Rassisme en heksery

danr2deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

– ‘n Repliek aan Gerrit Brand

Dit is soms moeilik om reaksie uit my mede-Afrikaanssprekendes te kry, nieteenstaande die kulturele, politieke en toenemend ook ekonomiese krisis waarin hulle hul bevind. Daarom is ek verheug dat Gerrit Brand dit goedgevind het om so breedvoerig op my – kennelik provokatiewe – stuk oor “Sangomas of Newton” te reageer. Soos aanvanklik verlede jaar met die aanvang van die taaldebat, hoop ek dat dit die begin kan wees van ’n besinning oor kultuurverskil in Suid-Afrika, want die ontkenning hiervan is besig om die Suid-Afrikaanse maatskappy helaas in ’n vorm van anargie en ongekende maatskaplike geweld te dompel. Trouens, menige waarnemer het al daarop gewys dat Suid-Afrika een van die gevaarlikste plekke op aarde is, en dat ’n mens se kanse om hier ’n gewelddadige dood te sterf byvoorbeeld groter is as in plekke waar militêre konflik onlangs plaasgevind het, soos in die voormalige Joego-Slawië.

Ek het dit geensins bedoel as ’n studeerkamerobservasie à la Kant wat nooit Königsberg verlaat het, maar dit tog goedgevind het om ’n antropologie te skryf waarin die “negers van Afrika” voorgestel word as uiters primitiewe mense wat so “praatsiek is dat jy hulle met stokke moet slaan om hulle stil te kry nie.” My voorlopige aanmerkings oor ons probleem is juis ontketen deur onlangse empiriese ervarings, soos by die Konferensie oor Rassisme waar dit duidelik was dat daar ’n haas onoorbrugbare kloof tussen kultuurgroepe in Suid-Afrika bestaan, sodat mense gladnie “met mekaar kommunikeer nie”. Veral dr. Pallo Jordan se sterk anti-wit en anti-Westerse uitsprake was vir my ontstellend omdat dit die begin kan wees van ’n soort pogrom teen almal wat nie tot die tradisionele “swart” Afrikagroep behoort nie. Trouens, die moontlikheid van volksmoord op wittes en veral Afrikaners in die afsienbare toekoms in Suid-Afrika is myns insiens nie uitgesluit nie, gesien die sterk antipatie teenoor enigeen wat nie tot die “meerderheid” binne sy rasse- en kultuurbetekenis behoort nie.

Hier moet ek jou ontnugter oor die “Afrika-” in Afrikaner, wat volgens jou aan ons “die kans” moet gee, of ons moet besweer teen verwerping. Ek herinner jou aan die onlangse uitspraak van President Thabo Mbeki, op 11 Augustus tydens die Oliver Tambo lesing, waar hy gesê het dat “die wittes” tot ’n “uitlander-heersersklas” (“foreign ruling class”) behoort. ’n Mens moet ook onthou dat die Jode in die vooroorlogse Duitsland totaal geïntegreer was in terme van taal, kultuur en gewoontes, maar dat ’n baie geringe godsdiensverskil genoeg rede was om hulle die slagoffers van ’n volksmoord te maak. Myns insiens is daar ontstellende ooreenkomste in die “sondebok-status” wat Afrikaners in Suid-Afrika beklee, en dié van die Jode in Nazi-Duitsland wat ook vir die probleme van hiperinflasie, werkloosheid, ens. tydens die Weimar republiek geblameer is.

Jou tipering van my stuk as ’n rassistiese uitbarsting is nie korrek nie. Ek probeer juis wegkom van die rassedebat wat so sterk deur die regering aangedryf word, en wat Cicero se uitroep verdien: illud quam incredibile, quam absurdum! Die ekonomiese, politieke, kulturele en talige dimensies in ons land kan nie alles tot ras of rassisme gereduseer word nie.

Ek poog geensins om die saak van Afrikaans aan ’n anti-swart sentiment te koppel nie. Die gerehabiliteerde pan-Afrikanisme van ons swart elite word egter juis in Engels gevoer, en ’n anti-Afrikaanse houding is deel hiervan. Dit ly geen twyfel dat daar van Afrikaanssprekendes verwag word om hulleself te verengels ten einde deel te word van die “nuwe nasie” nie. Dat hierdie strategie deels ook uitgedink is deur die tradisionele (meesal blanke) aanhangers van die “imperiale gedagte” in Suid-Afrika, spreek vanself. Feit is egter dat Engels die taal is van die Afrika renaissance, hoe paradoksaal en teenstrydig dit ook al mag voorkom, en dat Afrikaans in die weg daarvan staan.

