Die Kaukasus, energiebrandpunt

Deel op

Image19:14:34 Terwyl die oë van die wêreld op Beijing en die indrukwekkende aanbieding van die Olimpiese Spele gerig was, het Anglo-Amerikaanse belange in die Kaukasus bloedneus gekry. Dié streek is van toenemende belang in globale energiepolitiek en Rusland het pas gewys dat Westerse inmenging in sy agterplaas al hoe minder geduld sal word.

Deel op
Die huidige brandpunt is natuurlik Suid-Ossetië waar Georgiese en Russiese troepe mekaar die stryd aangesê het. Suid-Ossetië lê aan die suidekant van die Kaukasusgebergte in Georgië, terwyl Noord-Ossetië in Rusland geleë is.

'n Dag voor die Spele, op 7 Augustus, en nadat albei partye tot 'n skietstaking ingestem het, het Georgië egter 'n verrassingsaanval teen die Russiese besettingsmag in Suid-Ossetië geloods. Rusland, wat volgens Jane's meer as 600 000 troepe in die gebied versamel het, het hulle pantsers op Tshkinvali gekonsentreer en ook die dorp Gori gebombardeer.

Na wat berig word, kon Georgië se skamele 26 000 troepe nie die mas opkom nie en het Georgië opnuut 'n skietstilstand aangevra. Die meeste inwoners in Suid-Ossetië, net soos dié in die ander omstrede gebied in Georgië, Abkhasië, is draers van Russiese paspoorte wat volgens die Russiese president Dmitri Medwedef meer as genoeg rede vir Russiese ingryping verskaf. In 2006 het die inwoners van Suid-Ossetië in 'n nie-amptelike referendum tewens gestem om onafhanklik van Georgië te wees.

Josef Stalin, wie se vader glo uit dié gebied afkomstig was, het Ossetië in 1922 in twee verdeel tussen Rusland en Georgië. Die verdeling is deur inwoners uit die staanspoor as kunsmatig ervaar. Suid-Ossetië het in 1989 'n geleentheid gesien om weer met hul noordelike landgenote te verenig, maar hul pogings is deur die Georgiese nasionalis Zviad Gamsakhurdia gefnuik. Ná die ineenstorting van die ou Sowjet-Unie het die Kaukasus oor die algemeen 'n oplewing van nasionalisme beleef.

In Tsjetsjnië, net soos Georgië, wou inwoners graag onafhanklik van hul eertydse imperiale heerser staan, maar in Suid-Ossetië het plaaslike leiers hul verbintenis aan die Russiese Federasie herbevestig. Nadat Mikheil Saakashvili vir Eduard Shevardnadze in 2003 ontsetel het om Georgië onder NAVO en Amerikaanse invloed te bring, het die jong Amerikaans geskoolde president belowe om Suid-Ossetië en Abkhasië weer uit Rusland se greep te dwing.

 
Benewens die VSA het Israel ook sy militêre kennis ter beskikking van Georgiese veiligheidsmagte gestel. Alle pogings blyk tans vrugteloos te gewees het. Volgens Westerse nuusagentskappe het die Russe ook 'n suksesvolle kuberaanslag teen Georgië geloods in antwoord op die Georgiese aanval.
 
Reuters het intussen berig dat Russiese straalvegters die Bakoe-Tsibilisi-Ceyhan-pyplyn aangeval het, maar misluk het, volgens Georgië se minister van ekonomiese ontwikkeling, Ekaterina Sharashidze. Die pyplyn word deur BP bedryf. Daar was egter nog geen onafhanklike bevestiging van die bewering nie. Die oliepyplyn verteenwoordig ongetwyfeld die kern wat die huidige vyandelikhede betref. Die BTC-pyplyn dra ru-olie van Asië na die Weste en is van meet af aan gesien as 'n Westerse poging om olie onafhanklik van Rusland na die Turkse hawe van Ceyhan te vervoer.

Die VSA het die BTC-pyplyn befonds teen 'n bedrag van $3,6 miljard en Georgië verdien ongeveer $60 miljoen jaarliks aan transitofooie daaruit. Rusland is gretig om olieuitvoere na Suid-Asië te laat toeneem en daarom is Turkye se Ceyhan-hawe vir die Russe ook aanloklik. Die Russe maak op die oomblik gebruik van die Golf van Finland en die Finse koerant, die Helsingin Sanomat, het in 2003 berig dat olietenkervervoer na verwagting sou verdriedubbel omdat Rusland sy massiewe Primorsk-olieterminaal in die noorde van St. Petersburg verder sou uitbrei.

Rusland beheer ook Georgië se hoofenergiemaatskappy en wil Georgië voorts gebruik as 'n sentrale energieverpreidingspunt vir die streek. Rusland bedryf tans die Inguri-hidroelektriesekragstasie op die Abkhasies-Georgiese grens. Maar bowenal moet daar vir Kazakstan 'n manier gevind word om sy aansienlike oliereserwes by klante in Suid-Asië te kry. En Georgië verteenwoordig die kortste pad vir daardie uitvoere. Kosowo, dus, is nog lank nie vergete in Russiese gemoedere nie.

гайковертДанильченко Юрий Брониславович Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.