Belangrike perskonferensie deur Europese regse partye gehou

Deel op
Leiers by gister se perskonferensie, van links na regs: Matteo SALVINI, Lega Nord, Italië;  Harald VILIMSKY, FPO, Oostenryk; Marine LE PEN, Front National, Frankryk, Geert WILDERS, PVV, Nederland; Gerolf ANNEMANS, Vlaams Belang, België
Leiers by gister se perskonferensie, van links na regs: Matteo SALVINI, Lega Nord, Italië; Harald VILIMSKY, FPO, Oostenryk; Marine LE PEN, Front National, Frankryk; Geert WILDERS, PVV, Nederland; Onbekende persoon; Gerolf ANNEMANS, Vlaams Belang, België

Gister het ‘n belangrike perskonferensie in die Europese Parlement te Straatsburg, Frankryk, plaasgevind waartydens vyf regse partye uit vyf lande die vrae van joernaliste beantwoord het. Die leidende figuur tydens die konferensie was Madame Marine Le Pen van die Front National wat alle vrae op Frans beantwoord het, terwyl Geert Wilders van die Nederlandse PVV verkies het om Engels te praat. (Sien volledige video hier onder.) Die Italiaanse en Oostenrykse verteenwoordigers het onderskeidelik Italiaans en Duits gepraat terwyl die voorsitter van die Vlaams Belang vrae op Nederlands beantwoord het.

Die vyf partye uit vyf lande behoort aan die “Europese Alliansie vir Vryheid”. Op die webblad van die Alliansie word die Alliansie só beskryf:

Die Europese Alliansie vir Vryheid (EAV) is ‘n pan-Europese allianse van Lede van die Europese Parlement, tesame met nasionale en streeksparlemtariërs en partye, wat onder ‘n politieke platform verenig is wat nasionale vryheid en demokrasie voorstaan in teenstelling met gesentraliseerde, supranasionale beheer.

Die EAV is een van elf “Europese partye op ‘n Europese vlak” en word gedeeltelik deur die Europese Parlement befonds.

Die party hou hom besig met kwessies aangaande vryheid en demokrasie in die EU en die EAV is nie werksaam binne ‘n Links-Regs- politieke paradigma nie terwyl sy lede vanuit ‘n wye politieke spektrum afkomstig is. Op die nasionale vlak, daarom, onderskryf EAV-lede nie noodwendig die politiek en oortuigings van ander lede van die Alliansie nie.

Die EAV kort nog twee lande en twee ander partye vir ‘n minimum van sewe om as groepering binne die Europese Parlement erken te word. Gister was die Sweedse Demokrate, wat ook as potensiële lid van die Alliansie genoem word, by die perskonferensie afwesig.

Volgens Marine Le Pen bestaan daar “verskille” tussen die Alliansie en die Hongaarse nasionalistiese party, Jobbik, sodat dié party nie in hul geledere toelaatbaar is nie. Dít het sy geantwoord op ‘n vraag van ‘n Hongaarse joernaliste in die saal.

Dieselfde joernaliste het aan haar gevra of die Alliansie nie bloot Eurofobies maar “Russofiel” is nie en daarom die Europese Unie ondergeskik aan Russiese belange wil stel nie. Hierop het Marine Le Pen geantwoord dat dit “dom” (stupide op Frans) van die Europese Unie is om ‘n anti-Russiese standpunt oor byvoorbeeld die Oekraïne in te neem, asook om Rusland “in die arms van China te dryf”. Wat haar betref, behoort Frankryk “goeie verhoudings met alle groot lande (grands pays) na te streef, waarvan Rusland ongetwyfeld een is”.

Hier is die video, in Frans, Engels, Nederlands, Duits en Italiaans.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.