My opmerkings is bloot bedoel as ’n eerste vraagstelling en tereg wil ek nie op dié stadium tot enige gevolgtrekkings kom nie. Die moontlikheid dat daar ’n groot paradigmaverskuiwing in Suid-Afrika aan die gang is, weg van ’n Westers-georiënteerde logika na Afrika denke, is so voor die hand liggend dat dit my verbaas dat Gerrit Brand dit as so omstrede ervaar.

'n Beroemde Franse spotprent met die vaders van postmodernisme: Foucault, Lacan, Lévi-Strauss en Barthes
‘n Beroemde Franse spotprent met die vaders van postmodernisme: Foucault, Lacan, Lévi-Strauss en Barthes

Deels berus my opmerkings natuurlik op ’n skepsis aangaande die kulturele relativisme wat in die Weste begin geld het ná die Tweede Wêreldoorlog. Ons almal is geskool in hierdie tipe denke wat die “gelykheid van kulture” geponeer het, en die postmodernisme as “kritiek van die blanke ideologie” soos Jacques Derrida dit geformuleer het, is natuurlik afgelei daarvan. In die huidige Suid-Afrika egter, word dit by die dag duideliker dat kulturele relativisme, hoewel aantreklik in terme van die tradisionele gelykheidsideaal in die Weste, in die praktyk skrikwekkende afmetings kan aanneem omdat ons oor geen kriteria meer beskik om progressiewe, rasionele wetenskap te verdedig teenoor, by gebrek aan ’n beter term, “primitiewe kennis” nie.

Jou eie repliek, Gerrit, is ’n sprekende voorbeeld hiervan as jy die teorie van elementêre partikels wat na twee-en-’n-halfduisend jaar se wetenskapsbeoefening in die Weste tot stand gekom het, vergelyk met ’n geloof in geeste. Binne die kulturele relativisme is alles gelyk, fisika of bygeloof, maar jou gesonde verstand sê vir jou dat die een tog iewers “hoër as” die ander geskat moet word. Ook kan partikel-teorie aangewend word om kernkragsentrales te bou, wat veral Europese lande van al hul elektrisiteit voorsien. Indien daar iewers voorvadergeeste is wat die ligte laat brand, moet jy my asseblief sê. Van die ekstreme afrikaniste postuleer die bestaan van ’n Afrika wiskunde, wat te herlei is na redelik eenvoudige maniere van objekte te tel, ens. Om elementêre rekene wat enige laerskoolkind kan bemeester gelyk te stel met die differensiaal- en integraalrekening wat Leibniz en Newton afsonderlik in die sewentiende eeu geformuleer het, asook ander verbysterende en geniale ontdekkings sedertdien in die wiskunde, maar ook op ander gebiede soos die fisika, biologie, sterrekunde, ens., ens., spreek nie net van naïwiteit nie, maar berus op ’n fundamentalistiese begrip van kennis. Myns insiens lei kulturele relativisme altyd tot fundamentalisme, want het die Pous nie binne die relativisme gelyk dat die son om die aarde draai eerder as Galileo wat beweer dat die aarde om die son wentel nie? Binne ons konteks is die “kennis” van die sangoma dan ewe geldig as dié van Newton of Einstein, want daar is geen kriteria om tussen die twee te besluit nie.

’n Voorbeeld van kulturele relativisme wat lei tot fundamentalisme is die steun wat die Franse filosoof, Michel Foucault, aan die Imam Khomeini toegesê het aan die beginstadium van die Iranese rewolusie. Foucault het die strengheid van die Westerse tradisie, die kille blik van die eksamen of eksaminering, hetsy in sy mediese vorm, hetsy in sy opvoedkundige manifestasies, gekritiseer en sodoende ’n relativisme gevestig waarbinne alle kennisvorme ewe geldig is – ook dié van godsdienstige fanatici en samelewings uit die ystertydperk.

