VSA wil Franse bank met $10 miljard beboet

Deel op

bnp-paribas-logoFrankryk se beleërde Sosialistiese regering veg tevergeefs teen die Verenigde State se voorneme om die grootste Franse bank, BNP Paribas, met $10 miljard (meer as R100 miljard) te beboet omdat die bank Amerikaanse sanksiewetgewing teen Iran sou oortree het.

Daar is ook sprake daarvan dat BNP verbied gaan word om Amerikaanse dollars via die Federale Reserwestelsel aan sy kliënte te lewer, iets wat vir die bank ‘n verdere terugslag sou beteken. Indien die boete sou voortgaan, sou dit feitlik BNP se jaarlikse wins van €8,2 miljard ($11 miljard) uitwis. Die Franse regering vrees ook dat sy belastinginkomste, asook die spaargeld van BNP se deposante, deur die Amerikaanse boete geraak kan word.

Die regse opposisieparty in Frankryk, die Front National, het die boete as “Amerikaanse struikrowery” beskryf en in ‘n verklaring gesê:

“Gegewe die grootte van die betrokke bedrae ($10 miljard), betrek die geskil tussen die Amerikaanse regering en BNP Paribas die Franse staat regstreeks.

“Trouens, die regering is verplig en daarvoor verantwoordelik dat die belange van miljoene Franse deposante beskerm word.

“Hy moet ook toesien dat Franse belange nie opsy geskuif word onder valse voorwendsels met as enigste doel om die Amerikaanse belang te laat seëvier nie, soos ons reeds in Iran gesien het toe PSA (Peugeot-Citroën) gedwing is om die land te verlaat, net om enkele maande later deur Amerikaanse mededingers vervang te word nie…

“Indien die Franse staat so diskreet oor dié saak optree, is dit omdat hy nie meer oor die nodige invloed beskik om met Washington te kan onderhandel nie, weens sy stelselmatige onderwerping, onder presidente Sarkozy en Hollande, aan Amerikaanse wense en die buitelandse beleid van daardie land.

“In die BNP Paribas-aangeleentheid loop ons gevaar om baie duur te betaal vir ons leiers se aflegging van ‘n onafhanklike buitelandse beleid ten gunste van die mees kranksinnige Atlantisme.”

Intussen het die Frankryk se Sosialistiese minister van buitelandse sake, Laurent Fabius, gewaarsku dat die geskil dalk die huidige onderhandelings oor ‘n Transatlantiese handelsooreenkoms kan laat skipbreuk ly. Sy waarskuwing geskied twee dae voor president Francois Holland vir Barack Obama gaan ontvang vir samesprekings oor ander sake wat spanning tussen die twee lande veroorsaak, soos General Electric se gepoogde oorname van die Franse ingenieursgroep Alstom, asook verskille oor Sirië en sanksies teen Rusland.

Tot dusver het Hollande se senior ministers dit vermy om oor BNP se onderhandelings met die Amerikaanse owerheid te praat. Die VSA is besig met ‘n ondersoek na die bank se beweerde verbreking van Amerikaanse sanksies teen die Soedan, Iran en Sirië tussen 2002 en 2009.

Volgens Fabius sal dit die verkeerde boodskap uitstuur indien BNP se sakebedrywigheid beskadig word. “As daar ‘n fout of oortreding was, is dit aanvaarbaar dat daar ‘n boete sal wees, maar die boete moet proporsioneel en redelik wees,” het hy aan France 2 TV gesê.

“Hier sou ons ‘n voorbeeld hê van ‘n onregverdige en unilaterale besluit. Dit sou ‘n baie ernstige probleem veroorsaak. Jy kan nie wederkerigheid as die reël beskou, as jy terselfdertyd ‘n besluit soos dié het nie,” het Fabius gesê. “Dis ‘n buitengewoon ernstige kwessie wat die Amerikaners in ‘n gees van vennootskap moet hanteer en nie unilateraal nie.”

Blykbaar het Hollande self sy kommer oor die BNP-saak tydens ‘n telefoonoproep na die Withuis meer as twee weke gelede uitgespreek, volgens ‘n ingeligte bron.

Verlede week het die Franse bankreguleerder, Edouard Fernandez-Bollo, asook Christian Noyer, die goewerneur van die Bank van Frankryk, met aanklaers en reguleerders in New York ontmoet.

Die Amerikaanse owerheid, waaronder die hoofbankreguleerder van New York-staat, die departement van justisie en die distriksprokureur van Manhattan, beweer dat BNP inligting uit bankoordragte verwyder het sodat sodanige oordragte deur die Amerikaanse finansiële stelsel kon gaan sonder om slapende honde wakker te maak.

Volgens ingeligte bronne mag die boete gepaardgaan met potensieel erger strawwe, soos ‘n moontlike tydelike opskorting van die bank se magtiging om VS-dollar-transaksies te lewer. Feitlik al die groot Europese banke beskik oor takke in New York wat hulle toegang tot die dollar-stelsel gee.

Ontleders meen egter dat Hollande se ontmoeting met Obama vanuit ‘n posisie van swakheid sal geskied, gegewe die Sosialis se ongewildheid tuis. In die onlangse Europese verkiesings in Frankryk het die Sosialistiese Party minder as 14 persent stemme ontvang, teenoor die Front National se 25 persent en die liberale UMP se 20 persent.

BNP Paribas het ontstaan uit die samesmelting van die handelsbank Banque Nationale de Paris (BNP) en die aksepbank, Banque de Paris et des Pays-Bas (Paribas). Laasgenoemde naam beteken letterlik “Bank van Parys en Nederland”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.