Platinastakings laat ekonomie in eerste kwartaal krimp

Deel op
Stakende platinamynwerkers van Amcu
Stakende platinamynwerkers van Amcu

Die stakings by platinamyne het nie net die grootste daling in mynbou-aktiwiteit in vyftig jaar veroorsaak nie, maar ook die hele Suid-Afrikaanse ekonomie met 0,6 persent in die eerste kwartaal laat daal. Die inkrimping in mynbou- en steengroef-aktiwiteit is 24,7 persent.

Sommige ekonome voorspel reeds ‘n resessie aangesien die dispuut oor lone in die platinumgordel nog glad nie verby is nie. Ná 18 weke, sal dit ook die land se ekonomiese uitset in die tweede kwartaal raak, terwyl somminge myne in Rustenburg reeds in April en Mei feitlik heeltemal tot stilstand gedwing is. Dit beteken dat die statistiek vir die tweede kwartaal ook teleurstellend gaan wees.

Volgens gangbare ekonomiese definisies, staan twee agtereenvolgende kwartale van negatiewe groei as ‘n resessie bekend. Die kanse is dus nou goed dat Suid-Afrika aan die einde van dié kwartaal amptelik in ‘n resessie sal verkeer. Die vorige keer toe die land hom in dié situasie bevind het, was tydens die globale finansiële krisis in 2009.

In die vierdie kwartaal van verlede jaar het die ekonomie nog met 3,8% gegroei.

Met die huidige trae en negatiewe groeikoers, is daar geen moontlikheid dat die werkloosheidsyfer sal verbeter nie. Minder ekonomiese aktiwiteit beteken ook dat die invordering van belastings getref sal word, wat weer die begrotingstekort gaan verhoog.

Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) vereis ‘n groeikoers van 5% per jaar ten einde werkloosheid teen die jaar 2030 tot minder as 10% te verlaag.

Die hoofekonoom van Econometrix, Azar Jammine meen egter dat ‘n resessie slegs moontlik is indien die plantinastaking vir die res van die jaar duur. Indien dit gou beëindig word, kan die land nog ‘n resessie vermy.

Volgens Johan Theron, ‘n woordvoerder van Impala Platinum, sal dit ongeveer drie maande neem om die produksievlakke van vóór die staking te bereik indien die staking sou ophou.

Die swak groeisyfers vir die eerste kwartaal het die reeds die Reserwebank genoop om sy vooruitskatting vir ekonomiese groei van 2,6% tot 2,1% vir vanjaar aan te pas.

Hierdie syfers ondersteun ook die Reserwebank se besluit om rentekoerse voorlopig onveranderd te laat.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.