Deel van my huidige skepsis oor kulturele relativisme is gemik teen die postmodernisme, dus sou dit verkeerd wees om dit as “rassisme” te sien, want dan is ek ook rassisties jeens die dominante filosofiese en intellektuele tradisie in die Weste wat hierdie relativisme geponeer het. Trouens, Afrikanisme is in daardie sin ook ’n Westerse ideologie omdat dit Afrika verstaan vanuit hierdie relativisme, en in samehang daarmee. Dit is uiters interessant hoe Afrikaniste binne ons eie konteks ’n “gemengde diskoers” bedryf van nostalgie oor verlore tradisies, pan-Afrikanistiese politiek en modieuse Westerse selftwyfel soos geformuleer deur beide die Franse skool wat van Lévi-Strauss afstam en die Amerikaanse skool wat terug te voer is na Boas, die leermeester van Margaret Mead.

By sy onlangse besoek aan Suid-Afrika, het ’n ander Franse denker, Régis Debray, gesê dat “om vandag ’n rewolusionêr te wees, moet jy iets van ’n tradisionalis wees”, en hiermee is ek dit roerend eens. Die geveg om Afrikaans te behou is ’n onderdeel van die groter stryd om ’n mens se tradisie te red van die dubbele aanslag van relativisme en fundamentalisme. Hoewel PRAAG van plan is om ’n konferensie te reël oor die Afrika-renaissance waar ons graag die leidende denkers van dié beweging wil vra om aan ons te verduidelik presies waaroor dit gaan, is my voorlopige siening daarvan toenemend negatief, want die onderliggende fundamentalistiese inslag is duidelik. Dit gaan om ’n “terugkeer na die oorsprong”, ’n herontdekking van die “verlore Afrika”, en ’n gepaardgaande verwerping van verligte denke in die Westerse sin.

In my toespraak verlede maand aan die RAU tydens die bespreking oor “Die toekoms van Afrikaans” (sien http://www.praag.org onder die rubriek “opstelle”) het ek na die volgende aanhaling uit N.P. van Wyk Louw verwys, wat die verhouding van Afrikaans teenoor beide die Weste en Afrika só opsom:

 

        “Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié

twee 

        bronne; dit vorm ’n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – die soms nog so ónhelder Afrika; hulle is albei

groot

         magte, en wat daar groots aan hulle verenig kan ontspruit – dít is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.” (Louw, N.P. van Wyk. “Laat ons nie roem nie” in

Versamelde prosa 2 

      Kaapstad: Human & Rousseau, 1986, bl. 182.)

Die opvatting van ’n brugtaal tussen Afrika en die Weste is interessant, ook in ’n konseptuele sin. Anders as Kant, of enige kontemporêre Westerse relativis, het ons immers ervaring van Afrika, en ons afkeer aan sekere elemente van tradisionele Afrika kultuur, soos byvoorbeeld dit wat met toorkuns te make het, asook die vervolging van hekse en towenaars, die verklaring van natuurverskynsels met verwysing na magiese denkbeelde, ens., spruit uit ons ervaring. Tydens die politieke stryd gedurende die hervormingsperiode wat uitgeloop het op die 1994-verkiesing, is ongeveer 400 mense gedood in halssnoermoorde wat myns insiens ’n vorm van ritualistiese moord was. ’n Bekende voorstander van die Afrika renaissance, prof. Nthuli, het onlangs verduidelik dat die konsep “halssnoer” ’n belangrike rol in Zoeloe rites speel, veral tydens die huwelik, en hy het vertel hoe al die jongmeisies onder Cesthwayo uitgemoor is omdat een van hulle teenoor die ou krygers aan wie hulle gegee is na ’n oorwinning, gesê het, “die halssnoer pas nie”.

Myns insiens verdien die manier waarop tradisionele Afrika gebruike en konsepte inspeel op ons huidige werklikheid veel meer aandag. Ek wou mense prikkel om oor hierdie kwessie te begin dink. Daar is ’n sekere koloniale opvatting wat sou wou hê dat swartmense in Suid-Afrika een en almal ’n tabula rasa is wat na willekeur opgevul kan word met Westerse (Engelse) kultuur. Meer en meer is dit egter duidelik dat hierdie ’n naïewe en skadelike gedagte is, omdat die vervreemding van swartmense wat hulle artikuleer as ’n ervaring van “rassisme”, regstreeks hieraan verbind is.

O ja, rassisme het deesdae in Suid-Afrika so ’n breë betekenis, soos ook geblyk het by die Konferensie oor Rassisme, dat die mees verregse AWB-ondersteuner saam met die mees verligte persoon wat hom bloot verset teen die absolutisme van “alle wittes is rassiste” geklassifiseer word as laakbare “rassiste”. Die Menseregtekommissie se pseudo-Freudiaanse geloof dat “die ontkenning van rassisme die grootste aanduiding van rassisme is by enige blanke” maak deel uit van hierdie stereotipe van “die witte” of “die blanke” wat tans by ons gedy.

