Die Burger: Anti-Afrikaner, anti-Afrikaans, anti-Boeremusiek

'n Moderne weergawe van die 'Dutch Mark'
Deel op

'n Moderne weergawe van die 'Dutch Mark'Deur Leon Lemmer.

Uit ‘n enkele berig in Die Burger (2 deser, p 6) kan afgelei word dat hierdie koerant deesdae anti-Afrikaner, anti-Afrikaans en anti-Boeremusiek is. Die versugting is klaarblyklik dat ons almal in ‘n groter Suid-Afrikaansheid opgeneem moet word.

Op 30 Mei (p 15) het hierdie koerant ‘n lang artikel gepubliseer waarin gepoog is om aan te toon dat Boeremusiek nie van Boere-oorsprong is nie. “Anders as wat die naam sê, is boeremusiek nie ‘n eksklusiewe maaksel van Afrikaners nie.” Enige strooihalm wat kan help om nie-verloopte Afrikaners te vertrap, word aangegryp.

Daarteenoor is ‘n waarderende artikel oor die Libertaskoor op 31 Mei (p 15) gepubliseer. Dié koor is in 1989 gestig en was glo die eerste veelrassige koor. Die dirigent, Johan de Villiers, sê hy en sy vrou “wou graag ons deel doen om dinge beter te maak.” Die koor sing onder meer die Xhosa-strugglelied, “O God, waarom moet ons so swaar kry?”

Alle nie-verloopte Afrikaners is nie altyd ewe entoesiasties oor Steve Hofmeyr nie. Tog behoort ons almal waardering te hê dat hy die moed van sy oortuiging het om hom openlik vir die Afrikanersaak te beywer. In sy beroepe (bv sanger, skrywer, akteur) is Hofmeyr van openbare steun afhanklik. Desnieteenstaande is hy bereid om daardie minderheidsgroep te ondersteun wat tans die meeste verguis word. Daarvoor moet ons erkentlik en dankbaar wees. Myns insiens onderskei Hofmeyr se opvallende groter geestelike diepte hom van die meeste van sy mede-kunstenaars.

Die Boeremusiekklub het Hofmeyr en Sakkie Kotze vereer. Volgens die berig is hulle nie kultuurleiers nie, maar “kultuurleiers”; dus die soort kultuurleiers waarvan Die Burger hom distansieer. In die berig word dit ook nie gestel dat hierdie twee die Afrikaanse taal en kultuur bevorder nie. Nee, “Die klub sê Hofmeyr en Kotze bevorder die Afrikaanse taal en kultuur al jare lank.” Dan word die klub se verklaring aangehaal, sodat dit duidelik moet wees dat dit nie is wat Die Burger se redaksie dink nie. Daarna word dieselfde laai met Kotze uitgehaal: “Die klub sê hy bevorder die Afrikaanse kultuur.” Les bes word die skrywer van dié berig bloot as “Verslaggewer” aangedui. Blykbaar sou dit skadelik vir sy/haar aansien wees as anonimiteit nie bewaar is nie.

Ten slotte haal ek die volledige koerantberig aan. Dat Die Burger hom van hierdie twee mense distansieer, kan met ‘n stok aangevoel word.

“Steve Hofmeyr as ‘kultuurleier’ vereer

Bloemfontein.- Twee ‘kultuurleiers’ – Steve Hofmeyr, akteur en sanger, en Sakkie Kotze, ‘n vrywillige kultuurwerker – is deur die Boeremusiekklub van Suid-Afrika in Pretoria vereer.

Die klub sê Hofmeyr en Kotze bevorder die Afrikaanse taal en kultuur al jare lank.

‘Hofmeyr is ‘n liefhebber en ondersteuner van boeremusiek. Hy is tans beskermheer van die SA Boeremusiekklub. Hy het ook al ‘n ATKV-toekenning vir sy bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur gekry,’ lui ‘n verklaring van die klub.

Kotze het Afrikaans op laer- en hoërskool aangebied. Die klub sê hy bevorder die Afrikaanse kultuur al van sy skool- en studentedae af, onder meer deur sy betrokkenheid by die Voortrekkers, sy sangleiding op kultuurbyeenkomste, sy deelname aan Afrikaanse volksang en volkspele en sy betrokkenheid by die ATKV. – Verslaggewer”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.