoewel dit met uiterste omsigtigheid benader sal moet word.

Die feit dat wetgewing beoog word om die staat toe te laat om met ʼn saak voort te gaan sonder dat die beskuldigde in die hof is, leen hom daartoe dat die sisteem wel misbruik kan word. Daar is wel omstandighede waarin dit kan gebeur, maar as omstandighede buite ʼn persoon se beheer maak dat hy nie betyds in die hof is nie, of dalk glad nie daar uitkom nie, moet sulke omstandighede in ag geneem word.

Die daarstelling van skulderkenningsboetes om sake wat minder ernstig is uit die howe te hou, is dalk nie ʼn slegte idee nie – maar nou die vraag – wie gaan bepaal wat is ernstig en wat nie? Die voorbeeld wat wel in die koerant genoem is, is algemene aanranding. Mens kan hier vra, wat is algemeen en wat nie, wanneer word dit ernstig?

Gaan daar regters in elke polisiestasie sit wat kyk na die saak se meriete en daarop moet oordeel of dit die moeite werd is om ʼn hof se tyd daarmee te mors en of dit net ʼn boete werd is. Dis dalk nie so ʼn maklike antwoord nie.

Die daarstel van videoskakels tussen tronke en howe is dalk een van die beter idees waarmee daar vorendag gekom is. Dit maak dat geen gevangene verskonings het om nie daar waar hy moet wees te verskyn nie. Die tegnologie is lank reeds beskikbaar en dit sal net ʼn klein bietjie arbeid en geld kos om sulke sisteme in werking te stel. Dit het die verdere voordeel dat vervoer van gevangenes uitgeskakel word, asook die risiko van gevangenes wat ontsnap. Verder verminder dit kostes t.o.v. gevangenes wat eise teen die staat instel omdat die risiko om in ongelukke te beland nie meer daar is nie.

Op punt nommer sewe wil ek wel vra: is daar nie reeds databasisse wat bruikbare inligting bevat nie? Is daar nie reeds statistieke wat beskikbaar is en wat gebruik kan word om neigings in misdaad te kan aantoon nie? Die feit dat die sisteem nou verander moet word om nasionaal te wees, dui daarop dat die huidige mense wat dit bedryf nie saamwerk nie; dit mag die grondliggende probleem wees, nie die feit dat die stelsel tans nie ʼn nasionale etiket het nie.

Die antwoord hier is eerder om meer en kleiner stelsels te skep, of die oues te verbeter, waarin elkeen sy eie rugsteunstelsels en sekuriteitstelsels het om teen kubermisdaad te waak.

Verder sal dit van meer waarde wees as die onderskeie afdelings van die strafregstelsel leer om eerder saam te werk as om een groot, duur en kwesbare sisteem op die been te bring.

Iets wat alte duidelik geword het in die verlede is dat groot sisteme meer vatbaar is vir kubermisdadigers, en as die regering nie kan leer uit die foute van die verlede nie sê dit nie veel van hulle intelligensie nie. So ʼn groot stelsel as wat deur die dagdromers in die geestesoog gesien word, is lomp en vol swak plekke. Die een gevaar wat absoluut rampspoedig kan wees, is dat krakers op die een sisteem kan inbreek en so die affêre met een felle slag kan vernietig. Die gevolg sou chaos wees.  Mens kan net dink watter tipe belonings die sindikate sal aanbied vir iemand wat so iets kan doen.

Volgens mnr. De Lange sal die sisteem met die nuwe sewepuntplan later in wetgewing vervat word as dit wel sou toon dat dit werk. Volgens hom gaan dit “oorsig” verbeter en aanspreeklikheid verseker. My vraag is hoe?

Hoe gaan dit aanspreeklikheid verseker as ons steeds met mense sit wat nie weet hoe om verantwoordelik te wees nie?

En watter vorm gaan die aanspreeklikheid aanneem? Gaan mense wat aan diens was as iemand byvoorbeeld ontsnap self vervolg word tot op die punt waar hulle swaar strawwe opgelê sal word?

Sal beamptes wat diefstal pleeg soos wat in vandag se Beeld berig word, aangekla en vervolg word? Ek kan dit nie glo nie, nie met die geweldige groot persentasies van die manne in blou wat reeds self met misdaadrekords sit nie.

Wel, ons sal maar seker moet wag en sien of die uiters optimistiese plan enigsins vrugte sal dra, want soos dit is, bly papier baie geduldig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.