In die goeie ou eurosentriese tradisie gaan ek my nie aan enige beskuldiging van kettery steur nie, en bloot hierdie kwessies probeer deurdink ten einde nader aan ’n oplossing vir Suid-Afrika se probleme te probeer kom. Niks is vir my heilig nie, nie die konsep “rassisme” nie, en ook nie eens “demokrasie” nie. Dit is vir my die toppunt van kolonialisme om te dink dat indien demokrasie ’n aanvaarbare politieke stelsel in Wes-Europa en Noord-Amerika is, dit ook noodwendig die beste oplossing is vir Afrika, en vir Suid-Afrika. Onthou: Hitler het via die stembus, en daarom “demokraties” aan bewind gekom. So ook Robert Mugabe. Universele stemreg is geen waarborg vir ’n rasionele en menslike stelsel nie, soos ons by die dag in Suid-Afrika ontdek. Dit nou tersyde, want die huidige onderwerp is steeds kultuurverskille.

Afrikaans is daarom, en hier herhaal ek bloot Van Wyk Louw se gedagte, ’n “derde term” wat ontkom aan die digotomie Afrika/die Weste. Afrikaans is vir my modernisme, wat reëlreg staan teenoor die pre-modernisme van tradisionele Afrika. Natuurlik is tradisionele Afrika vir altyd verander deur die kontak met Westerse kultuur, en is elemente daarvan vir goed verlore, maar die Rousseauistise ophemeling van die tradisionele kultuur as synde “meer menslik, minder kil”, ens., waarvan daar ook in jou brief sprake is, is myns insiens gegrond op ’n illusie. Veral onder die gemilitariseerde groepe kusbewoners soos die Xhosas en Zoeloes was daar dikwels tirannieke opperhoofde soos Tsjaka en Dingaan. Daar is een weergawe van Tsjaka se reaksie op sy moeder, Nandi, se dood as sou hy omstanders wat nie hard genoeg gehuil het nie, voor die voet laat doodmaak het. Ook die opvolging van opperhoofde het by wyse van sluipmoorde geskied, en dit sou ’n interessante studie wees om te bepaal watter eienskappe ’n leier nodig het om onder sulke omstandighede sy posisie te bekom en te behou. Voeg daarby die werklik onmenslike behandeling van vroue, en die prentjie is allermins die idille wat vandag om ideologiese redes aan ons voorgehou word.

Jou betoog gaan grotendeels uit van die gedagte dat alle menslike kultuur ’n gemene basis het en dat almal op een of ander manier kousale logika gebruik. Natuurlik is alle mense biologies verwant en diegene wat hoegenaamd geen kontak met hul werklikheid kon bewerkstellig nie, het lank reeds uitgesterf weens honger of is uitgeroei deur hul vyande. As ’n mens pyn voel, spreek dit vanself dat jy ’n oorsaak daarvoor gaan soek, maar as jou oë nie die mes of doring kan sien wat jou steek nie, eindig die ooreenkoms tussen primitiewe kousaliteit en wetenskaplike kousaliteit presies daar. Om jou pyn toe te skryf aan ’n fisiologiese proses wat uitgaan vanaf ’n baie presiese begrip van die molekulêre werking van liggaamselle en om dit toe te skryf aan ’n mistieke proses van beïnvloeding deur voorvadergeeste is nie twee benaderings binne ’n omringende “wetenskap” nie; die een is wetenskap en die ander nie.

Gerrit Brand is kennelik ’n groter kenner as ek op teologiese gebied, en ek erken my tipering van tradisionele Bantoegodsdiens as politeïsme is nie bevredigend nie, maar watter ander term moet ons dan gebruik, want blykbaar is “animisme” ook nie aanvaarbaar nie? Ek is egter bevrees dat monoteïsme binne die Joods-Christelike tradisie ’n baie spesifieke betekenis het, en daar is baie interessante teorieë oor die ontstaan daarvan tydens die Joodse ballingskap in Babilonië, en ek dink nie die blote bestaan van ’n Opperwese binne ’n bepaalde kultuur is noodwendig daarmee vergelykbaar nie.

Ek stem beslis nie saam dat Afrikaners blote besoekers in Suid-Afrika is nie. Trouens, op ’n sekere manier dink ek dat ons ’n gepriviligeerde aanspraak op Suid-Afrika het as ons vaderland op ’n manier wat Afrikaniste nie het nie, aangesien hulle hulself beroep op ’n kontinentale of “swart” identiteit wat ewe seer in die Kongo of Gaboen uitgeleef kan word, terwyl ons taal en kultuur onlosmaaklik verbind is aan Suid-Afrika en Namibië. Afrikaanssprekende bruinmense het reeds “eerste nasie”-status by die Verenigde Nasies verkry, en die afstammelinge van die KhoiSan kan ewe seer die ander groepe van watter velkleur ook al, beskuldig van “setlaar”-status. Dit is egter myns insiens ’n steriele argument, en die ooreenkoms daarvan met die ideologie van verregse groepe wat “Europa vir die blanke Europeër” wil opeis, is nie toevallig nie.

Ek is bevrees dat Gerrit Brand, wat my van een of ander vorm van etnosentrisme wil beskuldig, self baie soos ’n Europeër dink, al hou hy nie van my breë onderskeid tussen “Indo-Europeërs” en “tradisionele Afrikane” nie. (Ek dink dit is duidelik dat dit geen rasseonderskeid is nie, maar eerder taalkundig en kultureel, “Indo-Europees” synde ’n kategorie in die taalkunde.) Kulturele relativisme is ’n salon-filosofie wat as luukse in Europa verdra kan word; na alles stel Europeërs die reëls vas in hul eie land en as deel van die Europese Unie. By ons sit ons met die probleem dat nie net ons taal bedreig word nie, maar ook ons denkwyse. En ander besluit vir ons watter reëls sal geld, wat ons kinders op skool sal leer, wat op TV uitgesaai sal word, ens., ens.

Lévi-Strauss maak iewers die punt aangaande die Inoeïet dat hulle kultuur oor ’n “opening” beskik het wat dit koloniseerbaar gemaak het. In ’n sekere sin beskik die Afrikaanse kultuur ook oor so ’n opening, want die Calvinistiese tradisie met sy klem op skuld en erfsonde maak dit maklik manipuleerbaar en vernietigbaar indien daar op hierdie element gefokus word. Die manier waarop sekere Afrikaners aanhoudend besig is met ’n emaskulerende aanblaas van skuld by die breë bevolking toon dat die Afrikaanse kultuur geen groter vyand het as diegene in ons midde nie. Ons gebrek aan ’n metropool stel ons insgelyks weerloos teenoor ’n gewetenlose teenstander wat sou kon besluit om ons finaal uit te wis. Nie ’n enkele Europese moondheid was bereid om die Boere republieke selfs net van logistieke hulp te voorsien gedurende die Tweede Vryheidsoorlog teen Engeland nie. Die kontras tussen die Britse ontsteltenis onlangs na die moord op vier blanke Zimbabwiërs wat natuurlik Engelssprekend was, en die volslae stilte in die Weste oor die huidige plaasmoorde waarin 900 boere in Suid-Afrika reeds dood is, stem ’n mens ook tot nadenke.

Ek is geensins besig om die Westerse geskiedenis te probeer voorhou as per se voortreflik nie, en natuurlik was daar bloedige oorloë, volksmoord onder die Nazi’s, Leopold se skrikbewind in die Kongo waar kinders se hande afgesny is as hul ouers nie genoeg rubber getap het nie, ens. Enige logika kan wantoegepas word, maar ek dink ons sou moet erken dat daar wel in die Weste vooruitgang was vanaf ’n primitiewe stamtoestand tot die beskawing met sy tegnologiese wondere wat ons vandag geniet, en waartoe nie-Westerlinge ook toegang het. “Menseregte” was ’n Westerse uitvindsel, en dit was ook hulle wat slawerny eerste afgeskaf het. Die relativistiese ontkenning van vooruitgang lei daartoe dat daar min te kies is tussen die lewe in ’n modderhut met towerkragte as jou enigste vorm van verklaring vir die meer komplekse elemente in jou werklikheid, en die verfynde en verwikkelde omgang met begrippe wat die moderne Westerse beskawing kenmerk en waarin Afrikaans ook, sy dit dan geografies op die periferie, deelagtig is. Trouens, in ’n sekere sin het ons ’n “Afrikaanse beskawing” geskep, en is ons besig om dit te verdedig, soos altyd, teen ’n tweeledige aanval vanuit die metropolitaanse empaaier en dit wat ek baie polities onkorrek, moet ek erken, ’n “neo-primitiwisme” genoem het, en wat plaaslik teen ons geloods word ten einde ons taal, letterkunde, musiek, en lewenswyse af te breek en in te lyf by die nuwe kultuur wat geskep moet word by wyse van ’n terugkeer na die oorsprong, en ’n herwaardering van ’n pre-wetenskaplike oertoestand.

Die waarde van Afrikaans binne die Suid-Afrikaanse verband is meer as net folklore of letterkunde of “kultuur” in die eng sin van die woord. Dit wil my voorkom asof Afrikaans ook draer kan wees van ’n moderniseringsproses, juis omdat dit begrip en toleransie het vir pre-moderne mondelinge kulture. Engels gee mense net toegang tot die moderne by wyse van ’n uitwissing van die eie kultuur en ’n kolonisering wat onder die huidige omstandighede in elk geval meer en meer onhaalbaar lyk. Afrikaans het nog nooit klem gelê op die kolonisering van ander nie, maar tree eerder as ’n soort eksemplaar van modernisering op binne ’n Afrikaverband. Indien Afrika ooit aan sy huidige middeleeuse toestand met oorloë, volksmoord, korrupsie en verval – dink maar aan die Economist se “hopelose kontinent”-tipering wat op grond van die feite nie onbillik is nie – gaan ontsnap, sal dit ’n versnelde modernisering moet deurmaak soos wat die Afrikaanse kultuur sedert die einde van die negentiende eeu ondervind het. Hierdie proses kan net binne, en met behulp van, die Afrikatale self plaasvind.

Omdat ek redelik pessimisties is dat so ’n proses wel binne die afsienbare toekoms op dreef gaan kom, moet ons eerste prioriteit die onverskrokke verdediging van ons beskawing-in-die-kleine wees. Afrikaans is nie maar net ’n taal tussen ander nie, maar die draer van daardie kleiner beskawing waaraan ons steeds elke dag skep, en waartoe enigeen toegang het. Die vrugte van daardie beskawing is, hoe ontoereikend en gering ook al, daar vir almal om te sien wat Suid-Afrika besoek, en staan in skrille kontras teenoor die post-koloniale eindspel – the post-colonial endgame, daar is nou ’n begrip wat jy kan terugstuur na die empaaier – wat oor die afgelope veertig jaar in Afrika noord van die Limpopo plaasgevind het.

Ja, ek neem sekerlik ’n risiko om dinge oor so ’n breë boeg te gooi en die heersende opvatting van kulturele relativisme uit te daag, maar dan lyk dit nie asof ons vorentoe enige keuse gaan hê nie. Daarvoor is die proses waarin ons ons bevind eenvoudig te radikaal.

Die beskuldiging van rassisme wat daar teen my gemaak word, is maar net nog ’n variasie van die etiket van “regs” wat daar ’n jaar gelede na my kant geslinger is omdat ek dit durf waag het om te argumenteer ten gunste van gelyke behandeling van Afrikaans teenoor ander tale in Suid-Afrika. My stuk oor “Sangomas of Newton” behandel duidelik ’n kenteoretiese probleem met radikale politieke implikasies in Suid-Afrika. By die Rassismekonferensie, waarop ons regering terloops ses miljoen rand geblaas het, was dit tydens die besprekingsessies duidelik dat niemand “rassisme” kon definieer nie, en ek meen dat Gerrit Brand en ander wat probeer om my met die rassismekwas by te kom eers twee definisies sal moet verskaf, te wete:          1) wat is “ras”? en 2) wat is “rassisme”? en daarna moet aandui hoe ek my skuldig maak aan dié twee begrippe afkomstig uit die negentiende-eeuse Westerse biologie.

Om iemand in die huidige Suid-Afrika as ’n “rassis” te brandmerk, het presies dieselfde vorm as beskuldigings van heksery, omdat dit ’n aanklag is wat onbewysbaar is en daarom is die teendeel (onskuld daaraan) ook onbewysbaar. In die tradisionele Bantoekulture is hekse of towenaars gewoonlik aan ’n marteldood onderwerp ná so ’n beskuldiging. Hoewel ek myself in die laaste instansie as ’n Afrikaan beskou, is ek nie bereid om my identifikasie met Afrika so ver te voer dat ek vrywillig na die brandstapel gaan stap ná die sangoma haar vinger na my gewys het nie.

Hierdie stuk het in 2000 op LitNet verskyn.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.